Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aan Jesus behoort alle mag oor lewe en dood omdat Hy God is! Daarom kan diegene wat aan Hom behoort, nooit in ‘n skaakmatsituasie beland nie. Die Koning van alle konings maak altyd die laaste skuif!
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (10)
)
Vyf dae nadat hy by die Kamp weg is, kom Nicolaas op die spoor af van ‘n vierwieldryf voertuig. Nadat hy afgeklim, die spore vir ‘n ent te voet gevolg het waar dit deur ‘n driffie gaan en deur ‘n half meter modder gery het, is hy seker dis die spore van ‘n ligte voertuig met BF Goodrich Mud-Terrain bande op. Hy kan natuurlik nie seker wees dis die enigste voertuig met sulke bande op nie, maar hoop beskaam nie en hy hoop dis Lori se Jeep.
“Waar gaan julle, en wat is julle plan?” dink hy.
Hy maak ingedagte ‘n onsinnige fout. Hoe hoër hy teen die heuwel opry, hoe koeler word die hewige hitte van die somersdag. Daar steek ‘n effense windjie op en hy geniet elke oomblik daarvan.
Hy hou die beweging van die groot, fris perd onder die saal dop, die manewales van Karel, en hy geniet die vryheid van die reis, alles met die hoop om vir Retha gou weer te sien. Bo-op die kruin van die heuwel staan hy vir ‘n oomblik afgeëts teen die skoon, helder lug. Hy verbeel hom dat ‘n perdeby of tor teen sy wang vasvlieg en instinktief klap hy daarna. Met verbasing sien hy dat daar bloed aan sy hand is. Feitlik onmiddellik begin sy wang brand en hy hoor die knal van ‘n swaarkaliber geweer. Dis ver en hy kan aan die tyd wat verloop tussen die gevoel teen sy wang en die knal, uitwerk dat die skut ten minste ses of agt honderd meter weg is.
Hy gryp sy geweer uit die saalskede, skop homself los van die stiebeuels en val amper van Floors af. Hy klap die perd teen die boud, dat hy aan die kant van die heuwel, vanwaar hy gekom het, afhardloop. Hy hoop maar om hom weer later te vang. Skielik gee Karel ‘n vinnige tjank en spring eenkant toe. Weereens kom die knal na ‘n sekonde.
“Karel!” roep hy bekommerd. Die groot brak kom aangeloop. ‘n Stuk klip, wat heel moontlik ‘n stuk flenter is van ‘n stukkend-geskiete rots, het hom ‘n sny teen die boud besorg. Dis nie diep nie, en bloei net effens, maar dit maak vir Nicolaas oombliklik woedend. Wie skiet op ‘n man se hond?
Hy knyp sy vuiste toe om beheer oor sy emosies te kry, haal diep asem en dan dink hy aan sy posisie en opsies. Wie ookal op hulle skiet, is ‘n uitnemende skut en baie goed gekamoefleer. Dit maak sin om teen die heuwel af te hardloop in die rigting wat hy gekom het en om sodoende die stuk berg tussen hom en die sluipskutter te sit.
Daar is egter drie redes waarom hy dit nie kan doen nie. Eerstens sal die man hom dalk net vorentoe weer onder skoot kry, tweedens sal dit hom wegkeer van die rigting waarin Retha is en hy kan net sowel vir haar ‘n gevaar inhou en derdens is hy kwaad.
Hy haal sy hoed af, verskuif effens waar hy lê, sodat hy tussen twee groot klippe kan deurkyk. Feitlik dadelik skram ‘n koeël van die rots aan sy linkerkant af weg, en hy ruk sy kop weg, terug na veiligheid. Hy lê plat op sy rug, trek die hefboom van die lang ou Remington Hepburn No. 3 oop en vervang die rondte met ‘n nuwe een. Dis ‘n ou gewoonte, wat hy lank gelede aangeleer het.
Hy vat ‘n bietjie los sandjies en gooi dit in die lug. Die lui windjie waai dit na die noorde toe. Op sê maar sewe honderd meter sal dit die swaar 420 grein koeël ‘n halwe meter van teiken af druk. Die ou roer is op vyf honderd meter ingestel, en sal dus nog sowat ‘n meter val op sewe honderd.
Besluiteloos lê hy en wag. Waarvoor weet hy nie, maar dit het nog nooit met hom gebeur dat hy so weerloos gevoel het nie. Skielik is hy bang. Nie bang vir die dood of selfs om sleg verwond te raak nie, maar bang dat hy vir Retha nie weer sal sien nie. Hy verwens homself dat hy nie meer aandag aan haar gegee het nie. Maar vroumense is maar vreemde goed. Hy het mos al vir haar gesê hy het haar lief, en sy moet dit weet. Hy het haar ook mos al lankal gesê dat dit bly so, totdat hy vir haar sal sê hy het haar nie meer lief nie. Vroumense! Hoe het daardieou cowboy nou weergesing?
“Speakin’ of women you can never tell. Sometimes they’s heaven and sometimes they’s…”
Karel blaf-blaf so dertig meter na sy regterkant en ‘n ent laer met die heuwel af. Feitlik onmiddellik tjank hy kort en hard weer en ‘n knal volg oomblikke later. Dit gee vir Nicolaas kans om sy kop effens te lig en hy sien die flits van ‘n lens wat die son weerkaats, bo-op die volgende rantjie, net so vier meter van die kruin af. Hy vat baie vinnig korrel op die flits en trek die skoot.
Dis mis en ‘n volgende koeël van die skut kam byna sy hare. Dit was amper! Daar is iets hard en knopperig onder hom en hy voel-voel om die klip onder sy rug weg te vat. Geen mens weet hoe lank hy hier sal moet lê nie. Miskien tot donker? Sy hand vat aan die koeler seil van die waterbottel aan sy gordel, waar die water effens uitgelek het. Dankie tog, dis nie ‘n klip nie. Hy het al vergeet dat hy die bottel aangegord het.
Hy vat ‘n paar groot slukke en dan, as hy na die vorm van die waterbottel kyk, kry hy ‘n plan. Hy drink die bottel leeg – niemand weet waar hy weer water gaan kry nie – kyk rond vir ‘n tak of stok en kry gou een wat die regte lengte is. Hy draai op sy maag, haal die geweer se haan oor en terwyl hy laag tussen die twee rotse wag, druk hy die waterbottel onderstebo aan die stok en lig dit effens bo die klippe uit. Die bottel spat uit sy hand, as ‘n swaar, vinnige rondte dit tref.
Onmiddellik lig hy sy kop, lê aan na waar hy die flits nou-net gesien het en, as hy ‘n effense beweging sien, skiet hy. Daar is weer ‘n weerkaatsing, maar hierdie keer is dit asof dit op en weg beweeg.
Hy gly op sy maag agteruit, totdat hy weet hy is veilig, kyk rond vir die waterbottel en sien dit eenkant, teen ‘n graspol lê. Hy seil daarheen, kry dit in die hande en tot sy skok sien hy ‘n koeëlronde gat reg in die middel waar dit ingegaan het, en ‘n groter een by die uitgang. Selfs sonder water het dit die bottel groot skade aangedoen – dink net wat dit aan sy watergevulde kop sou doen… Wie ookal aan die ander kant is, kan skiet!
Hy seil weer na sy plek by die klippe, sit die bottel weer op ‘n stok en steek dit stadig uit, soos ‘n man wat huiwer. Niks gebeur nie. Hy waag dit om bo-oor die klip te kyk vir ‘n sekonde en steeds niks. Hy is egter nie baie gerusgestel nie, en sak weer af en wag. Na ‘n wyle herhaal hy dit, maar ‘n halwe meter na die ander kant toe. Nog net stilte.
Uiteindelik neem hy ‘n besluit, seil af na waar sy hoed is, en sit dit op. Stadig kruip hy ‘n ent met die koppie af en beweeg gebukkend aan die regterkant daarvan af. Daar is ‘n baie klein vallei onder die koppie, langs die volgende een en hy sak daar af, kyk na waar die sluipskutter gewag het deur die teleskoop, maar sien niks. Die man is òf raakgeskiet, òf het padgegee.
Nicolaas Verwey hardloop gebukkend van een rots na die volgende, van een doringbos na ‘n ander. Hy is uitasem van gebukkend hardloop, wag vir die gevoel van ‘n harde skop as ‘n koeël hom sou tref, en natuurlik van die opwinding. ‘n Paar treë later is hy by die voet van die lae koppie waar hy die man laas gesien the. Hy los sy geweer teen ‘n klip, haal die ou Webley Merk 6 uit die skede en hardloop boontoe, na waar hy hoop om die man te verras. Dis nie nodig nie.
Agter die rots, lê ‘n klein, skraal man. Die koeël het hom op sy linker skouerknop gevang, die been verplinter en ‘n baie groot, gapende wond in sy rug gemaak waar die .40 kaliber koeël uit is.
Hy is nie dood nie, maar nie ver daarvan af nie. Daar is niks wat Nicolaas vir hom kan doen nie. Hy hurk met sy rewolwer op die ou gerig, alhoewel dit duidelik is dat hy hom geen gevaar bied nie. Nadat hy hom half vraend aangekyk het, praat die man hortend en met baie inspanning. Nicolaas verstaan nie wat hy sê nie, maar dink dis Russies. Hy praat weer, in gebroke en swaar geaksensueerde Engels:
“You…are very good… better me. I am Yuri Bokarov. You? Give name?”
“Nicolaas Verwey. You almost had me.”
“Almost… not good enough. Take my ID. Don’t leave me for wolves.”
“There are no wolves in this country.”
“I mean those two leg wolves. Take my rifle, my wallet and ID…Salute you?”
Sy asem hou eenvoudig op. Nie met ‘n hoes of ‘n geroggel nie. Hy sterf net. Nicodemus haal sy ID en beursie uit sy hempsak en sit dit in sy eie, sonder om te kyk of daar geld in is. Hy sien tot sy verligting die man het ‘n driekwart-vol waterbottel by hom en ‘n heupflessie halfvol Vodka.
Die geweer is ‘n baie mooi Mannlicher in .338 Lapua Magnum kaliber. Bo-op is ‘n Nightforce teleskoop met ‘n hoë vergroting. In ‘n leerskede aan sy sy is ‘n baie duur nagsig-teleskoop. Aan die ander kant is ‘n Russiese Spetznatz mes. Nicolaas vat dit ook.
“Dis goed ek het nie gewag vir die donker nie,” dink hy hardop.
*
“Dêmmit!”
“Wat is dit, Retha?”
“Luister…hoor jy daardie harde, skerp klap van ‘n geweer en daarna die swaar, diep knal van ‘n ander een?”
Die twee vroue staan en luister. Die skote is ver weg, gedra op die effense luggie van die warm namiddag. Daar is ‘n ruk stilte en dan is daar weer ‘n skerper slag, gevolg deur ‘n dieper, amper meer gedempte een.
“Dink jy hulle sal ons in die hande kry? Moet ons dan nie nog verder ry, voordat ons kamp vir die aand nie?”
“Dis nie die probleem nie. Kan die man nie sien ek probeer ‘n bietjie spasie kry nie?”
“Ek verstaan nou glad nie, Retha. Jy het my iewers verloor.”
“Kyk, ek kan verkeerd wees, maar daardie eerste skerp skoot – dit is van ‘n vinnige, moderne geweer. En daardie diep een? Ek kan nie seker wees nie, maar dis ‘n ou, stadiger kaliber. Soos ‘n ou Remington enkelskootgeweer.”
“Hoe weet jy?”
“Ek het dit mos genoeg keer gehoor, ‘n ruk gelede.”
“Soooo… jy dink Nicolaas het ons agtervolg? En dis hy wat nou daar skiet?”
“Ek kan nie seker wees nie, maar ja, dis nege uit tien hy. Verbrande mansmens!”
Die laaste deel van die sin sê sy nie baie emfaties nie. Eerder met ‘n tikkie opgewondenheid en selfs ‘n bietjie bewondering.
Twee ure later hoor hulle ‘n perd proes. Die voetvalle is gedemp, maar tog duidelik genoeg as ‘n mens daarvoor luister. En luister is wat Retha al vir die afgelope uur en ‘n half doen.
“Ag, jong! Kom tog nader Nicolaas Verwey!”
“Hoe weet jy dis ek?”
“Dis net jy wat dink jy kan saggies loop en dan klink dit soos ‘n renoster op ‘n sinkdak.”
“En hierdie reuse groot vuur? ‘n Mens kan dit myle ver sien.”
“Ons wou mos nie hê jy moet verdwaal in die nag nie.”
Nadat hy saam met hulle geëet het, verskoon Lori haarself. Sy het nie regtig rede om iets te gaan doen nie, maar weet sy moet die twee in vrede laat om te kan praat. Nadat sy buite hoorafstand is, draai Nicolaas na Retha toe. In die lig van die vuur is sy nog mooier, met die gloeiende kole wat haar reguit neus, sagte mond en donker hare aksentueer. Haar oë blink.
“Hoekom het jy van my weggegaan?”
“Dis nie nét van jou af nie. Ek en Lori het gevoel ons kan meer doen as om net in die kamp rond te hang.”
“Maar van my af òòk?”
“Ja, Nicolaas, van jou af ook.”
“Hoekom, ek verstaan dit nie. Ek is mos lief vir jou.”
Retha vat sy groot regterhand in albei hare en kyk hom in die oë.
“Nicolaas, dis ook ter wille van jou. Jy moet leer om te vergewe. Eers dan, as jou hart skoon is, kan daar genoeg plek vir my ook wees.”
“Moet ek die mense vergewe wat my plaas aan die brand gesteek het en al my perde behalwe een laat doodbrand het? En my ouers vermoor het?”
“Jy moet.”
“En nou gaan jy seker sê ek moet die klomp linkse liberaliste en FW en Roelf en Pik en sommer die hele lot vergeef?”
“Jy moet.”
“Hoekom? Hulle het my lewe verwoes. Alles van my weggeneem.”
“En toe is jy sommer kwaad vir die Here ook?”
“Ek was. Ek bedoel, ek is.”
“Het ek dan niks vir jou beteken nie?”
“Natuurlik! Hoe kan jy dit nog vra?”
“As die dinge nie gebeur het nie, sou ons nie mekaar ontmoet het nie. Ek weet jou pa en ma en plaas en perde is nie die prys wat jy vir my moes betaal nie, maar sou jy my wou ruil vir al die dinge wat jy vroeër gehad het?”
Nicolaas is uit die veld geslaan. Hy het die afgelope jaar of wat se gebeure nog nooit in hierdie perspektief geplaas nie. Dis nie dat hy dom is nie, hy het immers ‘n Dlitt et Phil-graad in Bybelse Argeologie.
Hy ervaar weer die seer wat hy gehad het, nadat hy met ‘n kopwond en die gepaardgaande duiseligheid, sy pa en ma moes begrawe. Hoe die karkasse van sy geliefde perde gestink het in die brand, sy swerwerstog, die polisieman wat hom gekoggel het; alles is soos ‘n reeks fotos in sy kop ingebrand. Dan kyk hy na Retha en weet hy het haar bo die seer van sy verlede lief.
“Ek kan.”
“Jy kan wat?”
“Ek kan vergeef.”
“Nou doen dit. En vergeef sommer jouself ook.”
“En dan?”
“Dan kan ek en jy weer saam met die Here aan ‘n toekoms dink.”