KOPDOEK CROUKAMP SE EFF

Dr Piet Croukamp word tog so graag deur die SAUK gebruik as politieke woordvoerder (mens kan verstaan waarom – Red). Hy is andermaal op 18 Augustus nadergetrek om te verduidelik waarom hy sê dat mense Malema se woorde en aksies verkeerd verstaan. Ons wonder wat is vir hom so onduidelik aan die woorde: “Kill the Farmer, Kill the Boer”? Verstaan hy dan nie wat bedoel word nie?

Sy argument is dat dit deel is van ’n “groter konteks” (soos hy elke onderwerp beskryf…), en dat dit nie op morele gronde bestry moet/kan word nie. Mens sou graag dat Croukamp verduidelik hoe hy dan morele gronde verstaan? Waarom is Malema se haatspraak nie vir hom ’n erge oortreding van alle moraliteit nie?

Hy betoog dat mense moet verstaan dit is deel van die EFF se “populisme”; en dat die retoriek en romantisering van geweld in die wyer politieke konteks gesien moet word. Ons onthou dat Croukamp een van die Afrikaner-liberaliste was wat oor die jare plaasaanvalle wou relativeer deur dit teen die groter prentjie van misdaad en geweld in Suid-Afrika af te speel (die “wyer konteks”…. Daarom was dit vir hom nie so ’n groot krisis soos wat dit gemaak word nie. Nou is die argument weer dat dit ”in die wyer konteks” gesien moet word. In die gesprek oor RSG maak hy die volgende stelling: ”Daar is geen data wat bevestig dat die EFF se oproep tot plaasmoorde lei nie; jy kan nie die verband bewys nie... Skei die liedjie van plaasmoorde”.

Piet Croukamp wil hê dat ons een kant die politieke retoriek mag hoor, maw die haatspraak. “Ons moet dit nie nou op morele gronde probeer bestry nie.” En dan heeltemal los daarvan, heeltemal eenkant, moet die plaasmoorde gesien word as ’n klein deeltjie van die algemene misdaad en “die militarisering van die nasionale politieke gesprek”. Dit het volgens hom niks met mekaar te doen nie. Hier speel hy dit weer af teen die “groter gebeure” in die land, en word die EFF se oproep om boere te vermoor tot ’n kleinigheid gereduseer. Die oproep om boere te vermoor is blykbaar vir hom nie groot genoeg nie.

Met dank aan die Instuut vir Kultuur en Geskiedenis