Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie die waarheid verdedig, kan dit nie in eie krag doen nie, maar slegs met God s’n wat Hy beloof: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ek help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (Jes.41:14).
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Freud het beweer dat ‘n vrou grootliks gedryf word deur vrees. Sy kom weerloos die wêreld in, word heeltyd gewaarsku teen mans wat haar liggaam wil misbruik, word ‘n bang kind, ‘n vreesagtige tiener en ‘n versigtige volwassene. Hy het ook gesê ‘n vrou sal onwillekeurig ‘n man soek wat haar kan beskerm. Miskien was hy reg.
Robyn de Jongh moes na haar man, Reiner, se dood leer om òf met vrees saam te lewe, òf om dit af te gooi. Sy het op laasgenoemde besluit. Reiner het haar altyd beskerm. Hy was heelwat ouer as sy en toe sy hom ontmoet het, in haar matriekjaar, was haar ouers glad nie geneë met die feit dat hy soveel ouer as sy was nie, reeds ‘n onderwyser – al was dit nie aan dieselfde skool as waar sy is nie, en reeds met sy eie huis, gevestig en met ‘n vaste roetine.
Na vier en dertig jaar van getroude lewe, waarin sy geborge, bederf en vertroetel was, waar sy nooit vir iets hoef te vrees nie, is sy skielik alleen. Reiner het geweet hy gaan dood; hy was immers ‘n mediese student in sy derde jaar toe sy pa oorlede is en hy met ‘n onderwysbeurs sy BSc moes klaarmaak. Hy het die simptome van hartversaking geken en selfs dìt van haar weggehou. Dis eers na sy dood, dat sy op sy rekenaar gesien het hoe hy sy begrafnis noukeurig beplan het, vir haar stap vir stap geskryf het wat haar te doen staan, dat sy besef het sy weet nie hoe om die elektrisiteit te betaal nie, die karlisensies, die water, erfbelasting (die huisverband is afgelos), om die karre se bande en olie na te gaan – soveel klein dingetjies wat hy as normaal aanvaar het en gedoen het. Hoe gaan sy die vyf en twintig liter waterkan die huis indra?
Ná die begrafnis is Petra, hulle enigste kind, terug New York toe, waar sy werk as ’n au pair. Robyn het geleer om self reg te kom. Nell, haar suster in Hopetown het haar gesmeek om die huis te verkoop en by hulle in die woonstel te kom bly.
“Dis soveel veiliger, as daar op jou eie, Sus.”
Maar as sy deur die huis loop en sien sy elke meubelstuk wat hulle saam uitgesoek en met moeite afbetaal het (onderwysers is nie ryk nie), elke ornament, sertifikaat, toekenning, Reiner se medaljes en rangkentekens, aandenkings van vakansies, Petra se kamer, nog amper net soos sy dit gelos het voor sy Amerika toe is....
En dan is daar natuurlik die diere, die twee honde en twee katte. Wat gaan sy met hulle maak? Hulle sal nie kan saamgaan nie en sy kan hulle nooit vir iemand gee nie. Nee, sy sal hier bly.
Robyn is ‘n klein, skraalgeboude vroutjie, maar sy is baie sterker as wat sy lyk. Sy het ‘n mooi, hartvormige gesig en die enigste uitstaande kenmerke is groot bruin oë en ‘n mond wat effens te wyd is vir haar skraal gesig.
Sy het al die jare by die bank gewerk, eers as kassiere, later konsultant en nog later as takbestuurder. Met die ekstra salaris kon hulle darem aanbou en verbeter aan die huis, die veld-karavaan, en natuurlik die twee motors. Reiner wou altyd ‘n vierwieldryf-voertuig hê en drie jaar gelede het hulle een gekoop met haar gratifikasie toe sy bedank het.
Skielik is dit asof die werklikheid vir haar te veel word, sy gaan sit eenkant in Reiner se groot gemakstoel en voel hoe die trane sommer net loop. Sy wil dit ook nie keer nie, asof sy besef dis nou nodig. Sy het te lank alles ingehou en sterk gestaan, maar nou is dit haar beurt om mee te gee.
Sy huil, krul op in die stoel, ruik sy reuk wat nog daarin is, en raak mettertyd aan die slaap. Saar, die boerboelteef, gee uiteindelik sagte tjankies en Robyn word wakker met die wete dat die diere gevoer moet word. Dis asof hierdie besef ook die bewustelikheid bring dat die lewe aangaan; diere moet versorg word, die ligte moet aan en afgeskakel word, die geyser af vir die nag (dit spaar inderdaad baie krag), die deure gesluit…
Sy word met ‘n hol kol op haar maag wakker, wat niks met kos te doen het nie. Iets is verkeerd. Dit neem haar ‘n paar sekondes om te besef die dakwaaier staan stil. Reiner het altyd, winter en somer met die waaier aan geslaap en sy het dit ook gewoond geraak. Sy skakel die bedliggie aan, maar hy werk ook nie. Sy staan op, loop kombuis toe om seker te maak al die sekerings op die verdelerbord is aan, en dit is so. Met die Telkomdrade wat lankal gesteel is, het hulle gewoond geraak aan selfone in plaas van die landlyn en sy skakel daarop die noodnommer van die munisipaliteit – iets wat Reiner altyd gedoen het. Daar is geen antwoord nie. Sy bel die bure en hulle sê die krag is reeds van vieruur die oggend af en niemand weet waarom nie.
Sy sit op die kant van die bed, half besluiteloos en dan trek sy die klompie bladsye nader wat sy uitgedruk het. Reiner het dit alfabeties uiteengesit en onder “K” kry sy die instruksies vir die kragopwekker.
Met dit in die een hand, loop sy buitentoe, kyk na die skets en kry dadelik die plek waar die sleutel gedraai moet word. Daar is nie ‘n sleutel in nie! Vir ‘n paar benoude oomblikke weet sy nie wat om te doen nie, totdat sy onder “S” sien waar hy dit gebêre het. Gewapen hiermee, kom sy terug, skakel die fris diesel opwekker aan. Sy weet sy kan nie die ding aanhoudend laat loop nie, en moet dit rantsoeneer.
Onder die instruksies is ook duidelik gemaak hoe lank die gennie kan loop op ‘n liter diesel. Daar staan agt metaal kanne naby, elkeen met 20 liter in. Dit kan dus, met die tenk vol van nog 20 liter, amper twee honderd ure loop. Die vraag is nou – hoe lank gaan die krag afwees? Vandag net ‘n uur en so aan, tot hulle, wie “hulle” ookal is, dit weer aanskakel.
Die selfoon lui. Dis Tant Maggie van Bloemfontein en sy wil weet of Robyn okay is. Die krag is blykbaar landwyd af en dié wat weet, sê niks nie. Haar seun wat ‘n ingenieur is, sê dat dit ‘n sogenaamde “blackstart” nodig gaan kry om die spul weer aan die gang te kry en dit kan enigiets van twee tot ses weke vat, bygesê as daar nie iets groots met die sisteem foutgegaan het nie.
In sò ‘n geval enigiets van twee maande tot nooit nie. En dan? Wat van krag vir die ligte en die stoof, die waterpomp, die waaier? Gaan daar nog ‘n manier wees om geld te kry as die kitsbanke af is, gaan iemand kredietkaarte vat? Reiner het gepraat van kontant in die kluis en ‘n klompie Krugerrande wat hy deur die jare daar gebêre het.
Gewapen met die kluissleutel maak sy met moeite die swaar deur van die ingeboude kluis oop en sien tot haar verligting daar is so dertig duisend rand in twee honderd rand note, en ‘n handvol van die goue Krugerrande. Dit gaan sekerlik uiteindelik baie werd wees. Maar sê nou sy gee daarvan uit en mense praat; hoe weet sy niemand gaan hier kom inbreek en dit probeer afvat nie?
In die kluis is drie vuurwapens: ‘n pompaksie haelgeweer, ‘n Mauser sewe millimeter geweer met ‘n teleskoop op en ‘n enkele handwapen – ‘n groot ou enkelaksie rewolwer wat Reiner al meer as dertig jaar gelede gekoop het, nie baie lank nadat hulle getroud is nie. Robyn hou nie eintlik van vuurwapens nie, en wil eers die kluis toemaak. Op daardie oomblik begin Saar te blaf en Vlekkie, die foksie, val half histeries in. By die hek staan drie manne en ruk aan die slot.
“Wat wil julle hê?” skreeu sy en besef haar stem slaan deur van angs.
Hulle steur hulle nie aan haar nie en begin oor die hek klim. Sy gryp die ou rewolwer, mik half in hulle rigting en trek die sneller. Niks gebeur nie. Wat nou! Na nog ‘n paar trekke aan die sneller, gryp die groot haan met haar linkerduim, trek hom eers ‘n ent agtertoe en as niks gebeur nie, daarna tot heel agter, mik weer in hulle rigting en druk die sneller.
Hierdie keer is daar ‘n ongelooflike harde knal en sy voel ‘n harde hou teen haar voorkop. Vir ‘n oomblik dink sy sy het op een of ander manier haarself raakgeskiet, maar dan sien sy een van die drie by die hek het omgeval, hy gryp sy been vas en porbeer wegkom. Sy maats gryp hom om die bors en heupe en dra hom weg.
Sy het dan tog raakgeskiet, maar wat dan van die hou op haar voorkop? Sy loop spieëlkas toe, sit, trek haar hare weg en sien die bloed uit ‘n klein, vlak wond oor haar voorkop loop. ‘n Knop is besig om onder die wond te trek . Wat het gebeur?
Uiteindelik besef sy die swaarkaliber rewolwer het so hard opgekrul en teruggeskop, dat die voorste visier haar op die voorkop geklap het. Vir ‘n oomblik oorweeg sy om die ding te gaan bêre, maar besluit daarteen. Met die wapen se loop eenkant toe gedraai, kan sy lees wat in die metaalwerk ingegraveer is:
“J.P. Sauer&Sohn. Made in Germany”. En op die anderkant, teen die loop: “.44 Magnum”.
Robyn skakel die plaaslike polisiestasie (een van die noodnommers wat Reiner vir haar gelaat het), maar aanvanklik is daar geen antwoord nie en later gebeur daar bloot niks.
Sy wonder of een van die bure die skoot gehoor het en dalk gebel het en of die voornemende inbrekers dalk ‘n klag teen haar gaan lê het. Twee ure gaan egter verby en niks gebeur nie. Dit word laatmiddag en ‘n donker nag lê voor, een waarin sy en die diere alleen gaan wees en miskien net kom die misdadigers terug.Moet sy nie maar miskien oppak en Hopetown toe, na haar suster toe nie? Nee, sy kan nie.
In die kluis is ‘n paar vierkantige, groen plastiekkissies en as sy een oopmaak, sien sy daar is vyftig rondtes in. Op die agterkant van die doppies staan daar: “Norma .44 Mag”. Sy sit vir ‘n paar minute met die wapen en peuter, versigtig om die loop na die muur toe te wys en sukkel om die ding te herlaai. Niks wil dan oop nie! Uiteindelik kry sy die hekkie aan die regterkant van die rol en maak dit oop. Hier kan sy sien waar die koperkleur agterkante van die doppies is, maar hulle wil nie uitkom nie en die rol wil nie draai nie.
Na nog ‘n paar moedelose minute haal sy die haan halfpad oor en tot haar verligting draai die rol. Die eerste ding, wat sy ‘n “koeël” noem, wil nie uitval nie en sy karring ‘n bietjie met haar duimnael daaraan, tot sy besef die rol het ‘n gaping in, waar die rondte (of koeël) gelyk daarteen sit. Nou hoe werk dit nou? Na ‘n gestoei, waarin sy amper opgee, sien sy skuins teenaan die loop se onderkant, sit ‘n snaakse buisie met ‘n halfmaanvormige stuk staal vooraan. As sy dit ver genoeg druk, druk dit die leë doppie uit, wat sy vervang met ‘n nuwe rondte. Een of ander tyd sal sy moet uitwerk hoe om die wapen skoon te maak, maar dis ‘n ander dag se probleme. Terwyl hy nog werk, sal sy nie aan hom karring nie.
In die kluis is Reiner se ou weermaggordel. Dis van ‘n soort dik seil gemaak, met knippies in die middel daarvan. Dis verstelbaar (alhoewel met moeite) en sy kan dit net-net klein genoeg maak dat dit om haar middel pas. Sy druk die rewolwer dwars daarin en is nogal verbaas dat dit nie baie swaar of ongemaklik is nie. Robyn de Jongh het haar eerste treë gegee om vrees te oorkom.