...Die Gifpylpadda en ‘n Bromelia lugplant

Dr Gustav Norval
Een van die mees verstommende simbiotiese verhoudings in die skepping, is die een tussen die sg. “gifpyl padda” en ‘n Bromelia-lugplant wat hoog in die bome van die Amasone oerwoude groei. Die padda skei ‘n gif af wat deur Indiane gebruik word om aan hul pylpunte te smeer om ‘n prooi te dood nadat die prooi geskiet was. Die wyfie padda pas die bevrugte eiers op totdat die paddavissies uitbroei, waarna sy met hulle in ‘n boom opklim na ‘n Bromelia lugplant. Die paddavissies word dan in die plant se kelk geplaas.
Die Bromelia se kelke is gewoonlik gevul met reënwater waarin alge en muskietlarwes voorkom. Dit dien dan as voedsel vir die paddavisse, totdat die paddavisse na sowat 8 weke se geswem in die kelke, verander het tot klein paddas. Die jong paddas beland weer op die grond en herhaal dan die lewensiklus. Dit is maar een klein diertjie se storie tussen al die miljoene spesies in die skepping. Geen mens of evolusie kan so-iets uitwerk nie. Hoe groot is ons Skepper!

Afrika longvis
Ook verstommend is die geval van longvisse wat in Wes-Afrika, Suid-Amerika en Australia voorkom. Anders as alle ander visse het die longvis longe en kry suurstof deur lug te skep op die water se oppervlak. As die rivierwater opdroog, dan vorm die longvis ‘n holte of kokon in die modder en belyn dit met slym. Die longvis se metabolisme verstadig, sodat dit maar 1/80e is van die normale en die vis kan so in sy kokon, natuurlike droogtetoestande vir etlike maande oorleef totdat die rivier weer na reëns gevul is.
Ons is so geneig om na die see en berge te kyk en te dink dit is die somtotaal van die skepping. Maar die skepping is veel meer as dit. Kyk maar na die melkweë op ‘n donker nag in die Karoolug, en vergeet nie die planteryk en die diereryk nie. Daar is letterlik honderde duisende soorte plante en diere, elk met sy eie besonderse anatomie, fisiologie, biochemiese prosesse, gewoontes en doel in die ekosisteem waarin dit voorkom. Hoe groot ons Vader se werke!
Die mens met sy ekonomiese bedrywighede versteur egter die natuur: om maar na een voorbeeld te kyk: aardverwarming versteur die geslagsbepaling van seeskilpaaie en krokodille. Bo 31 grade Celcius ontwikkel slegs wyfieskilpaaie en bo 34 grade slegs mannetjiekrokodille. Wetenskaplikes is bekommerd dat die spesies mettertyd kan uitsterf.