Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gister is verby. More het nog nie gekom nie. Ons het net vandag. Laat ons begin.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (5)
083 444 7672)
Daar is min dinge wat vir so ‘n groot anti-klimaks sorg as wanneer jy fisies en geestelik reggemaak het vir ‘n geveg en dit vind nie plaas nie. En net so maak dit nie saak hoe gehard of gesout jy is nie, maak nie saak hoeveel maal jy al voorheen in kontak met die vyand was nie, daar is altyd iets soos ‘n dwaalkoeël, ‘n skerp of stomp voorwerp wat jy nie voor begroot het nie, wanneer die geveg wel losbreek.
Diek het die rook van ver af gesien en daarheen afgedraai. Elkeen het hulle wapens weereens nagegaan en hulleself gestaal vir die geskietery wat onafwendbaar sou volg. Die riemtelegramme het hulle egter vooruitgeloop en as die Jeep naby genoeg is dat hulle dit kan eien en die voertuie wat agterna kom, spat die mense wat die padblokkade beman alle kante toe. Hulle los alles net so – die brandende buitebande, die klippe, stompe, maar ook hulle sakke met klere en ander karige besittings. As Diek-hulle naby genoeg kom, is elkeen van die makkers buite skootafstand.
Diek hou naby stil, loop uit met sy wapen gereed, maar daar is niemand nie. Nie iemand wat aan die slaap is, dronk of iewers wegkruip nie, niks.
“All rigged up and nowhere to go?” vra Gert.
“Dit lyk so. Piet, jy en Uys en Jack, gaan kyk daar na die linkerkant of iemand nie daar wag of wegkruip nie. Jooste, vat jy drie manne en gaan kyk aan die regterkant.”
“Hoe lank gaan ons so moet lewe, Diek?”
“So lank as wat dit nodig is.”
“Ek bedoel, sal ons nie een of ander tyd maar vir ‘n tipe wapenstilstand vra nie, vrede maak of so iets?”
“Jy bedoel soos Piet Retief?”
“Nee. Ek bedoel net wanneer sal hierdie oorlog ophou?”
“Hoekom noem jy dit ‘n oorlog? ‘n Oorlog is mos iets wat verklaar is, is dit nie?”
“Ek weet hierdie een is nie veklaar nie, maar ons is daarin. Was daar al ooit regtig ‘n burgerloorlog wat verklaar is?”
“Ja, daar was, maar dit maak nie nou saak nie. Jy is reg – ons is inderdaad in ‘n baie slegte, maar onverklaarde burgeroorlog. En na elke oorlog behoort daar vrede te wees, of ten minste ‘n tyd wat die vegtende partye se leiers bymekaar sal kom. Dis ons eerste probleem. As ons kan praat van ‘ons kant’, hoe beskryf jy ‘ons’? Dis nie noodwendig ‘n stryd tussen wit en swart nie, jy weet dit tog. Daar is groot gevegte aan die gang tussen die etniese swart groepe. Daar is gebiedsgebonde gevegte, stamgevegte, gevegte tussen die strydende krygshere en die verskillende roofbendes. Net so is daar nie iemand wat ons kan identifiseer as òns leier nie. Soos die oorlog mettertyd uitspeel, sal daar uiteindelik leiers na vore tree, maar dit gaan nog ‘n tyd neem. Dan is daar nog die ander probleem ook.”
“Wat is dit?”
“Gert, hierdie konflik moet die laaste een wees in ‘n baie lang tyd. Ek glo ons sal uiteindelik wen, maar dit gaan lank, bitter en bloederig wees. Ons gaan hoor van ongekende wreedheid en misdaad teen die mensdom. Aan alle kante sal dit gebeur, moenie ‘n fout maak nie. Maar hierdie is uiteindelik ‘n werklike stryd om lewe en dood, nie net vir nou nie, maar vir behoud van ons ou volkie se voortbestaan. Daarom moet dit baie beslissend wees. Ons kan nie bekostig om weer oor ‘n paar dekades hierdeur te gaan nie. As ons hier klaarmaak, moet dit klaar wees. Jy weet dat Suid- en Noord-Korea nooit na die oorlog van 1953 vrede verklaar het nie? Daar was wel ‘n wapenstilstand, maar die oorlog het nooit opgehou nie en die afgelope amper sewentig jaar kan hulle mekaar nie verdra nie en loer hulle kort-kort met haat in die oë oor die grens. Ons kan dit nie hier bekostig nie.”
“As jy praat van ‘klaarmaak’, beteken dit wat ek dink jy sê?”
Diek kyk na waar die ander terugkeer. Uiteindelik antwoord hy vir Gert.
“Dis presies wat ek sê.”
*
Soos in Sarajevo, Bosnië-Hertsogovina, Rwanda, Somalië, maar ook gedurende die Amerikaanse burgeroorlog van 1861-1865 is die grootste ellende van burgeroorlog die ongelooflike hartseer waardeur die onskuldiges en die mees brose inwoners van ‘n land gaan.
Uiteraard kom produksie onverbiddelik tot stilstand, nie net die staalnywerhede, voertuigaanlegte, konstruksie en mynindustrieë en uiteindelik alle vorme van goedere nie, maar ook word landbou al kleiner en staak heeltemal. Sommige boere sal nog vir eie gebruik plant, maar net sover as wat absoluut veilig is.
Baie lande met miljoene tonne graan is die afgelope tyd afgebrand en stropers het troppe beeste en groot kuddes skape en bokke doodgemaak, sodat dit soos hopies grond op die lande lê. Dit beteken natuurlik hongersnood, die afbreek van infrastruktuur, armoede en ellende wat vir dekades nog sy uitwerking sal hê.
Geen oorlog is romanties nie en burgeroorloë nog minder. Dikwels is daar ‘n broer oor die visier, bloot omdat hy nie soos jy dink nie. Alhoewel daar groot en roemryke heldedade in elke konflik voorkom, is die oorlogsmisdade veel meer. Sodra wet en orde verval, wanneer die polisie en die regstelsel nie meer ‘n faktor is nie, is dit asof die mense met barbaarse en kriminele ingesteldheid oral uitkruip en selfs al sou hulle weet dat hulle mettertyd dalk aan die pen kan ry daaroor, is dit in hulle gedagtes ver en verwyderd. Dis ook so dat elke misdadiger meen hy nie uitgevang sal word nie. Baie van hierdie mense wat in normale omstandighede uit die samelewing verwyder sou wees, is nou in leiersposisies.
Behalwe vir diegene wat die oorlog veroorsaak en betyds na veiligheid oorsee gevlug het, is die res van die bevolking soms tydelik en oor die algemeen permanent ontwrig. Die voorbokke sorg betyds dat hulle plek op die eerste vlug land-uit bespreek is, waar hulle oorsee met diplomatieke status die rykes en beroemdes probeer oorreed om “noodverligting” vir hulle land te gee. Hierdie geld wat ingebedel word, kan hoofsaaklik in drie verdeel word: dit wat direk in hulle bankrekeninge gaan, ‘n deel waarmee hulle in “selfopgelegde ballingskap” in weelde leef en ‘n derde deel waarmee wapens vir hulle faksie in die oorlog gekoop word.
Die enigste kos en mediese voorraad is die klein hoeveelheid wat deur UNICEF of die Rooikruis amper die land ingesmokkel word, en waarop steeds ‘n groot gedeelte deur krygshere beslag gelê word om òf aan hulle makkers uit te deel, òf ten duurste aan die gepeupel te verkoop.
Dis net die ellendigstes onder die ellendiges wat gewoonlik by hulle wonings bly, bloot omdat dit eenvoudig nie die moeite werd is om hulle aan te val nie. Daar is niks om te baat of buit by hulle nie. Dit is egter ‘n baie klein persentasie en die res is aan die beweeg. Hulle ry of loop – en laasgenoemde is gewoonlik die norm – na ‘n plek waar daar dalk net skuiling, kos en veiligheid kan wees.
Kinders word meer keer as nie, en veral in Afrika, by die konflik betrek. Hulle word ontvoer vanuit hulle huise, maar soms sluit hulle vrywillig aan by die krygshere, net soos dit al vir dekades gebeur op die Kaapse Vlakte, waar die bendeleiers kinders op allerlei wyses gebruik en misbruik.
So ‘n kind sluit aan by ‘n bende ter wille van oorlewing. Dieselfde gebeur by ‘n gewapende konflik. Sodanige kinders het uiteraard geen opleiding nie, gaan nie meer skool nie, kry geen opvoeding ten opsigte van moraliteit nie, word dikwels as seksslawe gebruik, as instrumente om vyande tereg te stel, en word uiteindelik menslike afval. Selfs indien die oorlog nie lank sou aanhou nie – en dis gewoonlik die norm dat dit jare lank duur – sit ‘n land met ‘n verlore geslag of twee daarna. Hierdie kinders weet niks behalwe hoe om oorlog te maak en te oorleef te midde van geweld nie en keer soos ‘n gewoontemisdadiger telkens terug daarna. Dis een van die redes waarom ‘n burgeroorlog na baie jare nog voortduur.
Vroue word oor die algemeen verontmenslik. In ‘n plek waar wet en orde verval, is hulle aan die genade van die mans oorgelaat. Daar is niemand na wie hulle kan gaan met hulle klagtes nie, en daar is dikwels niemand wat omgee nie. In baie gevalle moet die mans hulle noodgedwonge los om na ‘n hewiger oorlogsone te gaan en dit gee die manne wat agterbly saam met hulle (en dikwels te lafhartig is om te baklei) vrymag om te maak soos hulle wil.