Lees reeks by Die Antichris se voetstappe
Ds AE vd Berg
DIE VERENIGDE STATE VAN EUROPA
1. ʼn Droom
Die droom van ʼn Verenigde state van Europa, soos wat Winston Churchill dit jare gelede gemunt het, stem baie ooreen met die grondwetlike proses wat tot die vorming van die VSA gelei het. Dit kan egter nie sonder ʼn algemeen aanvaarde, werkbare grondwet verwerklik nie.
Die EU beskik tans oor twee wetgewende instansies – die Raad van Ministers en die Europese Parlement. Die Raad van Ministers bestaan uit lede wat ook lid van hul eie nasionale regerings is en deur elke lidland verteenwoordig word. Dan is daar ook die Europese Parlement. Beide het seggenskap oor wetlike en administratiewe sake asook die begroting.
Die EU se stigtingsverdrae lees baie anders as die meeste ander internasionale verdrae. Omdat lidlande baie van hul regeermag prysgegee het, tree die EU op sekere gebiede alreeds diktatoriaal op. Europese eenwording geniet altyd voorkeur en sosio-ekonomiese sake word aan politieke sake ondergeskik gemaak.
Internasionale wetgewing weeg swaarder as nasionale wetgewing. Daarom is EU wetgewing bo nasionale wetgewing verhewe en kan op enige lidland afgedwing word. Die Hof van Justisie is vir die uitvoering daarvan verantwoordelik. Benewens stewige boetes kan oortreders ook hul stemreg in die Raad verloor.
2. Teenstand
Die EU is egter nie meer so gewild soos vroeër nie. Brussel se onverkwiklike reëls en regulasies het vir baie Europeërs ʼn struikelblok geword. Dit het hulle niks in die sak gebring nie. Hulle geniet bv. geen groter mag, voorspoed of vryheid nie. Die EU burokrasie het hulle inteendeel in verskeie skaakmat situasies geplaas!
In Junie 2009 het ʼn anti-federale groep, die Hervormde Europese Konserwatiewe Groep (HEKG), van die Europese Volksparty in die EU weggebreek en ʼn nuwe party in die Europese Parlement gevorm. Die Europese Volksparty is ʼn federalistiese groep wat ʼn gesamentlike Europese weermag, polisiemag en regsisteem voorstaan.
Die HEKG probeer om die voorkoms van die EU te verander. Dis tans die vierde grootste groep in die EU met 55 lede uit agt lande. Hulle glo dat elke lidland sy eie sake moet hanteer en staan vrye handel, mededinging, minimale regulasies, kleiner owerhede, groter demokrasie en meer persoonlike verantwoordelikheid voor.
3. Ierse weerstand
Ierland maak geen geheim daarvan dat sy met die verwikkelinge in die EU ongelukkig is nie. In Junie 2008 het die Iere tydens ʼn referendum teen die ondertekening van die Verdrag van Lissabon gestem. Slegs 10 van die 43 stemgebiede was ten gunste daarvan. Die oorgrote meerderheid het dit egter as ‘n ondemokratiese, Europese hervormingsverdrag beskou en derhalwe verwerp.
Soos met al die ander verdrae, moes elke lidland ook hierdie verdrag onderteken alvorens dit in werking kon tree. Die Ierse teenstem dit dus in die wiele gery. Die Ierse premier, Brian Cowan, het egter uit twee monde gepraat en gesê dat die stem van sy volk finaal was en eerbiedig moes word. Aan die ander kant wou hy ook nie hê dat Ierland ʼn stok in die wiel van Europese eenwording moes wees nie.
Om uit hierdie skaakmatposisie te kom, het Frankryk en Duitsland die EU versoek om ten spyte van die Ierse veto die Verdrag van Lissabon tog in werking te stel. Dis dan ook gedoen. Hierdie onbeskaamde, ondemokra-tiese optrede voorspel uiteraard niks goeds vir die toekoms nie!