EKONOMIESE BEVRYDING VD AFRIKANERVOLK

TAFELGESPREK

Wanneer bewegings soos die EFF (Black Economic Empowerment) se aggressiewe gedrag beskou word, wonder mens hoeveel Afrikaners dink daaraan dat ons eie volk oor dekades uit hul hardverwerfde welvaart gekul is. Afrikaners het andermaal ekonomiese bevryding nodig, soos in die jare vanaf 1920 tot 1950. Afrikaners beskou nog nie die verslegtende toestand as een wat in terme van “volksbevryding” benader moet word nie. As deel van die blanke ekonomie word Afrikaners op soveel terreine met ekstra belastings geteister. Die verhaal moet nog deeglik nagevors word oor hoe die gewone, hardwerkende blankes teruggedruk is deur die regering se ideologie van radikale ekonomiese rewolusie – deur onder andere regstellende aksie, kapitaalwinsbeslasting, heffings op waterbronne, uitsluiting van kontrakte met die staat, verhoogde inskrywingsgelde by universiteite, die koste van dienste en verhoogde eiendomsbelasting.

Reeds sedert die 1970’s is die blankes se ekonomiese posisie geleidelik afgedruk, aanvanklik op indirekte wyse deur inflasie en stygende persoonlike belasting.

In verskeie beroepsgroepe is groot skade aangerig, veral in daardie sektore waarin Afrikaners werksaam was en waar hulle genoegsame inkomste kon verdien om ’n goeie lewenstandaard te handhaaf. Afrikaners was mynwerkers, spoorwegwerkers, staalwerkers, polisielede, speurders, administratiewe personeel in die staatsdiens, onderwysers, verpleegsters, maatskaplike werkers, munisipale amptenare, busbestuurders, lektore op universiteit, verkeersbeamptes, padwerkers, bouers en konstruksiewerkers. Selfs in die landbou het die druk op die winsgewendheid van boerderye so erg geword dat jong Afrikaners wat op plase groot geword het, dit nie meer as beroepsrigting gekies het nie en hul na ander weivelde moes wend. Nader beskou, het sulke ingrypende veranderinge baie nadele vir ’n volk. ’n Gebalanseerde verspreiding van beroepe is nodig om ’n volksekonomie gesond te hou en die kulturele dimensie van die ekonomiese lewe te bevorder, om nie van die politieke sy te praat nie.

Die feit dat kerke en gemeentes kwyn en finansieel swaar kry, het verskillende oorsake; maar een daarvan is die drastiese verswakking van Afrikaners se finansiële vermoëns. Dit kan deels as barometer gelees word van die feit dat Afrikanergesinne verarm. Die ontstaan van blanke plakkerskampe is ’n verdere duidelike alarm. Net 25 jaar gelede was dit ’n onbekende verskynsel, soos ook honderde blanke bedelaars by die robotte in ons stede. Ons het nie meer statistiek nodig om te besef dat ons in ’n ernstige krisis verkeer nie.

Intekening op Tafelgesprek:

  •  Stuur slegs u naam, met u voorkeur e-pos adres (vermeld asb ook die naam van die streek, die dorp of stad waar u woon) aan die volgende adres:

Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

  • U inskrywing op hierdie nuusbrief is gratis. Voorsien ons asseblief van adresse van vriende of familie (in die RSA of oorsee) wat in hierdie skrywe mag belangstel.