TAFELGESPREK
’n Studie wat onderneem is deur ’n groep kundiges in Australië het bevind dat Suid-Afrikaners se motorbestuurders as die swakste ter wêreld beskou kan word. Die organisasie is CMA, wat staan vir Compare the Markets Australia. Hulle het statistiek ontleed wat volgens die geslag van bestuurders gegroepeer is. Daarvolgens lewer Suid-Afrika 34,9 noodlottige sterftes per 100 000 vir manlike bestuurders op en 9,9 noodlottige sterftes per 100 000 vir vroulike bestuurders. Vergelyk dit met Brittanje, wat volgens die opname die veiligste bestuurders het. Daar is die syfers vir manlike bestuurders 4,8 per 100 000 vir manlike bestuurders en 1,6 per 100 000 vir vroulike bestuurders.
Interessante inligting is dat die nasionale spoedbeperking in Brittanje 112 km per uur en in beboude gebiede onder 50 km per uur is.
Gebaseer op persoonlike ondervinding, weet motoriste in Suid-Afrika dat ons paaie uiters gevaarlik geword het oor die afgelope drie dekades. Spoedbeperkings en padreëls word nie meer eerbiedig nie. Hierdie krisis word gereflekteer in ons syfers vir padsterftes. In Junie verlede jaar het die Padverkeersbestuurkorporasie (RTMC) in ’n verklaring genoem dat 8 547 jongmense tussen 21 en 34 jaar oud oor drie jaar (van 2019 tot 2021) op Suid-Afrika se paaie dood is. Dit is byna 3 000 jongmense wat jaarliks sterf.
Volgens ’n radioberig is daar tans sowat 12 500 sterftes op ons paaie per jaar, of sowat 35 per dag. Boonop word 74 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor, volgens ’n berig in BusinessTech op 17 Februarie 2023. Daar is goeie bewyse dat die meeste padongelukke aan buitensporige spoed, drankmisbruik en roekelose bestuur toegeskryf kan word – en daarom is dit nie misplaas om dit ook as ’n vorm van manslag of moord te beskou nie.
Die bevinding van die Australiese groep dui op sekere onderliggende oorsake van padongelukke en padsterftes. Onopgeleide bestuurders, vals rybewyse en swak wetstoepassing is faktore wat verband hou met die gevaarlike toestande wat op Suid-Afrikaanse paaie geskep is oor die afgelope dekades. ’n Gebrek aan wetstoepassing dra enorm by tot die krisis.
Intekening op Tafelgesprek:
- Stuur slegs u naam, met u voorkeur e-pos adres (vermeld asb ook die naam van die streek, die dorp of stad waar u woon) aan die volgende adres:
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
- U inskrywing op hierdie nuusbrief is gratis. Voorsien ons asseblief van adresse van vriende of familie (in die RSA of oorsee) wat in hierdie skrywe mag belangstel.