TAFELGESPREK
Die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. )
Groep 1: Afrikaners met ’n moderne, staatlik-grondwetlike perspektief
Hierdie groep Afrikaners kan beskryf word aan die hand van die volgende:
1. Afrikaners met ’n moderne, staatlik-grondwetlike perspektief aanvaar die nuwe Suid-Afrika as ’n voldonge feit, dit is die “realiteit” waarin hulle besluit het om te leef.
2. In die algemeen word die oorgang na ’n sogenaamde “demokratiese Suid-Afrika” in 1990-1996 deur hierdie Afrikaners positief waardeer.
3. Aanvanklik is die grondwet as ’n werkbare oplossing ondersteun, terwyl kritiek teen die aanvaarde 1996-grondwet gaandeweg by sommiges sterk toegeneem het. Vandag word die 1996-grondwet allerweë met skeptisisme bejeën, hoewel besware op verskillende wyses en om verskillende redes geartikuleer word.
4. Hierdie groep het aangepas by die grondwetlike bedeling deur die aanvaarding van menseregte as geldige en politiek-betekenisvolle norme. Dit plaas die groep op die pad na politieke korrektheid, en bepaal dus baie van hul handelinge.
5. Binne die grondwetlike raamwerk (vanaf 1996) word daar veral gesteun op die politieke begrip van “minderheidsregte”, asook “kulturele regte” soos dit in die internasionale politiek verstaan word.
6. Ondersteuners van die staatlik-grondwetlike perspektief gee voorkeur aan die politiek van die middelgrond. Ver-linkse idees word verwerp, asook die opvattings van regse, volksgerigte Afrikaners. As sodanig kom dit dikwels ooreen met die middelgrond-politiek van die verligte Afrikaners van die sewentiger- en tagtigerjare.
7. Wanneer hierdie groep die woord selfbeskikking gebruik, bedoel hulle nie in die eerste plek staatkundige- of politieke selfbeskikking nie, maar kulturele selfbeskikking, veral op gemeenskapsvlak. Dit kan ook beskou word as ’n pleidooi vir “groepsregte”.
8. Daar word duidelik voorkeur gegee aan die begrip gemeenskap, teenoor die begrip volk.
Van die Afrikaners as ’n volk, word daar dus selde gepraat. Begrippe soos Afrikaanses, Afrikaanssprekendes, of die Afrikaanse gemeenskap is kenmerkend. Dit pas in by die siening dat minderheidsregte ’n aanspraak binne die staatkundige bedeling moet wees.
9. Vanuit die politieke ideaal van federalisme word gepleit vir die afwenteling en die desentralisering van magte, gedesentraliseerde lewering van dienste en begrotingsbeheer.
Die oorhoofse staatkundige identiteit van die nuwe Suid-Afrika bly egter behoue.
10. Vanuit die moderne, staatlik-grondwetlike perspektief word die strewe na ’n selfstandige Afrikanervolkstaat gewoonlik afgewys, en word die begrip van federalisme as ’n alternatiewe visie aangebied. Die nastrewe van federalisme bevestig dat daar gewerk word met ’n staatlik-grondwetlike siening, en dit impliseer uiteraard die heronderhandeling van die sogenaamde “skikking” van 1990-1994. So ’n strategie word dan ook dikwels bepleit.
11. Hierdie groep Afrikaners verklaar dat hulle nie terughunker na die dae van apartheid en “wit bevoorregting” nie. Dit pas nie in die politiek van die middelgrond nie.
Ons kyk in die laaste aflewering volgende keer na Groep 2.