Dr Fred Schwarz
Lees reeks by Jy kan die Kommuniste vertrou
MASSAVERHORE EN TEREGSTELLINGS BREEK AAN
"Kennis alleen kan ons in staat stel om staande te bly teen die verleidelike tussenfase van grenslose bedrog, soos beoefen word deur diegene wat deur J Edgar Hoover beskryf is as 'Baasbedrieërs.' "
Eindelik het die dag van die massaverhore en teregstellings aangebreek. 'n Orkes marsjeer deur die strate van die stad. Agter die orkes marsjeer daar 'n groep gevangenes met hulle hande agter die rug vasgemaak. In die toue van elke gevangene is daar 'n stok ingesteek met 'n plakkaat bo-aan waarop die misdade waaraan hy na bewering skuldig is, aangedui is. Agter die gevangenes loop die skoolkinders om na die teregstelling te gaan kyk, en agter hulle die algemene bevolking. Moeders is gedwing om met hulle babas in die arms die afskuwelike toneel te kom aanskou.
Verslae ooggetuies is volop. 'n Menigte sendelinge van onbesproke karakter getuig dat hierdie dinge werklik plaasgevind het.Oestyd het aangebreek en die klein boere wat so verruk was om besitters van hulle grond te word, is nou verbied om hulle eie graan te dors, behalwe in die teenwoordigheid van 'n gewapende soldaat. Toe die oes verby is, het die regering baie meer daarvan geneem as wat die landhere ooit gedoen het.
Teen daardie tyd was haat vir die Kommunisme die heersende gevoel onder die volk, maar hulle was so sonder leierskap, so sonder wapens, so immobiel gemaak, so afgeskei, so bespied en oorbluf, dat georganiseerde opstand onbereikbaar geblyk het. Die Kommuniste het hulle totale tirannie opgedwing.
Die periode van grondbesit deur die kleinboere was inderdaad kort van duur. Spoedig het die tydperk van gemeenskapsplase gevolg, en daarna die groot kommune wat tot selfs die struktuur van die Chinese volk, die Chinese huisgesin, en die karakter van die Chinese nasie aangetas het. Geen individuele Chinees het later een enkele akker grond besit nie. Hy is verraderlik oorgelewer aan 'n nuwe slawerny baie erger as dié van die verlede, 'n slawerny waarin hy die hulpelose slaaf is van die kolossale Kommunistiese Staat.
Die diktatorskap word gedurig hewiger. Die magte in die hande van die boonste klompie word groter en groter, totdat daar uiteindelik te voorskyn kom die man met die oppermag, die Josef Stalin, wat in die stoel van die magtiges sit, terwyl miljoene slawe heen en weer hardloop om sy bevele uit te voer. So is die bewind van dierlikheid, geweldpleging en tirannie wat onvermydelik volg op die pragtige belofte waarmee die Kommunisme sy weg na die bewind bedrieglik voortsit.
Kennis alleen kan ons in staat stel om staande te bly teen die verleidelike tussenfase van grenslose bedrog, soos beoefen word deur diegene wat deur J Edgar Hoover beskryf is as "Baasbedrieërs."
Bondgenote van die kommunisme... vervolg