VEROOTMOEDIG! GOD KOM ONS VOLK VERLOS

Adriaan Snyman vertel:

Ek en my vrou is die aand genooi na ‘n geselligheid vir die viering van mnr. PW Botha se 85ste verjaarsdag op 10 Januarie 2001 te Wilderness.

Nadat die heildronk ingestel is, het een van die gaste, ‘n Engelssprekende persoon gevra of hy ‘n gebed vir mnr. Botha kan doen. (Ek het later verneem sy naam is Sandy Gush en dat hy ‘n narkotiseur by die George-hospitaal is).

Onder sy gebed vra hy toe vir God om die Boervolk wat Hy so baie, baie liefhet by te staan en te beskerm in die tyd wat voorlê. Ná sy gebed is tee bedien en ek stap toe oor na Sandy en wou by hom weet wat hy daarmee bedoel het toe hy gevra het dat God die Boervolk wat Hy so baie, baie liefhet, moet bystaan en beskerm?

Toe vertel hy aan my die volgende verhaal:

“Ek was verlede jaar in Jerusalem saam met ‘n groep Christen-Jode wat die Loofhuttefees gevier het, en terwyl die verrigtinge aan die gang was, kom daar twee jongmanne by die saal ingestap en gaan praat met die programleier op die verhoog. Hy vra toe oor die mikrofoon of daar ‘n persoon in die saal is met die naam Sandy. Ek kyk toe rond, en toe niemand reageer nie, steek ek my hand op.

“Die twee jongmanne kom toe na my en sonder om hulleself voor te stel, sê die een: ‘Jy is van Suid-Afrika, nie waar nie?’ Ek was heeltemal uit die veld geslaan, want ek ken hulle van geen kant nie, en wou toe weet wat ek vir hulle kan doen. Hy sê toe vir my ‘God het ons met ‘n boodskap na jou gestuur. Daar is twee dinge waarvoor Hy baie lief is. Die een is kinders, en dit bedroef Hom om te sien wat vandag aan kinders gedoen word en een van die ergste misdade is om ongebore kinders in die baarmoeder te vermoor’.

“Ek het saamgestem dat dit ‘n gruwel is. En wou toe weet waarvoor God nog lief is. Toe sê hy aan my: ‘God loves the Boer nation very, very dearly’.

“Dit het my voete onder my uitgeslaan, want ek moet eerlik wees, ek as Engelsman het in daardie stadium nie veel liefde vir die Boervolk gekoester nie. Sy volgende woorde het my nog meer geskok: ‘God het ons met hierdie opdrag na jou toe gestuur. Jy moet teruggaan huis toe en elke dag in jou binnekamer op jou knieë gaan en met jou aangesig teen die grond vir hierdie volk bid; en jy moet aanhou bid totdat jou trane loop!’

“Ek het hulle so gekyk en ek vra, hoekom? Waarom? En hy sê vir my ‘daar kom in die nabye toekoms ‘n verskriklike ding oor hierdie volk en hulle sal elk gebed nodig hê’.

“Na afloop van die Huttefees het ek na Suid-Afrika teruggekeer en tot vandag toe nog nie één dag oorgeslaan om vir jou volk te bid nie…”

As ons Vader dan ‘n Engelsman opdrag gee om vir ons as volk te bid, hoeveel te meer sal Hy dit nie van onsself verwag nie? Hy het dan ook by monde van sy profeet Nicolaas van Rensburg die volgende boodskap aan ons as volk oorgedra: “Kom buig die knie voor My – verootmoedig julle – en Ek sal julle uit die hand van jul vyande verlos!”