ZONDO OOR KORRUPSIE EN STAATSKAPING

Toe die skokkende toestande in die land hoofstuk vir hoofstuk in die getuienis voor die Zondo-kommissie aan die lig kom, het kritiese waarnemers besef dat die omvang daarvan so groot is dat die een-man Zondo-kommissie omskep behoort te word in ’n permanente liggaam wat onder ’n paneel van regters moes staan. So ’n liggaam moes ondersteun word deur geskikte opgeleide personeel. So pas het regter Zondo hierdie gedagte self geopper. Volgens hom is daar regverdiging vir ’n permanente liggaam om korrupsie in die openbare sektor en die staat te ondersoek.

Fluitjieblasers sou hulle na so ’n liggaam kon wend om wandade aan die lig te bring. Daar is natuurlik verskeie bestaande instansies wat soortgelyke verantwoordelikhede het, soos die Openbare Beskermheer en die Ouditeur-generaal, om nie van die SA Polisiediens, die Valke en Misdaadintelligensie te vergeet nie.

Die feit dat regter Zondo so ’n permanente kommissie bepleit is ’n ernstige mosie van wantroue in die staat se bestaande vermoë om korrupsie en staatskaping te bekamp. Dit bevestig die beeld van ’n algehele disfunksionele staatsbestel en die mislukking van die sogenaamde wigte en teenwigte waarop die grondwetskrywers hulle beroem het. Dit is ook ’n indirekte teregwysing van die Ramaphosa-bewind wat dikwels aanspraak maak daarop dat korrupsie en staatskaping ernstig beveg sal word.