ONS LAND EN SY WATERSITUASIE

SKOOLPROJEK

RIVIERE, DAMME, WATERSKEMAS EN BESOEDELING

Hoewel die toestand van ons riviere veral die afgelope tien jaar volgens wêreldstandaarde glad nie juis indrukwekkend is nie, is water steeds belangrik om ons droë land wat dikwels ernstige waterskaarste as gevolg van droogtes ondervind.

Die grootste deel van Suid-Afrika is warm en droog. Net die smal strook langs die Suid- en Ooskus is taamlik waterryk. Binnelands is die reënval laag. Elke jaar kry Suid-Afrika net sowat die helfte van die gemiddelde reënval van ander lande.

Die afgelope seisoen tussen 2010 en 2011 waarin die reënval egter buitengewoon hoog teenoor vorige baie jare was, was daar net enkele streke wat groot en ernstige droogtes ondervind het. Die Kaapse gebied in die omgewing van Knysna deur George en Mosselbaai was onder streng waterbeperkings en vir nagenoeg 2 jaar mog geen tuinslang eers gebruik word nie as gevolg van die watertekort. Noudat die winter van 2011 begin aanbreek blyk dit asof daardie omgewing, wat 'n winterreënvalstreek is, heelwat hoër reënval sal ondervind met uitstekende metings van gemiddeld 120 ml in kort tye soos weer die laaste naweek in Meimaand.

Sowat 90 persent van die reën wat val bereik nooit die riviere nie maar verdamp in die atmosfeer of word deur die droë grond opgeneem. Hoewel water dikwels skaars is, is daar gedurig 'n aanvraag daarvoor omdat die land se bevolking ontstellend vinnig toeneem. Vir 'n aantal jare het die staat spesiale projekte aangepak om meer water vir die bevolking te voorsien. Die meeste van hierdie water het uit riviere, damme en opgaarskemas gekom. Maar ons bronne is nie onuitputlik nie wat dit bejammerenswaardig maak dat die regering geen moeite doen om bestaande bronne skoon en onbesoedeld te hou nie.

ONS RIVIERE
Die Oranjerivier is Suid-Afrika se grootste rivier en dreineer byna die helfte van die land. Dit ontspring in die Malutiberge in Lesotho en vloei sowat 2 250 kolimeter weswaarts totdat dit in die Atlantiese Oseaan uitmond. Dit loop hoofsaaklik deur droë dele maar sy oewers wat deur sy water besproei word, is ruig begroei met natuurlik plante en aangeplante gewasse.

Wes van Upington vloei die Oranjerivier deur die Augrabieskloof en vorm een van die wêreld se grootste watervalle. Nader aan die see vloei dit deur sand want ryk is aan halfedelstene. Diamante word by die riviermonding in die see net langs die kus aangetref.

Die Vaalrivier is die Oranje se grootste sytak. Dit ontspring teen die westelike hange van die Drakensberge en vloei suidweswaarts, waar dit die grens vorm tussen Oos-Transvaal, Transvaal en die Noord-Transvaal aan die een kant en die Vrystaat aan die ander kant. Meer as 1 000 kilometer van sy oorsprong af sluit dit by die Oranje aan. Op pad word daar elektrisiteit van sy water opgewek en landerye word besproei.

Die totale afloop van al ons riviere is gelyk aan dié van die Rynvrivier by Rotterdam, en net die helfte soveel as dié van die Zambesi. Ons moet dus leer om al ons natuurlike waterbronne beter te bewaar.

Na die Vaal- en Oranjerivier is die Tugelarivier ons belangrikste rivier. Dit ontspring op die oostelike hange van die Drakensberge by Mont-Aux-Sources en vloei 560 kilometer na die Indiese Oseaan. Sy water word benut  vir kragopwekking en besproeiing.

Ander belangrike riviere is die Limpopo-, Olifants- (Wes-Kaap), en Olifants- (wat die grens vorm tussen Oos-Transvaal en die Noord-Transvaal), Groot Berg-, Breede-, Gourits-, Komati- en Phongolorivier.

Heelwat dorpe en boere het ook privaat besproeiingskemas.

STAATSWATERPROJEKTE
Die Oranjerivier-ontwikkelingsprojek is die grootste waterontwikkelingsprojek wat nog in Suid-Afrika onderneem is. Daar is in 1962 daarmee begin om 184 000 hektaar in die Oranjeriviervallei te besproei en, deur die onderskeie tonnels en kanale, water vir nog 76 000 hektaar in die Sondags- en Groot Visriviervallei te verskaf. Die skema sluit in:
Die Hendrik Verwoerddam (nou genoem die Gariepdam) wat in 1971 voltooi is teen 'n koste van R85 miljoen, en die land se grootste opgaardam is. dit kan byna 6 000 miljoen kubieke meter water hou. Dit reguleer die vloei na die Oranjerivier sodat daar water vir landere en vir gebruik huise beskikbaar is.  'n Hidro-elektriese skema voorsien krag aan Bloemfontein en Port Elizabeth. Die water van die Hendrik Verwoerddam word na die Vanderkloofdam 130 kilometer stroomaf in die Oranjerivier, deurgelaat. Dit hou water vir besproeiing en elektrisiteitsvoorsiening in spitstye. Hierdie dam verskaf ook water aan die Vanderkloofkanale.
Die Oranje-Visriviertonnel was vir baie jare die langste ononderbroke watertonnel in die wêreld. In 'n reusepyp van 5,35 meter neem dit water 82,8 kilometer ver van die Oranjerivier na die Groot Visrivier.
Die Vis-Sondagsrivierkanaalprojek neem van die Oranjerivier se water vanaf die Groot Visriviervallei na die sitrusboorde van die Sondagsriviervallei en Port Elizabeth. Dié projek bestaan uit kanale van 90 Kilometer en die Cookhousetonnel wat vyf meter breed en 13 kilometer lank is.
Water van
Welbedacht-Bloemfonteinprojek op die Caledonrivier  voorsien Bloemfontein van water.
Die Vaaldam, die Vaalrivierkeerdam, die Bloemhofdam en die Vaalhartskeermuur is ook deel van die Vaalrivierskemas vir die opgaan van water en besproeiing. Die Vaal- en Tugelarivier is verbind met die Drakensbergprojek wat gepompte water opgaar en water verskaf. Dit lewer ook elektrisiteit op spitstye en voorsien water aan die Vaalrivierkom.
Die Bolandprojek sluit die Theewaterskloofdam in die Riviersonderendvallei buite Villiersdorp in. Dit is verbind met die opvanggebiede van die Berg- en Eersterivier deur tonnels wat 31 kilometer lank is. Dit verskaf besproeiing aan 'n belangrike vrugteproduserende gebied en lewer selfs water aan Kaapstad.
Die Palmietrivierskema, waarmee in die 1980's begin is, is 'n ander belangrike wateropgaar- en hidro-elektriese projek in die Wes-Kaap.

BESOEDELING VAN ONS RIVIERE
Party kenners het in 2009 gedink dat 30 persent van ons rivierwater besoedel is. Ons kan glo dat die persentasie nou in 2011 baie hoër is want meer fabrieke en mynaanlegte het intussen ontstaan en die regering doen niks om hulle te keer om hulle chemikalieë in die riviere te stort nie. Die water word verder besoedel deur afval soos plastieksakke, blikke en papiere aangesien inwoners van meer en meer opskietende plakkerskampe die afgelope 17 jaar meesal geen ander stortingsterrein gebruik wanneer naby 'n rivier nie, en dan al hulle afval daarin stort.

Besoedeling maak visse en ander diere  wat in die water moes leef dood, en daardeur word die hele voedselketting met betrekking tot diere beïnvloed – voëls en seediere wat van vis leef word ook hierdeur geraak.

DIE EERSTE DAM
Zacharias Wagenaer het Jan van Riebeeck as kommandeur van die Kaap opgevolg en ons eerste ware dam in 1663 in Tafelberg se Varsrivier gebou. Klip- en steenoorblyfsels daarvan is in 1975 ontdek toe uitgrawings vir die fondament van die Goue Akkergebou in Kaapstad gedoen is. In die onderste wandelgang van die Goue Akker is 'n deel van die damwal bewaar en dit is 'n nasionale erfenisterrein.

DIE EERSTE KANAAL
Die land se eerste kanaal is in 1670 gebou in wat vandag Kaapstad is, deur die sakeman, meulenaar en vryburger, Wouter Cornelisz Mostert. Die klipsloot het water van die dam na die hawehoof in Tafelbaai geneem. Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie het Mostert 4 000 riksdaalders betaal. Hy het ook die Kaap se eerste watermeul gebou en 'n tenk om vars water  vir matrose van verbyvarende skepe in te bewaar.

GROOTSTE INGENIEURSONDERNEMING IN SUIDER-AFRIKA
Die Lesotho-hooglandwaterskema is sekerlik een van die grootste ingenieursondernemings in die hele Suider-Afrika, selfs groter as die Oranjerivierskema. Daar is beplan dat dit verlede jaar in 2010 die Pretoria-Witwatersrand-Vereeniging- en omringende gebiede van 63,6 kubieke meter water per sekonde sou voorsien – dit sal interessant wees om te kan vasstel of hierdie beplanning toe gerealiseer het. Dit sou die jaarlikse vloei van water na die Vaalrivierkom verdubbel en ook al Lesotho se elektriese krag voorsien.

Suid-Afrika se ongereelde reënval en droogtes kos boere en die staat miljoene rande aan oes- en veeverliese. Baie boere maak staat op besproeiing, anders sou net een tiende van die land se landbougrond bewerk kon word. 'n Deel van die besproeiing word deur die boere self voorsien as windpompe, boorgate, pompe en ander waterbronne. Tans word meer as een miljoen hektaar landbougrond besproei. Die Nasionale Waterwet van 1998 het beplan om alle waterbronne te bestuur sodat alle mense regverdige toegang tot water sal hê, en om te sorg dat water nie besoedeld of vermors word nie. Dit lyk egter nie of enige deel van hierdie wetgewing deur die huidige regering uitgevoer word nie.