Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, ek is een van die mense wat oud genoem word. Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag. Laat my in my laaste treë nie alleen nie. My lewe het eenmaal waarde en sin gehad. Ek het gewerk, gely, invloed uitgeoefen. Wat ek gedoen het, skuif al hoe verder weg. Ek vra u om my te bewaar van bitterheid, van die drang om my kennis te bewys. Ek wil leer om te laat los. Ek wil my op niks anders as u goedheid verlaat nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (11)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Diek en sy manne is ook aan die beweeg, maar anders as die grootste deel van die gemeenskap nie weg van gevaar nie, maar juis op soek daarna. Soms beweeg hulle stadig en afgemete, met sorg en versigtigheid, maar ander kere met spoed en verwoestende ongenadigheid. Tot dusver het hulle elke keer sukses behaal. Die wet van gemiddeldes bepaal egter dat hulle die een of ander tyd hulle gaan vasloop, hetsy teen ‘n groter mag of ‘n beter gewapende een.
In elke burgerlike opstand, sonder uitsondering, groei die roofbendes. ‘n Sterk leier, en in die oorgrote meerderheid gevalle een wat meer ongenadig, brutaal of onverskrokke is, manne (of vroue) met ‘n geweldsagtergrond, wat in die gewone burgerlike samelewing op die ekstreme periferie sal beweeg, kry in hierdie situasies ‘n groot gevolg.
Net soos hulle bang is om hom of haar teen te gaan, net so dankbaar is hulle oor die beskerming wat sy/haar bende bied. Die bonus is natuurlik om in die buit te deel en dit word dikwels om en tussen die liggame gedoen van diegene wat minder gelukkig is. Soos wat hierdie roofbendes se getalle groei, groei natuurlik ook hulle berugtheid en mag. Die meeste mense wat aan die beweeg is, is juis aan die weghardloop van hierdie bendes af. Hulle vlug van een plek na die volgende, net om weer en weer te besef dat hulle nêrens veiligheid kan kry nie.
Sonder sy goedkeuring, maar onvermydelik, het daar mense agterna begin kom; blankes, wat by Diek en sy manne veiligheid soek. Dit veroorsaak dat hulle stadiger moet beweeg, dat hulle elke optrede en operasie moet aanpas om hierdie mense in ag te neem. Dis iets waarvoor hulle nooit begroot het nie, maar wat nou ‘n wesenlike probleem geword het.
“Diek, hoe het ons nie aan die moontlikheid gedink nie?”
“Ja, dis ‘n fout in my beplanning. Ek het nooit dit in berekening gebring nie.”
“Kan ons nie maar vir hulle wapens en kos gee en hulle wegjaag nie?”
“Natuurlik het ek ook al daaraan gedink, maar jy weet net so goed soos ek dat dit nie kan gebeur nie.”
“Jy weet hulle is net ‘n las, dat hulle nie gedissiplineerd is nie, dat hulle ons bewegings inperk en dat hulle ons kos opeet?”
“Ja, ek weet. Wat stel jy voor, Gert?”
“Ons los kos en wapens en maak dat ons wegkom, vinniger as wat hulle ons kan inhaal.”
“Dit sal nie werk nie.”
“So, wat dan?”
“Ons moet hulle na veiligheid neem”.
“Waar?”
“Ek weet iewers na die Noorde is ‘n gemeenskap wat hulleself ingegrawe het en die aanvallers so af en toe op hulle herrie gee. Ons weet ook mos dat daar ‘n ander groot organisasie is wat lankal reeds daarvoor voorberei het, maar dis nie hulle nie.”
“Laat ek nou mooi verstaan – jy wil hê ons moet ‘n breek vat in dit wat ons doen en hulle eskort na ‘n moontlike plek wat miskien nie eens bestaan nie?”
“Dis wat ek van jou hou, Gert. Jy is so vlug van begrip!”
*
Die grootste fout wat die magtige Engelse leër gemaak het, was om oorgerus te wees. Nadat die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 uitgebreek het, skryf menige troepe en offisiere vir hulle geliefdes dat hulle voor kersfees sal klaar wees met die oorlog. Hulle het vergeet dat die handjievol Boere hulle ‘n klompie jare vantevore ‘n pak slae gegee het. Generaal Colley en Kommandeur Rommily het dit uitgevind gedurende die Eerste Vryheidsoorlog, toe hulle met ‘n sterk mag Majuba beset en die Boere geringskat het. Roberts het dit uitgevind gedurende die slag van Spioenkop en Magersfontein. In een enkele week het die Engelse vyf keer slae op diel yf geloop en hulle eie pers het dit “Black Week” genoem.
Amerika het dit gesien by Pearl Harbor en Duitsland by Stalingrad.
Diek en sy manne het dit uitgevind aan die buitewyke van Pretoria.
Die dik rook wat net brandende voertuie of buitebande kan maak, het geborrel uit ‘n laagte net so ‘n paar kilometer van hulle af. Nadat dit hoog genoeg was dat die wind dit kon skep, beweeg dit in ‘n strook bo-oor die geboue.
“Ons maak soos altyd. Ons beweeg versigtig naby genoeg, slaan vinnig, hard en genadeloos. Ons onttrek hierdie kant toe en as dit nodig is, kom ons weer op hierdie selfde plek bymekaar.”
Die pad is toegemaak net anderkant die robot van Villeria af na Kerkstraat, voordat die pad rondom die koppie aan die regterkant en weer links slinger. ‘n Vyftigtal manne beman die padblokkade, swaai wapens rond, toyi-toyi, fluit en raas.
Verby hulle, aan die linkerkant, is die koppie laer, maar versteek ook die veld aan die anderkant daarvan. Die teer is vol slaggate en hulle ry so vinnig as wat die oppervlak dit toelaat. Hier en daar moet hulle die teergedeelte heeltemal verlaat as dit onbegaanbaar is van die gate, maar ook vanweë uitgebrande motors en ander rommel wat verstrooi lê.
Alhoewel elke terrein ‘n ander modus operandi vereis en elke vyandelike mag ‘n ander taktiek, is Diek se leuse: “As dit nie gebreek is nie, moenie probeer heelmaak nie”. Tot dusver het hulle elke keer sukses behaal met hulle eie weergawe van die Duitse “Bltizkrieg”, waar vinnig en hard geslaan word, voordat die vyande kans kry om te verdedig of in te grawe. Daarna vertrek hulle so vinnig moontlik. Die hele idee is om die vyand te ontmoedig om met hierdie soort ding aan te gaan.
Die Jeep ry vooraan die konvooi en Diek het nooit die sloot gesien wat regoor die pad gegrawe is, met sinkplate bedek is en daarna met sand en gras nie. Dit lyk soos enige ander stukkende plek in die pad en, alhoewel hy effens spoed verminder, tref hy die sloot teen dertig kilometer per uur. Die Jeep se voorwiele steek onverbiddelik in die sloot vas, Diek tref die stuurwiel met sy bors, hard genoeg om die wind uit hom uit te slaan en die ander drie saam met hom tuimel uit die voertuig op die sand en gras. Die ander voertuie kan betyds rem, maar voordat hulle behoorlik tot verhaal kan kom, stroom ‘n aantal soldate vanaf die koppie na hulle toe. Skote begin onmiddellik klap en koeëls tref die voertuie, maar veral die Jeep.
Dit neem Diek ‘n paar stadige sekondes om tot verhaal te kom en die situasie op te som. Hy kyk rond vir sy geweer, kry dit en spring binne in die sloot. Twee van die ander wat in sy voertuig was, spring saam met hom daarin, maar Plakkies, ‘n ou artilleris, het sy regterbeen gebreek en drie ribbes gekraak. Hy sleep sy seer lyf nader, maar voordat hy die sloot kan haal, tref twee koeëls hom.
Die agterste voertuie begin omdraai, maar dan kom daar van weerskante die robot nog soldate aangehardloop. Hulle het in ‘n hinderlaag ingestorm en is nou in ‘n dodelike kruisvuur, wat ook bekend sou wees as ‘n “doodsakker”.
‘n AK 47 is daarvoor bekend dat dit baie pakke slae kan verduur. Dit kan selfs in sand of modder begrawe word, afgeskud en skoongeblaas word en kan weer vuur, of so lui die legende. Diek s’n is stukkend. Hy weet nie regtig wat met die ding fout is nie, maar dit vuur nie as hy die veiligheidknip afdruk nie en die spangreep verseg om te beweeg.
Met sy kop wat net bokant die sloot uitsteek, kyk hy rond, sien die lewelose liggaam van Plakkies lê en sy R1 naby hom. Diek spring uit die sloot, seil die paar meter na Plakkies toe, kry die geweer aan sy loop beet en sleep dit saam met hom die sloot binne. Hy is net betyds om te sien die voorste soldaat is nie meer as veertig meter weg nie. Hy druk die R1 se veiligheidsknip af (wat aan die anderkant as byvoorbeeld ‘n R4 s’, sit), vat vinnig korrel en begin skiet. Op hierdie afstand skiet ‘n 7,62 NATO rondte dwarsdeur lyfpantser. Vier soldate sterf terwyl hulle aan die skiet is. Gert het sy geweer, ‘n ouer FN FAL, waarvan hy die kolf korter gemaak het – en baie gesukkel het om die terugskopveer weer in te kry – in die botsing met die sloot verloor en hy het ‘n ouerige enkelaksie .357 magnum Sauer&Sohn rewolwer, waarmee hy skiet.
*
Bouts Botes, ‘n middeljarige wewenaar, het geweier om sy wapens in te gee toe die wetgewing deurkom. ‘n Drietal SAPD-lede het aan sy deur geklop, geëis om sy wapens te vat, maar hy het geweier om oop te maak. Na ‘n uur het hulle teruggekeer met tien ander lede en sy wapens gekonfiskeer, saam met elke rondte ammunisie in sy kluis en kas. Woedend, maar magteloos, het hy gesien hoe die duur wapens bo op mekaar agter op ‘n bakkie gegooi word en die manne vertrek.
Dis nie vreemd nie dat daar twee dae later by hom ingebreek word. Polisie-informant deel nie inligting net met die polisie nie. Bouts het wakker geword van die glas wat breek en die diefwering wat geknip word. Hy vat sy bofbalkolf (‘n alluminium een, genoem ‘n “Louisville Slugger”), sluip kaalvoet na die sitvertrek toe, en staan langs die venster en wag. ‘n Minuut later verskyn ‘n afgesnyde langbroek, met twee maer, swart bene. Bouts laat waai met die kolf en hoor gelyktydig twee dinge: hoe albei tibia breek van die slag en hoe die man homself bevuil van die pyn. Die bene verdwyn as die ou agteroorval. Hy word deur sy twee makkers weggesleep en oor die lae muur getel. Bouts hoor die gille vir ‘n hele paar minute en dan verdwyn ‘n donkerkleurige Golf in ‘n bol uitlaatrook.
Hy sleep ‘n groot houtbuffet nader en maak dit voor die stukkende venster staan. Hy maak nie ‘n oog toe vir die res van die nag nie. Bo in sy klerekas lê ‘n groen weermaggordel, amper soos ‘n webbing-belt, maar dit het twintig lusse aangewerk, waarin twintig SSG haelpatrone is. Die SAPD het in hulle ywer dit misgekyk. Hy het nou die klompie ammunisie, maar geen manier om dit af te skiet nie.
Na ‘n halfuur se kopkrap, krap hy in sy werkswinkel, kry ‘n ou vierpond voorhamer, waarvan hy die houtsteel uitslaan. Na ‘n verdere soektog tussen sy afvalyster, kry hy ‘n paar lengtes pyp. Die een pas presies oor ‘n twaalfboor rondte en die ander een, ‘n ent korter, sowat ‘n kwart meter, pas oor die eerste stuk pyp. Hy sweis ‘n kort staalpennetjie op ‘n stukkie staal, sweis dit onder die dikker pyp vas en na twee ure het hy ‘n baie kru, maar bruikbare wapen. Die dikker pyp, waarin die slagpen is, sweis hy aan die hamerkop vas. Na nog ‘n bietjie kopkrap, sit hy ‘n dwars stuk pyp aan die voorste een vir ‘n handgreep. Hy het nou ‘n slaanding, maar ook ‘n haelgeweer.
Die volgende groep inbrekers weet wat nou te wagte is, en dat hy ongewapen is. Een van hulle het ‘n afgesaagde haelgeweer by hom, waarmee hy op die bed afsluip en ‘n oorverdowende skoot aftrek deur die komberse. Uit die badkamer, reg langs hom stamp Bouts die agterste pyp oor die voorste een ‘n ewe donderdende knal gaan af. Die skoot SSG balletjies ruk die man se ingewande uitmekaar. Bouts swaai die wapen om en slaan die hamergedeelte teen die volgende een se kop, met ewe vernietigende gevolg. Die derde man maak homself uit die voete.
Bouts kyk na sy bed, waar hy ‘n kombers en twee kussings onder die duvet gesit het, om soos ‘n mens te lyk. Hy skakel die lig aan en tel ‘n baie duur dubbelloop haelgeweer op. Hy knak die ding oop, haal die een leë doppie uit en laai ‘n vars rondte. Hy weet dis net ‘n kwessie van ‘n paar minute voordat die polisie gaan opdaag, maar is hy klaar aangetrek, en sy grypsak met kos en water, koeldrank en alles wat hy aan kan dink om die lewe gemaklik te maak, lê binne in die kappie van sy ou Nissan Tracker bakkie. Wanneer die SAPD ‘n halfuur later opdaag, is hy reeds veertig kilometer daavandaan.
Dit was drie maande gelede.