‘n Beskawing kom nie tot stand deur ‘n blote strewe na eendersheid nie. Dit kom tot stand deur gedeelde waardes, gedeelde agtergrond, gedeelde toekomsverwagting en deur vorm en struktuur. Dit vereis grense, geheue, orde en rang. Dit vereis die vermoë om te onderskei tussen hoër en laer, vriend en vreemdeling, heilig en godslasterlik.
Richard Weaver skryf in sy boek ‘Ideas have Consequences’ dat hy bevooroordeeld (“prejudiced”) is want dit is ‘n natuurlike uiting van die mens – hy onderskei, hy kies, hy gee voorkeur aan sekere dinge bo ander. Weaver sê hy sou skaam gevoel het as hy nie bevooroordeeld was nie.
Die antieke wêreld het onderskeid verstaan. Gedurende die Middeleeuse is dit bewaar. Selfs die vroeë moderne wêreld, voor dit die bande van tradisie die rug begin keer het, het steeds die idee behou dat orde die natuur moet weerspieël.
Wat ons nou in die gesig staar – in hierdie land en ook in baie ander - is nie bloot 'n afwyking van die verlede nie. Dit is 'n bewuste omkering van die beginsel van die beskawing. ‘n Verwerping van juis dit wat orde daargestel het.
Ja, maak jou gretig los van jou eie en staan dan verbaas dat die vreemde wat jy wil omhels jou nie met ope arms ontvang nie!