DIE WONDERLIKE SEISOENE

...EN 21 JUNIE

Dr JP Botha

Ons gee vandag aan ons lesers ‘n stukkie AARDRYKSKUNDE omdat u waarskynlik die besonderhede daarvan al vergeet het of nie meer daaraan dink nie.

Dit is vandag 21 Junie 2011.  Dit is vandag Winter-sonnestilstand, want dit is die kortste dag en die langste nag. Van môre af begin die dae stadigaan elke dag effens langer word en die nagte effens korter, tot op 22 September.  Daardie dag noem ons Lente-dag-en-nag-ewening want op daardie dag is die dag en die nag weer ewe lank.

Daarvandaan word die dae nog verder elke dag effens langer en die nagte effens korter.  Dit gebeur tot op 21 Desember wanneer die dag op sy langste is en die nag op sy kortste.  Ons noem daardie dag Somer-sonnestilstand. 

Daarvandaan word die dae stadigaan weer al hoe korter en die nagte al hoe langer totdat hulle weer ewe lank is op 22 Maart, wat ons noem Herfs-dag-en-nag-ewening.

Dit is ons vier pragtige seisoene se aanvangstye wat deur ons liewe Here so bepaal is om vir die mens tot permanente en maksimum diens te wees.