Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Volharding maak die onmoontlike moontlik, die moontlike waarskynlik en die waarskynlike ‘n feit. Geen waterdruppel kan deur geweld ‘n gaatjie in ‘n rots maak nie; slegs deur ‘n aanhoudende gedrup daarop.
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (2)
083 444 7672)
Net na sesuur die volgende oggend skuif Basjan die Jeep se passasiersitplek tot heel vorentoe en sluit ‘n waterdigte houer op die vloer oop. Hy haal ‘n satelietfoon uit, sleutel ‘n kodewoord in en daarna ‘n nommer. Hy wag ongeduldig vir ‘n halfminuut.
“Yebo, Baba.”
“Gasket, ek is terug in die Limpopo.”
“Jy soek biesagheid?”
“Positief.”
“Kan jy oor drie dae by nommer veertien wees?”
“Ek kan.”
“Dis dan shap, my man.”
Niemand groet of vra hoe dit gaan nie. Besigheid is besigheid en mooipraatjies bestaan nie hier nie, selfs waar dit in die Afrika-kultuur hoog op die lys van sosiale aanvaarding is. Daar word nie ‘n tyd afgespreek nie, maar hulle sal albei deur die loop van die afgesproke dag daar uitkom.
Basjan maak alles gereed. Hy haal alles uit die Jeep wat nie van uiterste noodsaak is nie, haal die seiltent af en vul die brandstoftenk. Dis gelukkig nie baie ver nie en hy sal met die tenk maklik heen en weer kan ry, met nog ‘n halftenk spaar.
Die volgende middag ry hy uit sy kamp, oor die Noordelike kruin van die berg, verby Khakhu, dan Nwanedi en oor die wildtuin-pad. Hier vat hy ‘n grondpad, wat al verder al slegter word, totdat dit by die ou Kaftan-lyn aansluit. Dan draai hy links, gaan by ‘n nou-afgebreekte hek in en volg die twee spore totdat hy langs ‘n koppie tussen Madimbo en Pinksterhoek uitkom. Hier gekom, trek hy die Jeep onder ‘n paar lae doringbome in, kap ‘n groot sekelbos in sy geheel sestig meter verder weg af en maak die plant staan agter die Jeep.
Die voertuig is onsigbaar verder van as twintig meter in alle kante. Hy loop twee honderd meter weg van die voertuig af en maak hom reg vir die gewag tot môre oggend. Hy eet die aand die inhoud van ‘n selfgemaakte ratpack en drink skoon water uit die een waterbottel by hom. Hy sleep sy slaapsak onder ‘n jong mopanieboom in, los die ritssluiter oop en met die geweer langs hom en die pistool in sy hand, raak hy gou aan die slaap. Hy glo daarin om te slaap as jy kan, rus as daar geleentheid is, drink as daar water is en eet as die geleentheid hom voordoen.
Daardie nag is daar weerlig ver na die Weste toe. So ver, dat Basjan nie eens die donder kan hoor nie. Die wind het wel die belofte van reën gedra, maar daar het niks van gekom nie.
*
Die dae skuifel verby. Jona en Bella is baie verveeld. Hy het ‘n paar arms vol lang gras gaan sny en hulle het grasbesems gemaak en die grot van hoek tot kant uitgevee. Hy het meer gras gaan haal en vir hulle beddens daarvan gemaak. Hulle verwyl hulle dae meestal in die grot, maar sluip laat smiddae uit om ‘n bietjie vars lug te kry.
Jona het vir Bella ‘n houtpop gekerf en met stukkies vel aangetrek. Jona sorg dat Bella nie ver wegdwaal nie, omdat hy bang is om haar buite sy sig te hê, maar ook omdat hy nie wil hê hulle moet spore maak nie.
In hierdie kort buite-tydjies maak hulle hout bymekaar, waarvan die baie droë bome nie ‘n tekort aan het nie. Uiteindelik kom die dag dat hulle karige kosvoorraad nog net uit ‘n paar blikkies en ‘n halwe pak ontbyt graankos bestaan.
“Bella, jy moet hier bly. Ek wil gaan kyk of ek nie kan kos kry iewers nie.”
“Nee. Ek gaan nie alleen hier bly nie. As jy gaan, gaan ek ook.”
Hy kyk haar kwaai aan.
“Bella, jy moet rêrig hier bly. Ek sal nie so lank weg wees nie, en ek kan nie vir jou oppas nie.”
“Ek sal nie alleen bly nie. Sê nounet jy kom nie terug nie, ‘n slang byt jou, of jy val, of jy verdwaal?”
Na ‘n lang gestry wip sy haar en gaan lê op haar bed. Sy kyk na die muur toe en ignoreer vir Jona. Hy sluip uit en loop met die trekkerspore af. Nie baie ver daarvandaan nie, is daar ‘n vurk in die pad en hy loop op die ander een as waarmee hulle gekom het. Veraf hoor hy ‘n hoender kekkel en versigtig loop hy daarheen. Hy ruik die kaya-vuur van ver-af voordat die statjie binne sig kom. Skielik hoor hy ‘n geluid agter hom en verskrik draai hy om. Bella staan ‘n paar meter agter hom.
“Bella!” raas hy op ‘n fluisterstem. ”Het ek jou nie gesê om te bly nie? Waar is Oubaas?”
“Jy is nie my ma nie!” fluister sy afgemete tussen woorde terug. “Ek het hom aan die trekker vasgemaak.”
“Nou kom!” sê hy moedeloos. “Maar loop agter my en saggies”.
“Jy het my nie eens gehoor kom nie!” fluister sy hard in sy oor. “Ek loop saggieser as jy.”
Hulle loop langs die pad, gebukkend en versigtig. ‘n Ou Vendavrou is besig om die stukkie werf te vee, op daardie vreemde manier, waarop sy amper dubbeld vou net bokant haar heupe. Dan loop sy in een van die rondawels in en maak die deur toe.
Hulle wag vir ‘n paar minute en as hulle niemand anders gewaar nie, sluip hulle die werf binne en luister by die eerste hut se deur. Hulle hoor niks, stoot die deur versigtig oop en loer binne. Daar is niks behalwe slaapplek nie. So ook die tweede een aan die regterkant.
Hulle sluip oor die stukkie skoongeveegde werf en gaan die eerste hut aan die ander kant in. Daar is ‘n vyf-kilogram sak mieliemeel en nog ander kombuisware, maar die meel is vir nou genoeg. Met die sak onder sy arm, loop hy uit en hulle loop in die ou vrou vas. Woordeloos gryp sy na Bella met die een hand en die ander na die meel onder Jona se arm. Hy los dit en ruk die geweer van sy skouer af. Dan tree hy terug, ruk die slot oop en toe en wys die geweer na haar gesig.
Die ou vrou skreeu, val agteroor en kruip so, hande-viervoet ruglangs weg. Een van die ander hutte se deur gaan oop en ‘n ewe ou man kom kromgebuig, maar met redelike spoed daaruit. Hy het ‘n skewe knopkierie in sy hand en wil Jona daarmee slaan, maar as die geweer ook op hom gerig word, versteen hy en laat sak die kierie.
Jona roep vir Bella en hulle hardloop weg, die veld in. Hulle hou nie op hardloop voordat hulle albei uitasem is nie. Eers dan sien Jona dat Bella die sak meel gegryp het, en dit in albei arms teen haar bors vashou.
*
Basjan het weer geskakel met sy kontak. Op die afgespreekte tyd, dit wil sê, presies om 05h45, ry Basjan uit die bosse langs die Limpopo. Vyf baie nuwe voertuie, twee Ford dubbelkajuitbakkies – nog sonder nommerplate – ‘n Toyota Fortuner, een Mercedes-Benz sedan en ‘n BMW X5 staan in die bosse langs die rivier geparkeer.
Hy los die Jeep langs die voertuie en loop ‘n ent weg.
“Gasket, jy kan nou maar uitkom.”
‘n Groot, baie donker man kom uit die bosse. Sy ronde kop is blinkgeskeer en hy het vier vetrolle agter sy kop, naby sy nek: die duidelike teken dat hy ryk is en lekker eet. Hy het ‘n noupassende langbroek aan en ‘n gholfhemp met die landsleier se gesig op.
“Ah, my good friend.” En dan slaan hy oor Afrikaans toe, terwyl hy vir Basjan op die tradisionele manier groet, die vingers eers teen mekaar s’n gehaak en dan die op-en-af bewegings met die vuis.
“Is jy alleen?”
“Jy weet ek is altyd alleen. Hoekom vra jy nog?”
“A man should never be too careful,” haal hy homself aan.
“En jy wil hierdie karre oor die grens skuif?”
“Ons moet.”
“Die bakkies en die SUV’s sal nie ‘n probleem wees nie, maar die Mercedes?”
“Dis vir die polisieman agter by die grens. Dis sy grease.”
“Nou kom ons begin.”
Die Fortuner en die BMW blyk nie ‘n probleem te wees nie. Die walle van die droë Limpopo is hier weggekalwe en die twee voertuie ry redelik maklik af, die droë loop binne. Die BMW se oorhang aan die agterkant is laer en hy haak vir ‘n oomblik aan die wal met sy buffer, maar as die paar drywers en Gasket hom oplig aan die agterkant, en die wiele maal, kom hy los en Basjan bestuur hom maklik oor die riverbedding.
Hy stuur skuins na sy regterkant toe, want reg voor hom is die wal te regaf. By ‘n meer geleidelike skuinste ry hy vinnig op, die wiele tol vir ‘n oomblik en daarna is hy bo-op die oewer. Die Fortuner ry makliker oor en die een Ford bakkie ook.
Die tweede een het nie vierwieldryf nie en val in die middel van die rivier vas. Basjan gaan haal sy Jeep, haak die ding terwyl een van die drywers bestuur en ry met dit verder, tot bo-op die wal.
Teen nege-uur is dit nog net die Mercedes. Hy sukkel om van die wal af te kom en hulle moet dit verder uitgrawe. Dis harde, tydsame werk. Uiteindelik is dit in die bedding self, maar onmiddellik val dit vas. Die padbande en die lae bakwerk wil maar net nie saamspeel nie. Dit help ook nie om die lae-profiel bande af te blaas nie. Weereens word die voertuig agter die Jeep gehaak, maar dit gaan nie so maklik wees nie. Na twee ure se sleep en grawe het hulle maar vyftien meter gevorder.
“Gasket, ons moet dit maar hier los. Hy gaan dit nie maak nie.”
“Nee, Basjan. Jy moet jou kant van die deal nakom. Dis òf jy word vir al die karre betaal, òf jy kry niks.”
Basjan sug om sy woede onder beheer te kry.
“Nou kom.”