SKOOLPROJEK
1602: STIGTING VAN DIE VOC
Gedurende die sestiende eeu het Nederland as 'n sterk handelsmoondheid na vore getree en daarin geslaag om regstreeks met die Ooste met sy speserye en ander kosbare handelsartikels handel te dryf. Ten einde die onderlinge wedywering tussen die tal van handelskompanjies wat só ontstaan het, uit te skakel, het daar in 1602, veral deur bemiddeling van die bekwame staatsman, Johan van Olderbarnevelt, 'n groot verenigde handelsliggaam tot stand gekom – die 'Generale Vereenighde Nederlandsche G'octroyeerde Oost-indische Compagnie', kortweg bekend as die VOC.
Die State-Generaal het aan die VOC 'n monopolie verleen om handel te dryf in die gebied vanaf die Kaap die Goeie Hoop ooswaarts tot by die straat van Magellaan. Die Hoogste gesag van die VOC het by die Here XVII berus en in die Ooste was daar 'n sentrale bestuur, nl die Goewerneur-Generaal en sy Raad van Indië, gesetel in Batavia op die eiland van Java.
Die VOC het uitgebreide magte besit: hy het oor 'n eie leër, vloot en vestingwerke beskik, amptenare aangestel, verdrae met inheemse vorste gesluit en sy eie munt geslaan. Weens sy strategiese ligging is daar in 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop 'n verversingstasie gestig vir die skepe op die lang tog na en van die Ooste. Dit het tot die vestiging van die Christelike-westerse kultuur en ontwikkeling van 'n Blanke volk in die suidpunt van Afrika gelei.
Weens die monopolistiese beleid en jag na wins is die kolonies uitgebuit. Aan die Kaap het dit daartoe gelei dat die koloniste hulle tot die veeteelt gewend en geleidelik al hoe dieper die binneland in getrek het. Die Afrikanervolk het 'n volk van boere geword en nie van handelaars nie. Nogtans moet daar onthou word dat die VOC verantwoordelik was vir die oorplanting van die Calvinistiese godsdiens, die Nederlandse kultuur en beskawing aan die Kaap.