GISSELLETJIES EN STRAALSWAMME

DIE WÊRELD VAN DIE KLEINSTES  (4)

SKOOLPROJEK

Lees reeks by Mikrobes - Wêreld van die kleinstes

Jac Schoonens

Gisselle

Gisselletjies is nie net groter as bakterìeë en meer eiervormig nie, maar hul manier van vermenigvuldig is ook anders.

Aan die moedersel  van 'n gissel kom eers ' n knoppie uit wat groei totdat dit die normale selgrootte bereik. Daarna kan die nuutgevormde selletjie afval en op sy eie weer 'n ander knoppie vorm. Dikwels bly die dogterselletjie aan die moedersel vassit. Die knopvorming gaan voort sodat daar later 'n hele klompie selletjies aanmekaar kleef.

Van die gissoorte is daar die 'egte' gisplantjies wat spoortjies vorm. Daar is ook ander wat die eienskap nie besit nie.

Gisplantjies speel in ons lewe 'n belangrike rol. 'n Koekie suurdeeg wat die huisvrou gebruik om brood te bak, is niks anders as 'n klompie bakkersgisselletjies nie. Dan is daar ook nog wyngis, biergis en talle ander soorte. Omdat hulle as voedsel veral suikeragtige stowwe nodig het, kry ons hulle onder andere op vrugte en gevolglik ook in die grond, waar hulle aktief kan meewerk aan die omsetting wat daarin plaasvind.

Straalswamme

Een van die ander miskroskopies klein diertjies wat ons ook nog moet noem is straalswamme. Hul plek is eintlik tussen die bakterieë en swamme. Hulle vorm vertakkings wat die bakterieë nie kan doen nie, en daar is van hulle wat heeltemal sonder suurstof kan lewe – geen swamsoort kan dit doen nie.

Die straalswamme kom in die grondvoor en is nie kieskeurig nie. 'n Mens kry hulle soms in grond wat so armoedig is dat selfs bakterieë nie lekker daarin wil groei nie.

Sommige straalswamme is in staat om baie harde stowwe soos lignien en sellulose aan te tas.

Dis baie waarskynlik dat hierdie mikrobes die tipiese grondreuk veroorsaak. As hulle op 'n kunsmatige bodem gekweek word, ontwikkel sommige van hulle hierdie reuk. Daar is varswatervisse wat 'n moddersmaak kan hê.  Die vleis van hierdie visse het daardie reuk aangeneem van die straalswamme wat dan altyd in die water gevind kan word.

As die visse 'n paar dae in vars water, waarin nie straalswamme voorkom nie, gehou word, verloor hulle die smaak.

Die grondreuk van kelders, aartappelkiste en vars geploegde grond mag van straalswamme afkomstig wees maar daar is ook bakterieë wat so 'n muwwe reuk laat ontstaan. Die skeikundige samestelling van die geurstof is nie giftig nie.

In die volgende aflewering praat ons oor wiere en oerdiertjies.