Gustav Norval
HAARVERLIES
Hierdie artikel is vir die bleskopmanne en vir diegene wat dink hulle is besig om bles te word. Daar is heelwat middels op die mark wat beweer dat dit haargroei en dikker hare bevorder. Haargroei en haardigtheid hang af van die regte dieët, genetiese agtergrond en die teenwoordigheid van die hormoon testosteroon. Lg. is nodig vir die behoud van hare, maar ongelukkig verminder die hormoon met toenemende ouderdom en die hare word minder en al hoe fyner. Soos ‘n man verouder kom ‘n ensiem, genoem 5AR in die bloedstroom tevoorskyn wat testosteroon omskakel in ‘n nadelige hormoon genoem DHT. Lg. veroorsaak effekte soos haarverlies, prostaatvergrooting, vervanging van spierweefsel met vetweefsel, depressie, ens. Om haargroei te bevorder is dit nodig om:
• Die testosteroonvlak in die bloed te verhoog
• Om die werking van 5AR te verhoed sodat testosteroon nie na DHT omgeskakel word nie
Testosteroon kan verhoog word deur harde fisiese oefening asook deur die inname van magnesium-aanvullings. Ons kan 5AR onderdruk sodat minder DHT gevorm word deur:
(1) aanvullings in die dieët- deur inname van sogenaamde 5AR-inhibeerders: die stowwe sluit natuurlike produkte in soos:
-pampoensaadolie (0,5 ml twee maal [per dag)
-Saw palmetto (‘n GNC produk, verkrygbaar by Clicks), een tablet per dag
-Borrie, groen tee, sink-pille, Omega 6 (veral die me GLA) en Vitamien B2.
Hierdie stowwe, veral in kombinasie, kan 5AR gedeeltelik onderdruk sodat minder DHT vorm wat verantwoordelik is vir haarverlies, prostaatvergrooting ens. in mans
(2) Topikale aansmeermiddels vir die kopvel, soos Rogaine (vir mans en vroue: 5% minoxidil) en Propecia (finastreried)
(3) voorskrif middels soos finasteried-tablette, Minoxidil (10% topikaal) en Avodart. Lg. is die effektiefste haargroei-middel en die groep middels onderdruk 5AR soveel so dat haargroei bevorder word selfs in mans met genetiese haarverlies patrone. Dun fyn hare verdik en word growwer, klein rustende haar-follikels vergroot en word weer aktief. Finasteried en Avodart word voorgeskryf vir mans met prostaatvergrooting en verhoogde PSA-telling in die bloedstroom, maar dit het ook ‘n positiewe effek op haargroei.
Diegene wat die bg. middels wil beproef, moet onthou dat die groei eers na sowat 6 maande duidelik word. Daar is natuurlik ook ander oplossings soos pruike en haaroorplantings vir manne wat ‘n kitsoplossing soek. Al nadeel van die bogenoemde middels is dat hulle langtermyn gebruik moet word, want die bles sal weer kop uitsteek as die behandeling gestaak word, en dat voorgeskrewe middels jaarliks opgevolg moet word om enige moontlke verandering in die metabolisme op te spoor.
Bronne:
Google Effects of magnesium supplementation on testosterone levels of athletes; Biological Trace Element Research. 2011;140(1):18
Google:The Effect of 5-Alpha Reductase (5AR) on Testosterone in Men