Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Terminale siekte laat ons opnuut besef dat ons tyd min geraak het. Tyd is nie ons reg nie; dis ‘n voorreg. Ons besit dit nooit. Dis aan ons geleen, ja, ‘n kosbare stukkie leengoed uit die hemel. Die sekerheid van ‘n ewige lewe laat ons egter berus dat ons veilig in God se hand is. Niks wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie.
DIE SINDROOM VAN NASIONALISME
C J Langenhoven het gesê die verskil tussen die persoon en die volk is dat die persoon terugkyk en ’n wiegie sien en vorentoe ’n graf. Maar by ’n volk is dit omgekeerd. Hy kyk terug en sien ’n graf en vorentoe sien hy ’n wiegie.
In ’n tyd soos die waarin ons nou leef, is daar baie verwarring en teenstrydighede. Daar word geknaag aan mense se geloof, getorring aan hulle opvattings, gepluk aan hulle beginsels.
Vir ons wat geloof het in die bestemming van die Afrikanervolk in Afrika is dit goed om in ’n tyd van onsekerhede te kyk na die grondslae van ons volksbestaan en die lewensbeskouing van waaruit ons gegroei het.
In Suid-Afrika is Afrikanernasionalisme ’n mag wat opgewek kan word en baie planne van vyande in die war kan stuur, want Afrikanernasionalisme is die skeppende, drywende mag wat hierdie land gemaak het tot die sterkste staat in Afrika.
In die Suid-Afrikaanse politiek is nasionalisme nie ’n eng party-politieke begrip nie. “Nasionalisme” is deel van die name van verskillende politieke partye in Suid-Afrika — die Nasionale Party, die Herstigte Nasionale Party, die African National Congress en vroeër die Verenigde Nasionale Suid-Afrikaanse Party, die Nasionale Unie, en in 1979-81 die Konserwatiewe Nasionale Party. Die begrip sny dus oor party-politieke grense.
Omdat “nasionalisme” ook op ’n -isme eindig en daarom by die ander -ismes geskaar word, word dit deur teenstanders saam met ander -ismes as “’n ideologie” bestempel en geredelik so aanvaar, omdat dit soos ander - ismes met die politiek te maak het.
Dog, nasionalisme, anders as ander -ismes, gaan om die werklikheid— die werklikheid van volke-verskeidenheid. Sonder hierdie basiese feit van die lewe kan daar geen sprake van nasionalisme wees nie. Dus, anders as ander -ismes, soos die liberalisme en Kommunisme, gaan nasionalisme uit van die werklikheid van die lewe, en nie van ’n abstraksie wat die werklikheid misken en wil verander nie.
Kommunisme is die natuurlike vyand van nasionalisme, omdat Kommunisme intemasionalisties, of liewer onnasionalisties is. Dit wil grense tussen volke uitwis. Dit is behep met die idee van een beskawing, een ras, universele eenselwigheid en die uitdelging van rasse- en kultuurverskille om die weg te berei vir ’n raslose klomp lopende lyke.
Nasionalisme beoog om vir toekomstige geslagte te bewaar en te beskerm wat aan ’n volk en sy mense behoort. Die nasionalis redeneer vanuit die werklikheid van volke-verskeidenheid wat tot stand gekom het as ’n skeppingsdaad. Dit glo in die onoorwinbare grootheid van die menslike gees en die ondergeskiktheid daaraan van alle ekonomiese en materiële oorwegings. Dit is derhalwe nie, soos ander -ismes, ’n politieke stelsel wat in abstraksie gekonsipieer is en aan ’n werklikheid opgedwing word nie. Dit rus op die natuurlike geneigdheid van die mens, en nie op ’n aangeleerde houding wat indruis teen die lewenswette nie.
Hierdie -ismes wil, in teenstelling met nasionalisme, die grense tussen volke verplat, die kulturele identiteite vervaag, en mense as blote enkelinge of as ’n massa behandel, waardeur nasionalisme as ’n bewegingsmag uitgeskakel moet word.
Die nasionalisme is eintlik a-ideologies, omdat dit die vitale bevestiging van ’n volk se wil tot voortbestaan is, die uiting van sy hartstog vir die lewe en ’n geloof aan ’n bestemming. Vanuit die aanvaarding van die veelheid van volke dink die nasionalis aan ’n ordelike saambestaan in die wêreld volgens vaste lewenswette.
Dit dan, kan beskou word as die sindroom van die nasionalisme, in teenstelling met die sindroom van die liberalisme en die sosialisme.