VAKBONDE...

   ...BESTAANSREG  BETWYFEL

Johan Dorfling

Daar word beweer dat vakbonde hoofsaaklik tot stand gekom het om werkers te beskerm teen uitbuiting deur werkgewers. Die vakbonde se taak is om werkomstandighede, salarisse, werkure, gesondheid ̶   en welsynvoordele, en kuturele en ontspanningsgeriewe vir die werker te verbeter.

Is dit werklik so?  Op werkerdag is dit gepas om dit in oënskou te neem. In werklikheid gee vakbonde ook aandag aan politieke sake. Hulle dien as ‘n tweede regering om beheer oor die land te verkry. In sommige gevalle het vakbonde ingemeng met sake om beroeringe te bewerkstellig wat uitloop op  betogings en opstande.

Voorbeelde is nie nodig nie omdat die daaglikse nuusdekkings vol daarvan is. Vakbonde meng in by sake soos vrye openbare akademiese en vakkundige opleiding, afbreking van Afrikaans sonder dat daar rede voor is, behuising en politieke sake, en verkiesing van skoolrade. Gelykstelling van almal is ‘n kommunistiese benadering om die wêreld te kan oorheers.

Regerings oor die wêreld heen was in die verlede dikwels haaks met stakende werkers wat hulle as ’n bedreiging van die vrede beskou het. Gewoonlik lê vakbonde klem op uitbuiting van werknemers sonder dat daar rede is, of van ‘n klein molshoop word ‘n berg gemaak. As ‘n werknemer laat opdaag en die werkgewer spreek hom aan, gil hy dat daar op hom gepik word. Indien die werknemer agterkom dat hy ‘n kleiner salaris as ‘n meer ervare kollega ontvang, beweer hy dat hy verontreg word. Die waarheid is dat hy loongewys minder werd is totdat hy groter ervaring opdoen of in ‘n meer verantwoordelike pos beland.

Is sy kleiner loon benadeling?  Volgens kommunisme ja. Gaan kyk wat ‘n Christen se benadering is. (Matt 20:1 – 16). In vers 2 het die huisheer met elkeen van sy werknemers tot ‘n loon ooreengekom. In vers 13 het die huisheer niemand onreg aangedoen nie. Volgens Christus is ‘n ooreenkoms of kontrak eerlik aangegaan en kon niemand kla nie. Dit laat my dink: Indien ek aan iemand R100 geskenk het en ek skenk R1 000 aan iemand anders, is dit mos my eie goeie reg om met my besittings te maak wat ek wil. Die kommunis sal my dadelik voor die hof probeer sleep oor onderskeiding wat hulle diskriminasie noem omdat daar kamma nie gelykheid is nie. Kommunisme is wesenlik “jy wat meer het, moet dit met ander deel sodat almal ewe veel besit”. Die Bybel se boodskap is “ek gee aan ander wat behoeftig is wat nodig is sodat hy homself kan help”.

Die kommunis praat ook van nie-rassige demokrasie. Hy laat egter na om die twee begrippe te omskryf omdat dit teenstellende denke is. Demokrasie bestaan mos slegs binne ‘n afgebakende rassegroep. Die begrippe kan nie vermeng word nie, want dit staan teenoor mekaar.

Looneise word gewoonlik voorgehou as voordelig vir werknemers terwyl dit baie meer nadele inhou en benadeling van die werkgewer is. Die eis hou geen verband met lewenskoste of inflasie nie, want die eise is meestal dubbeld soveel as die inflasiekoers. Daarteen moet die werkgewer ‘n groter loon betaal wat sy inkomste verklein. Waar is die gelykheid?  Vakbonde se personeel ontvang salarisse wat hulle uit die fondse verhaal wat die lede bydra. Die lede moet daarby regskostes ook betaal. Indien dit na goedbedoelde samesprekings nodig sou wees, bestaan daar voldoende wetgewing en billike tariewe om ‘n saak by ‘n bepaalde organisasie te laat beslis sonder dat vakbonde inmeng.

Stakings het ’n reuse afbrekende uitwerking op die ekonomie van die land. Werknemers wat staak, verloor inkomste en daardie inkomste word dan nie in die ekonomie spandeer nie. Die werkgebied waar die stakings plaasvind, se produksie verlaag omdat daar nie werk gedoen word nie. Werkers wat openbare vervoer broodnodig het, honderde duisende, word deur ‘n klein minderheid busbestuurders wat staak, van die reg ontneem om by die werk te kom. Regverdige werkgewers in alle sektore word benadeel omdat hulle van produksie en dus inkomste vir ‘n gesonde ekonomie vir die land se inwoners, weerhou word. Verder word die manier waarop buitelandse beleggers na ’n land kyk ook deur stakings beïnvloed. Suid-Afrika se kredietgradering word laer aangepas, wat ’n verhoogde risiko voorspel vir diegene wat Suid-Afrikaanse effekte koop.

Buitelandse beleggers begin hulle geld uit die land onttrek as gevolg van die regering se onvermoë om die vakbonde in toom te hou.

Voortdurende skade aan infrastruktuur en politieke onstabiliteit is slegte nuus vir die ekonomie. Beide beleggers en verbruikers sit tans met opgehoue asems om te sien hoe die regering die ekonomiese probleme gaan hanteer en of daar ’n ommekeer vir die land bewerkstellig kan word. Vakbonde regeer die land wanneer die regering swak is, soos tans die geval. Stakings en boikotte veroorsaak ontwrigting wat altyd vir almal nadelig is. Vakbonde aanvaar nie verantwoordelikheid vir hulle ontwrigting nie en die regering is te slap om op te tree.