Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe duidelik waarsku Petrus nie oor die spotters wat ons vandag in ons geledere sien nie! In II Petrus 3 sê hy "Dit moet julle weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel." Ons sien daagliks hoe mense die Bybelse waarhede misbruik om hul eie ongeloof te regverdig en twyfel by ander te saai. Maar God het ons ook 'n skild gegee waarmee ons onsself kan beveilig hierteen naamlik om te bly leef in alle godsvrug en heiligheid om so gereed te wees vir die Wederkoms van die Here.
WIE WAS BOSS? (3)
DIE SMIT-MOORDE (1)
Dit was 'n lang dag vir Robert Smit in die NP-kantoor in Springs. Die Eerste Minister, John Vorster het daarby nog 'n verrassingsbesoek aan die kantoor gebring. Smit was besig met 'n aardskuddende verslag wat Saterdag gereed moes wees, 'n taak wat hy aanvanklik as 'n uitdaging beskou het. Hy dink weer terug aan daardie dag toe Vorster hom geskakel en gevra het om hom te kom sien. Die ekonoom het dadelik ingestem om die volgende oggend daar te wees – min wetende van die taak wat Vorster hom wil gee en wat presies nog alles op hom wag...
Oppad na Vorster daardie oggend het Smit nog sit en dink aan die slinkse maniere wat hy in die departement van finansies al moes help bedink om produkte van militêre belang in die buiteland in die hande te kry. 'n Bank is altyd gebruik om die groot bedrae geld na die buiteland oor te plaas. Weens die 'sensitiewe' aard van die transaksies was die 'koper' en die 'verkoper' meesal die enigste twee wat geweet het wat die werklike waarde van die goedere was. Smit was in baie gevalle die tussenganger tussen die departement van finansies en die ander rolspelers. Die evaluering, monitering en ouditering van die buitengewone transaksies was enige bankier se nagmerrie. Sommige transies het mense soos PW Botha, Connie Mulder, Eschel Rhoodie en Hendrik van den Berg betrek. Smit se vaardighede is soms tot die uiterste beproef om op die hoogte van die 'verbeeldingryke' transaksies te bly.
By die Eerste Minister se kantoor het Monica, Vorster se sekretaresse, Smit dadelik laat instap. Vorster het opgestaan en hom bedank dat hy so gou gekom het.
"Robert, dit lyk of ons 'n baie groot probleem het," het Vorster die bul by die horings gepak. "Helmut Wassermann het gebel. Dit was so ernstig dat hy Nic Diederichs kom spreek het. Wat my hinder, is dat Nic my nie van die besoek en die kwellinge vertel het nie." Hy het Robbert so een en ander vertel waaroor dit gaan en dat dit glo al jare aan die gang is.
"En u wil hê ek moet op die saak ingaan?" het Smit gevra.
"Glo my Robert, ek kan niemand anders waag vra om dit te doen nie," het Vorster gesê. Toe het Robert geweet dat die saak baie ernstig is. Wassermann was 'n perfeksionis. As Switserse hoof van een van die wêreld se grootste banke was dit vanselfsprekend noodsaaklik dat hy Vorster net sou kontak indien hy seker was dat daar werklik 'n probleem was. Die brandende vraag was waarom dié saak na soveel jare nou opduik. Diederichs was al twee jaar lank nie meer minister van finansies nie. En waarom het Diederichs nooit vir Vorster ingelig oor die Switserse bankhoof se kommer nie?
"Ek hoop natuurlik dis 'n misverstand en dat daar 'n logiese verduideliking vir alles is," het Vorster gegroet. "Ek gaan nie 'n woord teenoor iemand anders hieroor rep nie Robbert, dankie, en verskoon my dat ek my reeds veroorloof het om Monica jou reisreëlings te laat tref." Smit het stil gedink dat niemand dan hiervan moes weet nie...
"Dis als reg," het hy geantwoord en teruggery na sy kantoor.
Laat die middag by die huis het hy Jeanne-Cora, sy vrou, ingelig dat hy Londen toe gaan vir 'n paar "roetinesake". Sy het egter 'n skerp sesde sintuig gehad maar hy het volgehou met die Londen-storie want by die noem van Switserland en Smit in een sin sou dinge te riskant wees. Hy sou inderdaad eers Londen toe vlieg voordat hy na Switserland vertrek.
Op Heathrow het Smit twee Londense poniekoerante gekoop. Twee uur later was hy aan boord van 'n vlug na Genève – Monica se reëlings was foutloos.
Vroeër het Wassermann hom oor die foon verseker dat hulle sake binne drie dae afgehandel sal wees. Op die vyfde verdieping van die bank is Robert Smit vir die hoeveelste keer deur 'n gesofistikeerde sekuriteitstelsel met 'n vingerafdruk-identifikasiesone voordat hy in Wassermann se domein gekom het. Die twee mans het by die konferensietafel gaan sit. Wasserman het geweet hoe ver streng reëls ter wille van ryk en magtige kliënte soos Suid-Afrika gebuig kon word. Toe hy die eerste keer op die onreëlmatigheid in Suid-Afrika se rekening afgekom het, het hy egter Nic Diederichs daaroor ingelig. Toe dié voormalige minister van finansies niks daaraan doen nie, het 'n alarmklokkie in sy agterkop gelui. Daarna het John Vorster hom toestemming gegee om dieper op die saak in te gaan. Hy het voordat Smit gearriveer het sy beleggingsdirekteur, Klaus Zimmerman, in sy vertroue geneem en saam het hulle ontdek dat die bedrae wat goedgekeur is vir oordrag na eksterne rekeninge baie opgeblaas was. Die bedrae waarmee die oorspronklike goedgekeurde bedrae oorskrei is, is aan die oorspronklike magtigingsnota gekoppel. Daardie bedrae is daarna herlei na persoonlike rekeninge in dieselfde bank. Wassermann het Zimmerman gevra om afskrifte van al die relevante dokumente te maak en dit is met die oog op Smit se besoek in 'n lêer byderhand gehou. Zimmerman het dus nou by hulle aangesluit.
"Tydens 'n interne oudit 'n paar weke gelede het ons oorspronklike opvragings teen werklike transaksies getoets. 'n Ouditeur het 'n anomalie in een van jul groot rekenings ontdek en dit dadelik onder my aandag gebring. Hy het twee groot afwykings ontdek wat nie normaalweg raakgesien sou word nie," het Wassermann voortgegaan. "Soos jy weet moet twee gebruikers hul geheime kodes insleutel om elke oordrag te bevestig. Omdat die transaksies uit die hoek van die oorspronklike ontvangers pleks van die inisieerders bekyk is, was daar eers geen vanselfsprekende skakel tussen die rekeninge nie. Dus sou die mense in Suid-Afrika wat die oorspronklike magtiging geteken het, nie van hierdie verskille weet nie."
Smit het goed verstaan waarom die afwyking nie opgemerk is nie. 'n Enkele persoon aan wie die bankstelsel toevertrou is, sou nie op sy eie 'n transaksie kon inisieer nie. Vir elke transaksie moes twee afsonderlike geheime kodes ingesleutel word. Kortom, die generering van 'n afwyking en oordrag na 'n ander rekening sou op bedrog neerkom. Daarby was twee mense met toegang en geheime kodes nodig om elke oordrag te sanksioneer. Jare gelede het Smit voorgestel dat drie mense betrokke moet wees hiervoor maar sy voorstel is verwerp.
"Ek verstaan," het hy aan Wassermann gesê. "Ek wil graag die transaksies bestudeer." Hy is die kantoor langsaan aangebied.
Dit was ná twaalf toe Wassermann kom vra hoe dit gaan.
"Ek is oor die helfte," het Smit geantwoord.
Daardie aand het hy 'n telefoongesprek met Vorster gevoer en gesê hy sal Vrydag terugwees. Hierna het hy op 'n vel papier 'n paar riller-sinne geskryf: "Reuse-korrupsie; NP-skandaal; Krisis vir regering; koppe sal rol."
Intussen het genl Hendrik van den Bergh vir Nic Diederichs op kantoor gaan kuier. Diederichs het hiertydens dringend vir Smit gesoek en die eerste maal verneem dat hy oorsee is. Nic Diederichs was lank stil aan die ander kant van die lyn...
"Dis nie vreemd nie!" het Van den Bergh gebulder. "Laat ek 'n oproep of twee maak." Ná 'n oomblik het sy pen begin beweeg voordat hy die foon neergesmyt het.
Van den Bergh en Diederichs het na die Switserse skakelkode en nommer gestaar wat Van den Bergh neergeskryf het.
"Maar waarom is ons in die duister gehou? " het Diederichs geprewel.
"Maklik, ons is nie veronderstel om te weet nie want Robert Smit is op 'n sending," het Van den Bergh deur sy tande gesê.
(Vervolg)