Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sê dat ons magteloos is teen die onreg, pyn en kwaad in die wêreld. Gebed is 'n magtige wapen wat God sy kinders gegee het om in so 'n wêreld te oorleef.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE BITTER EINDE”
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die Tweede Vryheidsoorlog, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, of te wel die Anglo-Boereoorlog, het vanaf Oktober 1899 tot Mei 1902 geduur. In hierdie oorlog het die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, te staan gekom teen die Britse Ryk. Die hele gebied waarop hierdie oorlog plaasgevind het vorm vandag deel van die Republiek van Suid-Afrika.
Oor die sowat twee en 'n half jaar wat die oorlog geduur het, het dit Brittanje nagenoeg 200 miljoen pond, 448 435 Britse- en Rykssoldate en sowat 20 000 Britse lewens gekos om 'n "Boererebellie" te bemeester.
Aan die kant van die Boererepublieke was die koste van die oorlog baie hoog. Elke republiek se ekonomie is totaal en al vernietig deur die Verskroeideaardebeleid wat deur die Britse generaals toegepas is. Toe die Boere by die Vrede van Vereeniging hul wapens neerlê, het baie as hoofrede vir hul oorgawe die lyding van hul vroue en kinders aangevoer.
Ongeveer 5 000 Boere het in die oorlog gesneuwel, en minstens 26 000 (sommige bronne meen dit kan selfs soveel as 42 000 wees) Vrouens en kinders en 12 000 Afrikane (hierdie stertjie oor die duisende swartes het baie jare later eers sy ontstaan gehad – RED) het hul lewe in konsentrasiekampe verloor, meestal kinders onder 16 jaar, hoofsaaklik as gevolg van die swak kos-voorsiening (en vergiftiging van hulle kos – RED), 'n tekort aan behoorlike sanitasie en swak skuiling. Ook aan die Britse kant het die meeste soldate weens die swak organisasievernuf van militêre bewindhebbers nie op slagvelde gesneuwel nie, maar aan siekte beswyk.
*
Wanneer hulle oor die bult kom aan die Noordekant van Bethlehem, lê die dorp rustig en wag in die helder lenteson. Rondom die dorp is verskeie plase aangelê en die manne boer met koring en mielies en natuurlik is daar ‘n florerende melkboerdery teenaan die dorp se suidelike grens.
‘n Paar beeste lê lusteloos onder die takke van die treurwilgers aan die oewer van die spruit, ‘n transportwa beweeg ver onderkant hulle die dorp binne, terwyl ‘n paar seuns mekaar takel met kleilatte.
“Wat dink jy van haar, Paul?”
“Ek dink nie aan haar nie, Niklaas en ek veronderstel jy praat van Esti en nie iemand anders nie?”
As Paul na Niklaas kyk, is sy vriend rooi van die verleentheid.
“Ja...”
“Jy is verlief, Niklaas. En wat van Mirna van Schalkwyk, die blonde meisie van Swellendam?”
“Ja, wel, ek het mos nog niks aan haar belowe nie. Maar jy antwoord nie my vraag nie.”
“Ek dink sy is mooi en het ‘n aangename persoonlikheid, maar as ek jy is sal ek haar uit my gedagtes haal. Sy is baie ver hiervandaan en as jy verder ry, terug Kolonie toe, is dit nog verder. Bykans 900 myl, sou ek sê.”
“Ja, dis ver, maar ‘n mens weet nooit nie.”
“Jy vergeet ons het nog ‘n afspraak met die gereg in Bethlehem en jy kan nie seker wees wat die landdros in ons afwesigheid besluit het nie. Hy gooi ons dalk net weer in die polisieselle. En...”
“En?”
“En ek dink voordat hierdie maand verby is, gaan ons oorlog hê. Oom Paul Kruger is baie gefrustreerd met die Engelse.”
“Dink jy werklik so?”
“Ja.”
“Gaan jy saam op kommando, Paul?”
“Ek sal. Dis my plig, maar my eerste verantwoordelikheid is teenoor onse Here. Daarom sal ek nie ‘n wapen opneem nie, maar sal die manne met die Woord bedien en hulle bystaan. ‘n Roer is ‘n goeie wapen, maar soos die Bybel self sê: ‘De Woord van God is een twee-snijdende swaard.”
“Wel, ek gaan ‘n roer in die een hand vat en die Bybel in die ander.”
“Dis jou goeie reg.”
“Paul, jy weet dat koning Dawid, wat een van ons groot helde van die Bybel is, vir Goliat verslaan het met ‘n slingervel, ‘n enkele klip en Goliat se eie swaard. Jy is miskien die knapste skut wat ek al ooit gesien het met ‘n lang roer. Is dit nie ‘n gawe uit die hand van ons Meester nie?”
“Miskien. Maar jy moet onthou dat die Here vir Dawid verbied het om ‘n huis vir Hom te bou. Ek wil ‘n kerk bou, met my eie hande indien nodig. Vandat ons by die klipkerk in Heidelberg was, het ek hierdie brandende begeerte om ook ‘n soortgelyke een te bou. Miskien heelwat kleiner en nie so imposant as daardie een nie, maar ‘n kerk nietemin. Ek kan dit nie doen met hande wat vol bloed is nie.”
Hulle ry in stilte die bult af, tot onder in die dorp. Sodra hulle in die hoofstraat stilhou, kom ’n man, geklee in ‘n donker pak, hulle haastig tegemoet.
“Is julle twee menere die proponente, wat die veld afgebrand het?”
‘n Moedeloosheid sak oor die twee.
“Ja, dis ons. Ons het teruggekom, soos ons belowe het.”
“Landdros Mentz versoek dat julle hom met julle teenwoordigheid sal vereer in sy kantoor?”
Die twee stof hulle klere so goed moontlik af en loop agterna. Die man maak die kantoordeur oop en knik vir Frederick Mentz.
“Môre proponente, sit asseblief.”
“Môre meneer.”
“Ek sal dit baie waardeer as julle vanaand om sewe-uur ‘n vergadering sal bywoon in die kerk.”
“Waaroor?”
“Geduld, menere, asseblief. Julle kan solank gaan afsaal by die losieshuis op die volgende hoek. Julle kan gerus ontspan en iets eet. Maar asseblief, om julle ontwil, woon die vergadering by.”
Na ‘n heerlike middagete, waar die twee Kapenaars kennis maak met boerewors en krummelpap, met sterk koffie en kondensmelk in, gaan lê hulle op hulle beddens in hulle aangewese kamer.
“Wanneer ons uit die tronk kom, Paul, wat gaan jy doen?”
“Soos ek wel al gesê het, ek hoop om betyds uit te kom, sodat ek by die Boereleër kan gaan aansluit. Jy?”
“Ek gaan my goed haal in Swellendam en dan trek ek Pretoria toe.”
“Agter ‘n blou-oog meisie aan?”
“Ja. Ek het ‘n gevoel vir haar ontwikkel.”
“En as die burgers oorlog toe gaan, wat doen jy dan?”
“Dan vat ek my roer en gaan veg saam.”
Die losieshuis het hulle pakke geneem en skongemaak, die hemde gewas en gestyf. Net na kwart voor sewe stap hulle aan na die kerksaal.
“Is dit nie vreemd dat hulle ‘n oordeel oor ons wil vel in die kerk eerder as in die hof nie?”
“Dis miskien omdat die kerk meer mense kan vat as die hof. Die hele dorp sal seker wil hoor wat gebeur.”
Wanneer hulle by die deur uitstap, lyk dit inderdaad asof die hele dorp kerk toe gaan. Van oral uit die plase kom perdekarre, manne te perd en vroue uit die dorpshuise aangestap. ‘n Beklemming gryp die twee aan.
“Paul, hier kom groot moeilikheid!”
Die kerk is reeds stampvol as die twee jongmanne binnekom. Een van die diakens wys hulle om hom te volg na twee hoërug houtstoele wat voor in die liturgiese ruimte, langs ‘n derde stoel staan, waar Fredrick Mentz, nou as hoofouderling, sit. Hy staan op en groet die twee manne beleefd, maar styf. Daar is egter ‘n glimlag rondom sy oë as hy hulle hande skud.
Die vergadering begin met Skriflesing en gebed, waar Frederick uit Psalm 23 lees:
“Ook al ga ik door de vallei van de schaduw van de dood, ik zal geen kwaad vrezen.”
Hy heet almal welkom en veral die twee proponente.
Die eerste punt op die agenda is die moontlikheid van die komende oorlog, waarna Veldkommandant Buitendach van die Oos-Vrystaat Kommando die gesprek oorneem.
“Soos julle wel al verneem het, het President Martinus Theunis Steyn sy goedkeuring en ondersteuning aan President Paul Kruger toegesê indien daar ‘n oorlogsverklaring uitgereik word. Dit is wel waar dat ons manne, gesamentlik met dié van die Transvaal, baie minder is as die totale getal van die Britse Ryk, maar ons ken die veld en bo alles is ons gelowiges wat die Allerhoogste aan ons kant het.”
Na sy kort toespraak volg ‘n hewige debat oor die vraag aan wie se kant die Here wel is, waarna Paul gevra word wat sy mening is. Hy staan op en kyk oor die gemeente, waar hulle somber, maar ook in afwagting sit en hoor wat die geleerdes sou sê oor die onderwerp. Wanneer Paul praat is dit met ‘n diep stem, meer swaargemaak deur die gewigtigheid van die oomblik.
“Ek verlaat my op die Woord en Skrif. Hierin lees ek dat die volk Israel in die meeste gevalle, behalwe met die aanslag op Ai, verreweg die minderheid beklee het. Tog sê die Here vir Joshua: ‘Wees sterk en heb goeden moed! want gij zult dit volk dat land erfelijk doen bezitten, dat Ik hun vaderen heb gezworen hun te geven. Alleenlijk wees sterk en heb zeer goeden moed, dat gij waarneemt te doen naar de ganse wet, welke Mozes, Mijn knecht, u geboden heeft, en wijk daarvan niet, ter rechter hand noch ter linkerhand, opdat gij verstandelijk handelt alom, waar gij zult gaan; Dat het boek dezer wet niet wijke van uw mond, maar overleg het dag en nacht, opdat gij waarneemt te doen naar alles, wat daarin geschreven is; want alsdan zult gij uw wegen voorspoedig maken, en alsdan zult gij verstandelijk handelen. Heb Ik het u niet bevolen? wees sterk en heb goeden moed, en verschrik niet, en ontzet u niet; want de HEERE, uw God, is met u alom, waar gij heengaat’.
“Ek sal dus nie bevrees wees nie, maar sal self ook by die Kommando aansluit, as hulle my wil hê.”
Daar is ‘n lang stilte wanneer Paul gaan sit. Frederick Mentz staan op, aangedaan en wag ‘n oomblik voordat hy sy keel skoonmaak en dan praat, alhoewel daar ‘n knop in sy keel is.
“Die derde punt op ons agenda is die aankondiging van die beroep as leraar.”
Hy draai na Paul toe en praat dan duidelik:
“Proponent Paulus Willem Roux, die kerkraad van die gemeente Bethlehem het op ‘n vergadering van 20 September in die jaar van Ons Here 1899 eenparig vir u as leraar en herder beroep. U het twee weke om ‘n besluit skriftelik aan die kerkraad bekend te maak, maar, indien u nou reeds, gesien dat daar ‘n oorlog op hande is, u besluit bekend kan maak, sal ons dit hoog op prys stel. Wat sê u?”
Paul is heeltemal oorbluf met die wendig wat die dag se gebeure geneem het. Hy sit ‘n paar minute kop onderstebo en bid, voordat hy opkyk en sien dat baie vroue en hier en daar van die manne, met trane in die oë sit.
“Met die hulp en krag van die Here Jesus, antwoord ek ‘n besliste ‘ja’ hierop.”