Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy naby God en sy oneindige genade leef hoef jy nie iets te sê nie; dit wys op jou gesig.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (9)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Net soos goed en sleg afhanklik is van ‘n perspektief, is berug en beroemd bloot twee kante van dieselfde muntstuk. Diek en sy manne het meer as net ‘n blaas op die voet van die vernietigers geword en as hulle hom en sy mense sou beskryf, sou hulle berug wees. Hulle is amper soos Dawid en sy bende misplaastes vir die bietjie wat oorgebly het van die regering en diegene wat elke blanke uit die land wil uitkry, deur geweld, marteling, brand, verkragting en moord.
Vir dié aan die ander kant van die spektrum, die gematigdes, wetsgetroues van weleer, intelligente bekwames, wat vrede en voorspoed nagejaag het, totdat hulle deur eersgenoemde groep uitgerook en verbrand sou word, is dit ‘n beroemde bende, mense wat jy graag naby jou sou wou hê.
Soos hulle met bekwaamheid en weldeurdagtheid – en in ‘n groot mate met genadelose optrede - opereer, gebeur dit dat daar sporadies iemand is wat by hulle wil aansluit. So ‘n persoon, hetsy man of vrou, word deeglik ondervra en gekeur. In meer as een geval is iemand gevra om eerder te gaan, as om aan te sluit. So ‘n persoon word ook goed dopgehou vir ‘n hele tyd en na die geringste fout, word hulle kos gegee en gevra om liewer te gaan. Tog het die bendetjie vanaf die eerste twintig oud-stryders, gegroei met meer as vyftig persent, ten spyte van die paar hartseer ongevalle.
Steeds het hulle geen naam nie en dit dra in ‘n mate by tot hulle skim-agtige bestaan. Net soos wat daar in die dae voor die oorlog ‘n paar manne was wat vermy is, omdat hulle oud-soldate is, manne wat vrede nagejaag maar nie nonsens geduld het nie, so word hierdie klomp ook deeglik vermy. Mettertyd groei daar natuurlik ook legendes rondom hulle, sommige wat bewonder moet word en ander wat net so erg veragting teweeg bring.
Die een man se skurk is ‘n ander se held.
*
Paul besef skielik hy is totaal en al uitgeput. Die geveg het sy krag getap op so ‘n wyse dat dit nie geleidelik aangebreek het nie, maar skielik en oorweldigend. Sy asem kom gejaagd en brandend, sy arms is tot in die skouerpotjies seer, sy hartklop is ver bokant dit wat hy gedink het moontlik is. Hulle kan nie baie langer so aangaan nie. Hy het ook nie veel ammunisie oor nie, en met die paar maal wat die aanvallers half teruggeval het om net weer te groepeer, het darem vir hom kans gegee om die ou Poena te herlaai. Hy kan nie verstaan dat die mense nie maar bes gee en weggaan nie, siende dat soveel van hulle reeds gesterf het.
Skielik is daar die gebrul van ‘n enjin en die aandag van die spul rondom hom word verdeel. Die Volksawagen Syncro bars tussen die gemaal deur en kom halt langs die Land Cruiser. Die bosbreker aan die voorkant van die voertuig is teruggebuig, sodat dit teen die bakwerk druk, maar dit blyk nie dat die verkoeler seergekry het nie. Die enjin word afgeskakel en ‘n lang arm kom by die bestuurderkant uit. ‘n Groot, vlekvryestaal rewolwer verskyn en die skote klap. Nogtans is hulle situasie benard, met die klomp lywe wat rondom hulle maal.
Paul het die volgende magasyn leeggeskiet en slaan weer wild met die Poena na mense wat probeer om op die Cruiser te kom. ‘n Tuinhark kom tussendeur en hy pluk net betyds sy voet terug. Die twaalf tande van die nuwe hark kap feitlik weg in die metaal van die enjinkap, wat nou diep gebuig is van Paul, Hannie en ander se gewig. Die twee flikkerligte op die modderskerms is lankal afgebreek.
Paul besef skielik hulle het die geveg verloor – daar is net te veel aanvallers vir hulle groepie en alhoewel die ander mense saam skiet en slaan, is dit net te veel. Hy stamp ‘n groot, geswete gesig met die onderkant van die kolf weg van hom af, maar die krag is uit die hou en hy verloor sy balans, sak op een knie op die enjinkap neer en kom met baie moeite weer regop.
Iemand gryp sy regtervoet onder hom uit en hy gaan sit op sy boude teenaan die windskerm. Nog ‘n paar hande gryp die Poena uit syne. Hannie word van die voetuig afgepluk en sy verdwyn tussen die malende skare langs die kar in. Hy hoor hoe sy nog twee desperate skote van die grond af skiet, maar dit hou ook op.
*
Vir ‘n paar dae is hulle grootste vyand die geweldige verveling. Ten spyte van die bordspeletjies, skaakstel, meer as ‘n honderd storieboeke in die rakke, die wagstaan, wapens skoonmaak en droë skote wat hulle oefen, is hulle tot die dood toe verveeld. Hulle leef van een ete na die ander, maar besef dit kan ook klaar raak. Dis vreemd dat mense geleentheid soek om by mekaar te kuier, maar as dit op jou afgedwing word, dan is dit nie meer lekker nie. Dries moes ‘n paar keer ingryp as humeure as gevolg van frustrasie begin opvlam en kwaai woorde begin val.
Op die oggend van die negende dag hoor hulle die stemme van ver af, skuins bokant hulle, van Waterkloof-Rif af. Versigtig om nie aandag te trek nie, kyk hulle oor die muur aan die linkerkant. Hoe ver loop die klomp al? Dit sing en dans, maar nie uit blydskap soos in ‘n oorwiningsviering nie, eerder dreigend en kwaad, soos mense wat te nagekom is.
Hulle sou ook nie verkeerd wees as hulle die geraas so opsom nie. Die mense is kwaad. Hulle is kwaad omdat hulle honger is, omdat hulle gisternag koud en nat geslaap het in die misreën wat hier oor die suidelike hange uitgesak het. Hulle is woedend omdat die kinders kla van ongemak en honger, omdat die huise wat belowe is, nie gebou is nie, die water steeds aangedra moes word, die elektrisiteit gesteel moes word, werksgeleenthede skaars was en skaarser geword het.
Hulle is kwaad oor puttoilette en onbekwame onderwysers wat hulle kinders mishandel in plaas van te leer. Hulle is kwaad omdat die maatskaplike toelae (SASSA) gestaak is, omdat die winkels nie kos gratis wou weggee nie en die lorries nie opgedaag het om die rakke weer aan te vul nie.
Hulle is kwaad oor Mandela wat nie ‘n reënboogparadys geskep het nie, Mbeki wat homself bo die gepeupel verhewe gehou het, Zuma wat maar van een hofverskyning van die ander voortgeploeter het en uiteindelik die lamsakkigheid van Ramaphosa.
Hulle is kwaad omdat die regeringsamptenare in mooi huise gebly het, terwyl alles vergaan het, die duur karre wat hulle met hulle armoede moes finansier, die weelderige leefstyle wat nie ieder en elkeen kon bekostig nie.
Maar bo alles is hulle kwaad vir die blankes wat nie net oorgee nie, maar terugveg.
Dries, Jan en die ander se strategie is eenvoudig: hulle maak dit te moeilik en te duur om oor die heining te kom, om in die huis te kom, om hulle uiteindelik dood te maak. Soos ‘n stroom weerskante van ‘n struikelblok sou vloei, hoop hulle om die stroom aanvallers weg te keer na ‘n ander straat toe. Die feit dat hulle hulle bure, vriende die kinders se skoolmaats en dié se ouers van ‘n paar maande gelede in gevaar stel en uiteindelik opoffer, is ‘n saak waaroor hulle anderdag met hulle gewete sal uitmaak.
“Elke kop wat uitsteek, skiet julle. Ek weet dis nie maklik om iemand se lewe te neem nie, maar dis òf hulle, òf ons en ons kinders.”
Die keuse is nie moeilik nie. Ook hierdie dinge sal hulle anderdag verwerk. Dis nou as daar ‘n anderdag is.
“Ek wens ons kon net ‘n langer waarskuwing kry!”
“Jan, ons is mos al lankal gewaarsku. Ons wou net nie hoor nie.”
*
Judas het die beste gedoen wat hy kon, om ‘n slegte saak te beredder. Toe hy seker was dat Jesus nie ‘n aardse koninkryk kom vestig nie, toe hy tot die besef gekom het dat hy nie die minister van finansies sou wees daarin nie, het hy Hom verraai vir dertig silwerstukke – ‘n goeie bedrag in daardie tyd vir ‘n arm volgeling van Christus – die destydse prys van ‘n slaaf.
Toe die Evangelie nie meer die trefkrag gehad het om mense se koppe te swaai in die politiek nie, het kerke dit begin verruil vir geld. Die reddende krag van die Woord is verskraal tot aardse rykdom, gesondheid en voorspoed.
Op dieselfde manier het die bevelvoerders van die polisie besef dat die regering nie ‘n volhoubare Utopia geskep het nie, waarin elke kader in weelde gaan leef en het van beskikbare uitrusting en toerusting gebruik gemaak om hulle eie krygsparadys te skep. Aanstellingskaarte, uniforms, glimbaadjies, voertuie, vanaf blitspatrollie-sedans en bakkies met staalkappies agterop, tot ‘n paar diensbare Casspirs en Nyala’s is ingespan. Handwapens, haelgewere en ourtomatiese gewere is gebruik om die oortuiging te doen indien iemand hulle daarteen sou verset.
Impromptu padblokkades is opgestel en elke voertuig wat afgetrek het, is beroof, met die insittendes wat in meer gevalle as nie, betaal is met lood. In hierdie euforie van onaantasbaarheid het die waaglustigheid al groter geword. Daar was inderdaad geen mens of mag wat hulle meer kon terughou nie.
Die weermag is vir drie maande nie betaal nie en die soldate, van alle range, het in plaas van net te dros, hulle salarisse by die burgers gaan trek. Hulle het nie fakture of aanmaningsbriewe gebruik nie, en dit was nie nodig nie. Ook hulle het al die voertuie tot hulle beskikking gebruik, en in hierdie geval bakkies, sedanmotors, maar ook Samils, Ratels, Casspirs, ‘n aantal diensbare Buffels en twee van die oorblywende Olifant Merk 2’s, wat die strate van Johannesburg en Pretoria deurkruis het, tot hulle brandstof klaargeraak het. Met R4’s, .50 Brownings, mortiere en selfs 20 millimeter kanonne, het hulle die strydveld betree.
Onvermydelik het daar konflikte tussen die twee gewapende uniformmagte uitgebreek. Daar kan slegs een oorwinnaar in hierdie stryd wees en die polisie het gemeen hy het die oorhand. Die strate rondom die Paleis van Justisie het in ‘n slagveld ontaard, waar die siviele mense weggebly het en met ingehoude asems gewag het om te sien wie die barbaarse podium gaan bestyg.
Die skermutselings het dae lank aangehou en die strydende magte het wipplank gery, totdat daar ‘n versigtige, maar onuitgesproke en brose wapenstilstand uitgebreek het. Uiteindelik, na baie onderhandelings, is die kragte saamgesnoer en is albei die uniforms, blou en gekamoefleer, as bondgenote erken. In die proses het hulle die gesamentlike aantal soldate en polisiemanne se totale mannekrag met meer as vyftig persent verminder.
Skoon aangedaan met hulle nuutgevonde vriendskap, het die bevelvoerders van beide magte besluit om die gebruiklike fees te vier. Hiervoor moes drank vir bykans tagtig duisend manne gevind word, en is die drankwinkels weereens geteiken. Na die derde mislukte poging, het hulle besef dat ‘n RPG die kwaadwillige manier het om nie net die deure af te breek nie, maar ook die gebottelde inhoud te verpletter. ‘n Ratel en kettings is hierna gebruik.