Gister was dit die jaarlikse herdenking van die grootste weldaad wat daar ooit aan die mensdom bewys is: die kruisiging van Jesus wie in ons plek vir ons sondes moes ly sodat ons die ewige lewe kon verkry; dit was Goeie Vrydag – in elkgeval vir sommige. Vir die meeste van die Afrikanervolk was dit 'n dag van groot jolyt, sommige reeds by hul langnaweekbestemmings, ander nog op die pad. En soos tydens die meeste Paaslangnaweke was daar sommer vroeg Donderdagaand reeds 'n hele aantal sterfgevalle op die besige landspaaie in die groot uittog na plesier. Vir dié wat die uittog op die pad oorleef het, het die druk verkeer deur die nag hulle eers baie ure later laat arriveer en kon hulle seker Vrydag goed uitrus.
Maar daar was ook diegene wat, waar hulle ookal Vrydagoggend was, die behoefte gehad het om die versoeningsete saam met die HERE te eet, in die woorde van Jesus tydens sy laaste nagmaal voor sy kruisiging, "Ek het sterk verlang om hierdie pasga met julle te eet ..."
Dit het getroos om te weet dat hulle soos ek die begeerte gehad het om saam met ons HEER aan tafel te wees; en te weet dat ek nog 'n geleentheid gekry het om my lewe voor Hom reg te maak en dank aan Hom kan betuig oor die geskenk van 'n EWIGE LEWE wat Hy vir my aan die kruis gebring het.In hierdie vreugdesviering het God se opdrag weer duidelik gespreek met die voorhou van Levítikus 16 waarin Hy dit onomwonde stel dat dit vir sy kinders 'n ewige insetting moet wees om een maal per jaar versoening vir hulle sondes te kom doen. Nadat Hy aan die kruis gesterf het, het daardie "ewig" nie weggeval nie maar verwag Hy van ons om steeds een maal per jaar as uitgenooides vir hierdie ete op te daag; en as ons ons saak voor Hom uitgemaak het deur ons sonde te bely en te laat staan, dan in dankbaarheid saam aan te sit en dit doen tot gedagtenis aan Hom, soos Hy gevra het tydens sy laaste nagmaal op aarde - Lees weer Lukas 22.
Onwillekeurig het ek aan die afgelope paar jaar se Geloftevieringe op 16 Desember gedink wat nuwe lewe gekry het vandat ons volk sedert 1994 weer in 'n groot oorlewingskrisis staan. Dit is elke keer 'n belewenis om veral die afgelope drie jaar te sien hoeveel meer en meer duisende Blankes by die Voortrekkermonument en ook op talle ander plekke op 16 Desember die Geloftedienste bywoon. Daar is net een gewaarwording wanneer mens daar tussen jou mense staan, en dit is dat ons volk die noodsaaklikheid van die nakom van hulle voorouers se belofte aan God om daardie dag te herdenk en soos 'n Sabbat deur te bring, begin verstaan en respekteer. Dit is duidelik dat hulle dit in verband begin bring met die lyding, onderdrukking en stelselmatige uitwissing van ons volk onder 'n Swart kommunistiese owerheid.
Daarom het ek gister gewonder wanneer dit tot ons volkie gaan deurdring dat daar ook ander geloftes áán, en opdragte ván God is wat nagekom moet word alvorens ons weer genade van Hom sal ontvang. Sy Woord is baie duidelik daaroor dat Hy ons land sal genees wanneer ons na Hom in gehoorsaamheid terugkeer. Sou dit wees dat hulle nog nie besef dat Geloftedag nie die enigste dag in die jaar is wat Hy van ons eis nie?
Die Geloftevolk Koördineringskomitee is tans besig met 'n bewusmakingsveldtog van belangrike dae wat ons aan die Here verskuldig is om soos 'n Sabbat deur te bring. Die 16 Desember-Gelofte, die Paardekraal-Gelofte, en die 6e April-Gelofte deur Jan van Riebeeck, is drie van die belangrike dae waaronder andere hulle nou aan aandag gee. Dit is die fondament vir ons volk se terugkeer tot God; eers dán kan ons aanspraak maak op Goddelike beskerming en redding van ons volk wat andersins 'n totale volksmoord tegemoetgaan.
Ons moet ook bid dat die noodsaak van elke ander dag deur Hom geëis, ook Goeie Vrydag, weer tot ons volksgenote sal deurdring, sodat dat dit nie te laat sal wees teen die tyd wat ons as volk bereid is om ons geloftes en ons Goddelike opdragte uit te voer nie.
Erns van die opdrag in Levítikus 16:
En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees; in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie – die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.
Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al jul sondes moet julle voor die aangesig van die HERE gereinig word.
'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is 'n ewige insetting.
En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen.
Kom ons maak volgende jaar van Goeie Vrydag 'n werklike GOEIE VRYDAG!