Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Abraham Lincoln het gesê: ’n Mens is so gelukkig as wat hy besluit om te wees. Jy kan ook op net soveel geluk aanspraak maak as wat jy bereid is om te gee; nie meer nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die verdedigers by die voertuie hoor die ver-af knal van Basjan se geweer, oor en oor. Na ‘n paar skote word die mortiere stil. Hulle hoor egter hoe die skote steeds voortgaan, bo die geknetter van die kleiner wapens van die aanvallers.
Basjan sien ‘n groep aanvallers, tussen die mortiere en die verdedigers en verstel sy hoogte en verander van teikens. Hy kies eers diegene uit wat soos leiers lyk, dit wil sê diegene wie se uniforms nuwer is, meer handgebare vertoon en lyk of hulle op die ander skreeu.
Die trefkrag van die magtige .338 is fenomenaal, selfs op hierdie afstand. Dit skiet nie net raak nie, maar stukkend.
Lank gelede het krygers die waarde van ‘n bekwame skerpskutter agtergekom. Daar is in die Eerste Wêreldoorlog, by geleentheid, hele bataljons lamgelê deur ‘n paar goedgeplaasde skerpskutters. Daar is min dinge so demoraliserend as koeëls wat rondom jou mense doodmaak en jy weet nie eens naastenby vanwaar dit kom nie. In sulke omstandighede lê almal so plat hulle kan, soek die beste skuiling, hetsy ‘n uitgeholde stuk aarde, ‘n paar klippe of ‘n bossie. En steeds word die een na die ander manne rondom jou getref. Niemand word dan as ‘n lafaard beskou as hy die enigste ander opsie moontlik benut nie: jy gooi jou wapen weg en hardloop. So vinnig moontlik weg. Ver weg. En jy kom nie terug nie.
Uiteindelik kom die verdedigers so vinnig as moontlik nader, staan, kniel of hurk en skiet na die manne soos hulle padgee. Dis deel van Afrika om dapper te wees as jy in die meerderheid is, groter of sterker as die ander een. Maar as die bordjies verhang word, is dit die beste om te vlug. En as jy vlug, gooi jy alles neer.
Die manne by Basjan sal later gewere, ammunisie, klere en selfs stewels in die veld kry. Hoe sê hulle nou weer:
Better to run and hide today, in order to run and hide again another day.
Basjan is tevrede dat hy niks verder kan doen nie, maar draai sy lyf sò, dat hy agter sy knie kan kyk. Hy haal die mier, wat steeds byt dat sy hele lyf krom trek, van sy knie se agterkant af. Hy hou die poot-swaaiende diertjie tussen duim en voorvinger vas. Dis duidelik aan die koppie wat weerskante toe draai en die knypers, wat te groot lyk vir die lyfie, dat die mier steeds na hom wil byt.
“Okay Dis nou genoeg. Gaan soek jou maatjies.”
Dan sit hy die mier neer en klim van die stukkie berg af. Hy voel ‘n bietjie uitgerafel. Sy knieë is vel-af, sy skouer seer van die skop van die geweer en hy het ‘n styfte oor sy blaaie.
“I’m getting too old for this kind of shit.”
*
Vasie, die radioman by Kamp Vasstaan, aan die voetpunt van die Soutpansberge, het vir Nicodemus kom inlig rakende die gebeure anderkant Ottoshoogte, waar hulle, net soos aan die Suide, Weste en Noordekant van die dorp, wagte uitgesit het.
Vasie het die hele geveg op die radio meegemaak, sover as wat hy kon. Nicodemus staan nou by die Suid-westelike ingang van die kamp en wag. ‘n Kwartier later kom die Touareg en die bakkie aangery, met ‘n Land Rover en ‘n Hyundai op sy hakke. ‘n Man in sy vroeë vyftigs, twee kinders en ‘n hond klim uit die kar en kom aangeloop. By Nicodemus staan ‘n mooi blonde vrou, Tamar, en Martie, die kampmatrone, en wag.
Langs hulle staan ‘n ander mooi vrou, in haar laat veertigs. Sy is lank en sterk, maar mooi gebou. Sy het ‘n pomp-aksie haelgeweer oor haar skouer. Sy het grys-blou oë en grys hare wat goed versorg is. Haar houding spreek van selfvertroue en beslistheid.
“Welkom, boet. My naam is Nicodemus Verwey. Ek is die leier van hierdie groep mense. Hierdie is Tamar en Martie. En langs ons is Retha Duncan. En julle is?”
“Ek is Basjan Jones. Hierdie is my kinders, Jona en Bella.”
“Waar is julle ma, kinders?”
“Sy is dood, Oom, saam met ons eerste pa.”
Nicodemus se wenkbroue lig in ‘n vraagteken.
“Hulle… ai. Dis ‘n lang storie.”
“Dis goed. Jy kan later vertel.”
“Wie is jy, Meneer Jones?” vra Tamar.
“Ek is ‘n smokkelaar, mevrou.”
“Nee, Tannie,” sê Bella. “Hy is ‘n held.”