Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebed is nie ’n towerformule wat jou hemeltoe vat nie. Jy word nie gered omdat jy bid nie, maar omdat jy bewustelik van sonde weggedraai het en lewenslank aanhou wegdraai. Ons moet onophoudelik bly glo en gedurig tot “bekering” kom. Dis wat heiligmaking is - een saligmakende bekering en daarna daaglikse bekering.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (8)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Suid-Afrika... het 'n aktiewe en invloedryke Moslemsektor wat Hamas en Palestynse grondeise ondersteun. Gekombineer met sy patetiese intelligensiedienste en sy betreurenswaardige militêre en polisiemagte, is Suid-Afrika swak toegerus om Islamitiese infiltrasie uit naburige streke of sy groeiende interne ekstremistiese bewegings teen te werk.
Behalwe dat hulle suksesvol apartheid oorkom het, eindig alles wat die ANC en bondgenote sedertdien aangepak het, in 'n jammerlike mislukking. Elke staatsonderneming is bankrot en/of disfunksioneel. Dieselfde geld vir regeringsdepartemente.
As 'n mineraalryke land... is Suid-Afrika 'n primêre teiken vir 'n vyandige oorname deur opportunistiese outoritêre staatspelers. Rusland, China en Iran is reeds sterk geposisioneer...
Van die drie dra China, met sy enorme finansiële en politieke beleggings in Afrika, die meeste invloed, en dit sal ongetwyfeld mettertyd verder toeneem as die Weste se vermoë om dit te ewenaar. Op die oomblik, met sy primêre fokus op die Midde-Ooste en Oekraïne, is die Weste nie in staat of onwillig om China se veelsydige invloed in die streek te ewenaar nie en bied dus China onbeperkte vryheid om die nastrewing van sy belange daar te versnel. Die Weste se verlies aan invloed in die streek kan vir dekades wat kom, baie betreur word.
Suid-Afrika is 'n primêre teiken vir 'n vyandige oorname deur opportunistiese outoritêre staatspelers. Suid-Afrika voer gesamentlike militêre oefeninge met beide Rusland en China uit en word daarvan beskuldig dat hulle Rusland van ammunisie voorsien vir sy kruistog teen Oekraïne. Iran en sy gevolmagtigde Hamas is albei 'n bekende saak onder ANC-politici, met Hamas wat permanente verteenwoordigers in Kaapstad het.
Alhoewel die African National Congress (ANC) die dominante politieke party in Suid-Afrika bly na die nasionale verkiesing van 2024, is sy mag aansienlik verminder benewens sy verminderde parlementêre verteenwoordiging. Nadat hy nie daarin geslaag het om 'n meerderheid te verkry nie, is die ANC die grootste faksie van Suid-Afrika se sogenaamde Regering van Nasionale Eenheid – hoewel daar min eenheid onder sy groot aantal lede is. Om die regering as 'n brose koalisie te beskryf, sou meer akkuraat wees.
*
“Vertel my van haar, Herrie?”
“Van wie?”
Herrie wou teen wil en dank saamgaan en wel met sy eie Jeep. Ten spyte daarvan dat dit ‘n ou, oop voertuig is, sonder ‘n dak of kantdeure, sonder ‘n verwarmer of lugreëling, het dit die gesonde V6 Nissan dieselenjin en kan sonder moeite by die res van die konvooi bly. Indien hy sy beweegredes kalm en eerlik sou ondersoek, sou dit wees omdat hy graag deur Potchefstroom wil ry en dalk net weer vir Tertia Brink te kan sien.
“Van die vrou, Herrie.”
“Hoe weet jy?”
“Ek is ook ‘n vrou, as jy nie dit reeds opgemerk het nie en ons geslag wesens weet van sulke dinge.”
Herrie kyk skuinsweg na Maya wat langs hom op die passasiersitplek sit. Hy wou en het kapsie gemaak teen haar teenwoordigheid in sy kar, maar sonder om haar met geweld uit te boender, het hy geen opsie as om haar maar te laat begaan nie. Wat hy sien is nie ‘n mannetjiesagtige vrou nie, al is sy steeds in kamoefleerdrag geklee, met stewels aan en ‘n bruin bofbalpet op haar donker hare, sonder enige grimmering. Sy het mooi, sterk gelaatstrekke en ‘n effens te prominente onderkaak, maar verder is sy baie mooi.
“As jy dan weet, hoef jy mos nie te vra nie, dame?” Hy sê dit sonder om gemeen te probeer klink. Tog gaan hy nie weer grawe waar die gedagte aan Tertia gebêre is nie.
“Ja, Herrie, jy hoef nie oor haar te praat nie, maar dit gaan nie beter word as jy dit wegsluit nie. Jy weet dit mos al teen hierdie tyd. En ek vra nie uit omdat ek ‘n nuuskierige vrou is nie, maar omdat ek in jou as mens belangstel.”
Herrie konsentreer op die pad en neem ‘n hele paar minute, voordat hy weer na haar kyk om te sien of daar nie een of ander bymotief is agter haar vraag nie.
“Sy was vir minder as ‘n dag in my lewe, sy is mooi en begeerlik, sy is slim en het ‘n mooi humorsin, maar sy is dertig jaar jonger as ek en dit gaan nie werk nie. Al is ek ‘n ou man, kry ek ook seer en ek gaan dit nie op my ouerdom waag.”
“Hoe voel sy daaroor?”
“Hoe moet ek weet? Sy het teen hierdie tyd reeds ‘n man in haar lewe en ek wil nie ‘n gek van myself maak nie.”
Die konvooi ry stadiger as Skeer aan die voorpunt hulle van die grootpad af in ‘n tweespoorpaadjie inlei om ‘n brand aan die voorkant te vermy. Maya neem die geleentheid om sagter te praat, maar met baie deernis in haar stem.
“Herrie, ek verstaan. Arno is ook baie ouer as ek en ek en hy het al die um... aspekte rondom dit uitgepraat. Ja, onder normale omstandighede is dit soms ‘n onoorkomelike probleem, maar ons is nou in uiters abnormale omstandighede. Nou geld daar ander reëls, soos byvoorbeeld ‘n paar jaar gelede sou meeste vroue ‘n man kies uit haar ouderdomsgroep, wat miskien gegoed genoeg is om vir haar en die kinders te sorg, ja en al ontken vroue dit, wat aantreklik is.
“Nou het ‘n vrou ander prioriteite en die grootste daarvan is om veilig te voel. Enige vrou, of sy ses jaar oud is of ses en tagtig, word voortdurend gekonfronteer met die werklikheid dat sy aangerand en verkrag kan word. Haar man moet haar daarvan beskerm. Ek is seker jou Tertia ervaar dit ook.”
Na ‘n paar minute wil Herrie begin praat, hy trek sy asem daarvoor in, maar bedink homself en blaas dit stadig uit.
“En ja, Herrie, jou manlike ego, wat bang is hy gaan verkleineer word deur daarvan ‘n gek te maak, staan nie net tussen jou en lewensvreugde nie, maar ook In Tertia se pad. Dis baie selfsugtig.”
Herrie wil homself vir die vrou vererg en hard antwoord, maar hy besef sy is reg en hy bly eerder stil.
*
Danny bevind hom in ‘n situasie wat hy skaars gedink het moontlik kan wees. Hy het met ‘n motorfiets, knobbelrige veldbande en al, vasgeval in die modder. Dit maak nie saak hoe kwaai hy die wiele laat maal nie, dit is net asof dit verder en verder wegsink in die nat grond.
Hy klim af, stoot so hard as moontlik en gee weereens vet, maar alhoewel die agterwiel die modder oor hom laat spat, is daar geen vordering nie. Na ‘n paar minute se gesukkel, besef hy hy gaan nêrens kom nie en besluit, alhoewel teensinnig, om die fiets te los en aan te loop. Hy vat soveel voorraad as wat hy kan, insluitende al sy ammunisie en met ‘n oorlaaide rugsak, wat neig om hom agteroor te trek, loop hy aan.
Die veld is nat, insluitende die grond, gras en klippe. Sodra hy oor ‘n kleinerige, maar steil bultjie loop, gly sy voete en voor hy homself kan keer, is hy tussen ‘n groep swerwers in; drie manne gewapen met tuingereedskap, twee vroue en ses kinders. Sy geweer is oor sy rug, sy twee handwapens in hulle skedes en sodra hy tot stilstand kom onderaan die bult, steeds op sy boude, met sy hande op die grond langs hom, is hy byna omsingel deur die groep.
*
Die voordeel van die kleiner konvooi en die nuwerige, kragtige voertuie, behalwe natuurlik Herrie se tuisgeboude “Jeep”, maak dat Skeer en sy mense vinnig kan ry, waar dit moontlik en veilig is. Hulle ry grotendeels op die N1, maar hulle draai dikwels af op “R” roetes en selfs hier en daar, waar te veel mense loop of wag, op plaaspaaie en selfs so af en toe, deur die veld.
Nadat Max die baken aangeskakel het, kon hulle natuurlik nie met hom op ander maniere kontak maak nie. Hulle weet nie presies wat sy omstandighede is nie. Watter gevaar ookal dreig en les bes, of hy nog lewe nie. Al troos wat hulle in hierdie omstandighede het, wat hom betref, is dat die elektroniese baken steeds flikker. Tyd is ‘n faktor en hulle mag dit nie mors nie.
*
“Dink jy hulle kom nog, Max?”
“Wie, die slegte mense?” Max gebruik sonder bybedoeling die bewoording asof vir ‘n kind en hy doen dit sonder om selfs bewus te wees daarvan. Cornelle kyk hom aan om te sien of hy met ‘n meerderwaardigheid teenoor haar praat, maar sy gesigsuitdrukking gee niks weg nie.
“Nee, jou mense?”
“Natuurlik,” antwoord Max, sonder om werklik seker te wees. Hy wens hy kon homself glo, maar hy kan nie haar moed en hoop van haar af wegneem nie.
Daar kon soveel dinge verkeerd geloop het, soos dat sy mense nie die baken kon “lees” nie, dat hulle besig is met ander, belangriker goed, dat die mense wat op Cornelle se spoor is dalk dit ook kan lees, met ‘n meer en groter klomp blikskottels wat uitgestuur word. Die “asse” en “indiens” is legio. Sonder om Cornelle te ontstel met die moontlike scenaria, besluit hy om die groep vier dae te gee en dan sal hy die baken vernietig en moet hulle noodgedwonge maar verder voetslaan.
Hulle het die afgelope tyd nie een maal nodig gehad om geweld te gebruik nie. Natuurlik is hulle ligging en posisie op hierdie stadium nie vir die oliekartel se mense beskikbaar nie en die honderde duisende mense wat aan die beweeg is, loop ander paaie as hier, hoë op teen die berge en die heuwels.
Max waak daarteen dat hy nie emosioneel betrokke begin voel by die vrou nie. Nie net hou dit vir hulle albei gevaar in nie, maar daar kan niks van kom nie, behalwe hartseer en moeilikheid.
Hy dink aa Bella Vos, die meisie wat hy in die berge naby Kaapstad gaan soek het en uiteindelik na veiligheid gebring het, maar dit was anders. Inderdaad was hy destyds amper ‘n ander mens, wat sy eie werkswinkel bedryf het, behoorlike vierwieldrywe gebou het en sy neus uit die landsake en politiek gehou het.
Hoe het dit verander? Hoe het hy so verander? As hy terugdink, dan was dit wat hy nou geword het, maar altyd sluimerend en hy het daardie aspek van sy bestaan onderdruk. Die hele affêre met Bella het alles verander. Toe hy haar gaan haal het en op pad terug na die aanvallers geskiet het wat die plaasmense aangeval het, het hy die ou Max begrawe met daardie eerste trefferskoot.
En tog het hy deur dit alles oorleef deur emosioneel onbetrokke te bly. En net soos hy ‘n veiligheidsheining van ongevoeligheid kon oprig tussen hom en Bella Vos, so het hy ook een tussen hom en Cornelle gemaak. Veiligheid is nie altyd teen ‘n vyand nie, maar ook teen die dinge wat in jou hart kan gebeur.