Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde reken die kwaad nie toe nie...
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (17)
083 444 7672)
“Ag nee, ons is te laat!”
Die plek smeul nog, met n bietjie rook wat uit die gebrande toonbank kom. Die vensters is natuurlik almal uitgeslaan en hulle moet oor die glasstukke loop, wat kraak onder hulle stewels en skoene. Van die katte en hondekossakke is oopgeskeur en dis duidelik dat honger mense daaraan geëet het. Dit stink na gebrande vleis en geskroeide hare. Die gil wat Drienie gee, is een wat uit haar geknakte siel kom.
“Ag nee!”
Agter in die praktyk is ‘n goeie veertig hokke, waarin katte en honde na operasies versorg is. Die vlamme het die diere se hare begin skroei en dit laat ‘n bitter reuk in die lug hang.
“Hoe kan mense so wreed wees? Kyk wat het hulle gedoen!”
Dis duidelik dat die honde en katte met iets lank en skerp gesteek is. ‘n Jong Pitbull-reun se snoet en wange is bebloed gelaat, soos hy probeer terugbyt het aan wat ookal gebruik is om hom dood te martel.
Dis ook duidelik dat stukke van die diere geëet is.
Uiteindelik draai Drienie om, soek tussen die dieremedisyne wat op die grond uitgegooi is, na heel ampules en bottels, gaas, pleister en verbande, wat sy in die papier van ‘n effens verskroeide telefoongids se bladye toedraai en in haar en Diek se drasakke sit. Dis duidelik dat sy so vinnig as moontlik maak, om weg te kom van dit wat sy voorheen so lief gehad het.
By die stukkkende deur hoor Gert iets agter hulle. Hy draai om en loop haastig terug na die hokke, waar hy een-een tussen die dooie diere soek. Die slotte is gebrand, maar kan nog oopkom en hy maak die hokkie oop waar ‘n Boxer-teef en haar kleintjies lê. Hy skuif die dooie dier uit die pad en half onder haar, by die drie dooie kleintjies, is ‘n beweging – die geluid wat Gert gehoor het. Dit sal seker nooit kan bepaal word of sy die kleintjie doelbewus met haar lyf beskerm het en of sy nog gesoog het nie, maar skuins onder haar lê die hondjie. Haar ogies is nog net halfpad oop en sy mondjie soek na sy ma se tepel, terwyl sy saggies tjank. Gert haal die brakkie versigtig onder haar ma uit, dra na Drienie toe, waar hy dit woordeloos vir haar aangee. Drienie vat die diertjie saggies by Gert, sit dit onder haar baadjie in en hou haar vas met haar linkerhand.
“Ek wil ook ‘n vuurwapen hê. Iemand wat dit aan hulpelose en woordelose diere kan doen, sal tot enigiets in staat wees.”
*
Paul is skaars bewus van die beweging langs hom, totdat sy ore tuit van die knal. Hannie het langs hom op die rots kom sit en sy skiet na alles wat beweeg. Die geweer wat sy gebruik is nie haar Ruger .44 Magnum nie, maar iets anders. Paul praat nie, vra nie en hou nie op skiet nie.
Sodra hy die voorste paaltjievisier presies in die middel van die gaatjiesvisier het, met die teiken duidelik daar voor, wat in hierdie geval ‘n man is wat vinnig tussen skuilings hardloop, trek hy die skoot. Dis nie so ver weg dat hy moet voorgee nie en die koeël tref amper dieselfde oomblik as wat hy die sneller trek.
Hy werk die ou Poena se slot so vinnig as wat sy hand dit kan opklap, agtertoe en weer vorentoe-af, sonder om sy wang van die kolf af weg te vat. Langs hom knal Hannie se geweer feitlik sonder ‘n pouse tussen skote. ‘n Harde “pieng!” is duidelik hoorbaar as sy die laaste skoot trek. Die aksie bly oop en as sy die nuwe “clip” met agt rondtes instoot, pluk sy haar vingers net betyds weg as die aksie outomaties toeklap.
Een van die kinders, Klonkie Mynhardt, maak ook sy verskyning. In die skouer van sy tienjaar-oue lyf is ‘n ou CZ Brno .22 geweer met ‘n Zeiss teleskoop. Asof hy paddavissies in ‘n plaasdam skiet, so bly sy gesig uitdrukkingloos as hy skoot vir skoot saam met die grootmense skiet. Elkeen van sy skote tref, al is dit nie almal ‘n doodskoot nie.
Die Lexus, die Kombi Syncro en die Toyota bakkie is die laaste voertuie wat opgesleep word. Joe se redenasie is eenvoudig: as hulle moet wegjaag, is dit die voertuie wat die moeilikste oor die ruwe veld kan kom.
Paul voel aan sy sakke en besef hy het nog net so twee magasyne se rondtes oor. Die ander lê in die Land Cruiser. ‘n Toeter word aanhoudend agter hom gedruk en as hy omkyk, sien hy tot sy verligting dat al die voertuie en mense aan die bokant van die lae kransie staan. Joe wys met ‘n swaai van sy arm dat hulle moet aankom.
“Kom, julle!’
Hy gee ‘n klappie op elkeen van Hannie en Klonkie se rugge en dan val hulle terug, terwyl die skote van die krans af knal om vir hulle dekvuur te gee. Hy gee vir Klonkie en Hannie elkeen ‘n hupstootjie aan die voet van die krans, skiet weer drie vinnige skote na die klomp wat aangehardloop kom en volg die twee tot bo-op. Al die mense, behalwe vir Joe en nog twee ander manne wat nog besig is om te skiet, is reeds in die voertuie.
“Skakel die Cruiser solank aan, ek kom!”
Hannie luister vir ‘n verandering, gee in die hardloop Joe se M1 Garand vir hom terug, vat haar Ruger by hom en hardloop na die Land Cruiser, skakel aan, wag vir Joe om sy Mercedes aan die gang te kry en, met Paul en Klonkie veilig, vertrek hulle. Die skote wat die bende agter hulle aanstuur, is skadeloos, behalwe twee of drie wat in die agterflap van die Toyota bakkie se bak vasklap. Paul kyk na Hannie, sien dat sy bleek is, maar met rooi blos op haar wange. Sy voel dat hy haar aankyk, los die rathefboom net lank genoeg om sy hand ‘n vinnige drukkie te gee en ry om op Joe se stert te bly.
“Hey, Klonkie! Jy is ‘n dapper man, hoor!”.
Klonkie antwoord Paul deur oor die kant van die Land Cruiser te buig en op te gooi oor die klipperige grond. Hy los die geweertjie nie vir ‘n oomblik nie.
*
Die pad na genesing is soms langer as wat ‘n mens dink. Anders as hoe dit in flieks en cowboy-boeke uitgebeeld word, is veral ‘n skietwond uiters traumaties. ‘n Skoot met ‘n moderne hoësnelheid wapen in die been byvoorbeeld, laai soveel hidrostatiese skok af na die liggaamsdeel, dat dit momenteel lam gelaat word. Daar is nie so iets soos die wond met jou hand toedruk en kruppel-huppel terwyl jy die vyand afmaai met jou betroubare .45 Colt nie. Nee, totdat die skok afgewerk is, behoort daardie been nie aan jou nie en jy het geen sê daaroor nie. Wanneer die skok afgewerk is, kom pyn met mag en mening terug.
Die dieremedisyne is nie so verfyn soos dieselfde middel vir menslike gebruik nie, maar met die regte sorg kan dit baie effektief aangewend word. Die antiseptiese middels wat Drienie gaan kry het, werk vinnig en doeltreffend. Na twee dae is Uys heelwat beter, die koors het gesak en die wond lyk minder kwaad.
Drienie gee eweveel aandag aan die klein hondjie, wat hulle met ’n melk-, water- en glukosemengsel voer. Die ogies is nou heeltemal oop en die blouerigheid is besig om plek te maak vir die donkerbruin en swart oë van ‘n “regte hond”, soos Gert sê. Die kinders se aandag word deur die nuweling afgetrek en dis asof daar ‘n totaal nuwe gevoel onder die gemeenskap is. Almal wil ‘n beurt hê om haar vas te hou, tot Drienie ‘n einde daaraan maak omdat die ou lyfie te moeg raak. ‘n Informele kompetisie is aan die gang om vir haar ‘n naam te kry.
Alhoewel die atmosfeer oënskynlik ligter is, besef Dries, Diek en Jan dat hulle nie onbepaald so kan aangaan nie. Die kos word natuurlik al minder, die water en ander lewensmiddele ook en die inperking, alhoewel luuks en mooi, demp die gemoedere al meer. Veral Diek se klomp ou soldate is nou moeg gerus en voel gefrustreerd.
“Ons sal uiteindelik hier moet wegbeweeg. Ons kan nie altyd hier bly nie.”
“Hoe weet ons waarheen en hoe? Ek aanvaar die hoofweë gaan nog steeds volgepak wees met mense wat nie net iewers heen gaan nie, maar wat heeltyd op soek is na iemand om te beroof.”
“Jy hoef my nie daaraan te herinner nie. Ons het dit immers mos nou weer agtergekom. So, wat stel jy voor?”
“Ons moet besluit op watter stadium ons net genoeg kos en water het om die rit te oorleef, hoop dat iets al gebeur het om teen daardie tyd die gevaar te verminder, en dan moet ons besluit watter roete. Ek stel voor dat ons klomp ‘n kaart vat, as ons een het, en kyk wie ken watter deel van die omgewing waardeur ons moet ry. Ons moet kyk na sekondêre en selfs tersiêre paaie, waar ons weer moontlik voorrade kan kry, en natuurlik waar ons veilig kan wees vir eers.”
Rika en Martie bring koffie en harde koekies aan, wat hulle op die gasstofie gemaak het. Dis lekker met kondensmelk en dit is warm sonder gewone melk. Hulle drink in gemaklike stilte, maar as die vroue die skottelgoed wegvat en met ander take aangaan, praat Jan.
“Ek wens net ons het betyds ‘n leier gehad, dan was ons nie nou in hierdie gemors nie.”
“Ons het leiers gehad, maar ons wou hulle nie volg nie,” sê Dries.
“Soos wie?”
“Jou vraag is verkeerd. Ek gaan nie name noem nie, maar ons volk het altyd leiers gehad, net soos al die volke in die wêreld, deur al die eeue. Sodra ‘n sekere klomp mense in ‘n sekere situasie beland, sal ‘n leier uiteindelik na vore tree. Vat nou maar, na die slag van Italeni, en die moord op Piet Uys en sy geselskap, het hulle ‘n sekere tipe leier nodig gehad, en hulle het vir Andries Pretorius laat kom. Maar later het hy half op die agtergrond getree. Na die Vrede van Versailes was die Duitse volk in absolute ellende gedompel en het hulle ‘n leier gekies wat ‘n blote onderkorporaal in die Eerste Wêreldoorlog was, naamlik Adolf Hitler. Toe sy tyd verby was, het hy sy eie lewe geneem. Altans, ons veronderstel so. Vandag sou sò ‘n leier nie werk in die moderne Europa nie. Eisenhower was ‘n puik generaal in die Tweede Wêreldoorlog, maar die meeste mense buite Amerika onthou hom nie eens nie. Sy tyd was bloot verby. Hulle weet dat Abraham Lincoln, George Washington, John F Kennedy en selfs Ronald Reagan president was, maar vergeet van Carter, Truman en sulkes. Nie dat hulle swak mense was nie, maar hulle het geensins uitgestaan nie.”
“Nou waar is ons leiers?”
“Wat ek probeer sê, is dat daar ‘n soort leier vir ‘n sekere situasie is. Een wat gedurende oorlogstyd soos hierdie opstaan, sal heel moontlik nie ‘n goeie een wees gedurende vredestyd nie. Kom ons gestel daar is skielik iemand wat ons kan lei om deur hierdie storie te kom. Hy sal vinnige besluite moet neem, dit aanpas soos die situasie ontwikkel, hy sal inligting moet verwerk soos dit inkom, sy vermoëns heeltyd in gedagte hou en planne maak om die situasie die hoof te bied.”
“Maar…”
“Wag, dat ek klaar praat. Sodra die oorlog verby is, sal hy ‘n regering moet saamstel uit die beste mense tot sy beskikking, en amper net soos in ‘n oorlog, vinnige en doeltreffende besluite moet neem. Dit moet iemand wees wat geloofwaardig is, sonder bagasie en sterk genoeg dat die ander hom blindelings sal volg. Hy sal na die oorlog ongewilde, maar definitiewe besluite moet neem en sorg dat hulle uitgevoer word. So ‘n leier sal iemand moet wees wat ‘n sterk akademiese agtergrond, of ten minste ‘n man of vrou wees met ‘n hoë IK, maar belese in geskiedenis en krygskuns. Hy sal die vermoëns van die beskikbare wapens moet ken, die bekwaamhede, maar ook die swakhede van die mense onder hom, weet hoe om hulle te motiveer en bereid wees om risiko’s te waag. Bo alles, sal hy nuut moet dink, met nuwe idees en nuwe krygstaktiek.”
“En waarom sal hy nie lank na die oorlog kan aangaan nie? Hoekom sal iemand anders hom vinnig moet opvolg?”
“Want, soos ek sê, hy gaan ongewilde besluite moet neem. Dit gaan sy beeld aantas en sy politieke toekoms beïnvloed. Mense is geneig om leiers te kies waarvan hulle hou en in vredestyd is dit goed genoeg, maar in tye van krisis is hulle min of niks werd die. Net so sal ‘n goeie leier wat mense uit chaos neem, gewoonlik nie ‘n goeie diplomaat wees nie. Een sprekende voorbeeld was Napoleon Bonaparte, ‘n briljante militaris, maar ‘n swak politieke leier. ‘n Goeie leier weet wanneer sy tyd verby is en probeer nie die leisels vashou daarna nie.”
“Jy sê ons het reeds so ‘n man tussen ons. Waar is hy?”
“Hy is daar. Ek het geen idee wie nie, maar as sy tyd kom, sal hy leiding neem”.