GEDAGTE VIR DIE DAG

"Pilatus sê vir Hom: Wat is die waarheid?" – Johannes 18:38

Pilatus het goed geweet wat die waarheid was, maar het onder druk van die Jode (terwyl hy geweet het Jesus is onskuldig) steeds voortgegaan om die gepeupel ter wille te wees.

Hy het ook gemaak of hy nie verstaan wat Jesus bedoel met: "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie". Uiteindelik verloor Pilatus die stryd teen sy eie gewete!

Pilatus se sonde, sy politieke bande, sy vrees, bind hom om Jesus nie vry te laat nie. Pilatus se morele agteruitgang het stap vir stap tydens die verhoor van Jesus van hom 'n patetiese, vreesagtige pion gemaak en hom verbitterd gelaat.

Die les hieruit vir ons is dat ons lewens in die waarheid gegrond moet wees. In Jesus se woorde moet ons die stem van God hoor anders sal ons lewens ook in ongeloof en bitterheid eindig!