DISFUNKSIONELE REGERING DIE PROBLEEM

TAFELGESPREK

Die Afrikanervolk lewe in ’n land waarin staatsbestuur, die bestuur van provinsiale sake en munisipale dienste, ernstig verval het en wesenlik disfunksioneel geraak het. Dit is ’n werklikheid wat daagliks in politieke kommentaar en nuusberigte onderstreep word. Van die hubris en uitspattige jubeling oor die Nuwe Suid-Afrika vanaf 1994-2000 het daar niks oorgebly nie. Vir die Afrikaners was die “rewolusie” onder die De Klerk-regime net slegte nuus. Vir die winsjagters, kansvatters en nuwe politieke elite in Suid-Afrika was dit die geleentheid om op elke moontlike wyse persoonlike rykdom na te jaag. Dit het deure geopen vir die koalisie tussen die ANC en sy bondgenote om die staatskas en die staat se aanskaffingsprosesse as ’n bron tot hul eie voordeel aan te wend. Kreatiewe tenderbedrog en reuse begrotingskandale het binne enkele jare die nuus oorheers. Jaarlikse ouditverslae het wanbesteding en wangedrag op alle vlakke van die regering aan die lig gebring. Die eerste groot gebeure in hierdie verhaal was die wapenskandaal wat reeds onder Nelson Mandela en Thabo Mbeki uitgebroei het. Die regsprosesse daaromheen is nog steeds nie afgehandel nie.

Die uitgerekte werksaamhede van die Zondo-kommissie het die enorme omvang van staatskaping geopenbaar; maar soos Suid-Afrika nou al uitgevind het, kom daar selde doelgerigte optrede na sulke regterlike ondersoeke. Op 23 Junie word berig dat die burgerlike organisasie wat die funksionering van die parlement dophou, genaamd die Parliamentary Monitoring Group (PMG), bevind dat die Zondo-verslag en enige ander goeie werk wat deur parlementêre komitees en kommissies gedoen word om finansiële dissipline toe te pas deur politici ondermyn word omdat hulle te bang is om die groot base aan te pak. Ons weet dat die ANC nie gretig is om sy eie senior amptenare en sy ontplooide kaders te ondersoek of aan dissiplinêre ondersoeke te onderwerp nie. Dit het reeds tydens die Zondo-kommissie se werk duidelik geblyk. Toe Cyril Ramaphosa voor die Zondo-kommissie verskyn het, het hy vrae oor die risiko’s van kaderontplooing afgemaak. Hy is daarop gewys dat skokkende inligting oor staatskaping reeds vanaf 2011 aan die lig gebring is, en hy is gevra waarom daar nie toe al ondersoek ingestel is daarna nie. Sy siniese antwoord was dat dit “onbevestigde persverslae” was waarop die ANC nie hoef te reageer nie. Blykbaar reageer die ANC ook nie op ernstige bevestigde gevalle, soos wat die Zondo-kommissie bevind het nie. Teleurstelling tree reeds in dat die Zondo-aanbevelings nie met beslistheid en energie uitgevoer word nie.

In die groot sake, soos die verdagte “reddingsplan” vir die SAL, die sistemiese korrupsie in Eskom, die probleme in die SAUK, voortslepende vrae oor PRASA, en wanbesteding deur munisipale owerhede word bitter min vordering aangeteken; soos dit ook die geval is in die wapenskandaal en die Phala-Phala insident.

Intekening op Tafelgesprek:

Stuur slegs u naam, met u voorkeur e-pos adres (vermeld asb ook die naam

van die streek, die dorp of stad waar u woon) aan die volgende adres:

Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

U inskrywing op hierdie nuusbrief is gratis. Voorsien ons asseblief van

adresse van vriende of familie (in die RSA of oorsee) wat in hierdie skrywe

mag belangstel.