REËNBOOGLAND (5)

Dr JP Botha

Lees reeks by REËNBOOGLAND

SWART (3)

3. Jakob Matlala en die Basoeto’s

Ons het ook die storie gehoor dat daar mense is wat loop en rondvertel dat al die nasies wat in Suid-Afrika woon, gerus maar kan saamsmelt en één bruin, geel, swart, wit, rooi volk word.  Vir ons Basoeto’s is dit die belaglikste ding wat iemand kon uitdink.  Hulle weet seker niks van die geskiedenis van hierdie land nie.  Daarom gaan ek nou vir jou vertel hoe ons Basoeto’s met die Zoeloes, die Matebeles, die Boere en met die Engelse gebots het, sodat ons tot vandag toe nog glad nie lief is vir mekaar nie, wat staan nog gewillig te wees om één nasie te word.

Ons Basoetovolk is oorspronklik uit ‘n ou klein stammetjie gebou.  Dit was die Bamakoteli wat eers by Buthabuthe onder ons opperhoof, Mosjes, gewoon het.  Ons is in 1824 daarvandaan deur die Zoeloes verdryf.  Mosjes het toe met almal wat hom gevolg het, suidwaarts na die berge gevlug en op die kruin van die berg by
Thaba Bosigo sy tuiste gemaak.  Hier kon Dingaan se hordes ons nie bykom nie en Silkaats se moordbendes het deur die Vrystaat die Transvaal binnegebars en ons Basoeto’s by  Thaba Bosigo met rus gelaat.

Daar het voortdurend vlugtelinge by ons aangekom, wat deur Mosjes verwelkom is.  So het ons Basoetovolk gegroei en sterk geword.  Nie een van die ander klein stammetjies het gewaag om ons aan te val nie, maar Mosjes wou nie dat ons baie ver van Thaba Bosigo af ons lande en tuine aanlê en ons beeste daar laat wei nie, want die gevaar dat die Zoeloes dan op ons kon toeslaan, was groot.  Dit was vir ons Basoeto’s ‘n groot verligting toe boodskappers in 1837 vir Mosjes kom vertel dat die Voortrekkerleier, Hendrik Potgieter, vir Silkaats ‘n nekslag toegedien het en dat hy Bulawayo toe gevlug het.  Die jaar daarna is die Zoeloegevaar ook die nek ingeslaan toe Andries Pretorius by Bloedrivier Dingaan se mag gebreek het.

Daarna het koning Mosjes begin uitbrei.  Hy het vir ons Basoeto’s aanspraak gemaak op al die grond aan die noordekant tot aan die Vaalrivier en aan die westekant tot waar die Caledonrivier in die Oranje vloei.  Maar toe het ons die eerste keer kennisgemaak met Engelse arrogansie, grypsug en grondhonger.

Die Engelse is vir 'n wit nasie, ‘n baie snaakse nasie.  As iemand anders iets het wat hulle ook graag wil hê, dan vat hulle dit eenvoudig en dan sê hulle dis in almal se belang dat die sterkste een dit moet besit.  Ons swart nasies maak ook almal so.  Ons gaan vat mekaar se beestroppe, of ons sluip oor die grens en gaan keer die witmense s’n aan en dink daar is niks mee verkeerd nie, want ons het dit mos nodig.

Ons kon dalk in vrede hier gelewe het as die Engelse nie al agter die Voortrekkers aangekom het en al die gronde wat hulle vir hulself makgemaak het, weer afgeneem het nie.  Die Engelse het ons gedurig teen hierdie Boere opgemaak en gesê hulle wil ons uitroei en ons grond vat en ons kinders vang en slawe van hulle maak.

In 1843 het daar in die gebied wes van Thaba Bosigo, wat later die Vrystaat genoem is, al baie Witmense vanaf die Oranje tot aan die Vaalrivier gewoon.  Die Engelse het meer suid gewoon en die Boere het tussen die Vet- en die Vaalrivier gebly.  Dié grond het Hendrik Potgieter by Makwana vir 49 beeste gekoop en dit die Republiek Winburg genoem.

Maar die Engelse wou nie hulle neuse uit hierdie Vrystaatse gronde uithou nie.  Die Kaapse goewerneur het ‘n sogenaamde verdrag met Mosjes kom sluit.  Hy moes namens ons Basoeto’s in die oostelike deel van die gebied oor die Boere en die ander Blankes baasspeel.  Hulle sou hom daarvoor R150 per jaar betaal, of vir hom gewere en ammunisie gee.  Net daar het ons Basoeto’s se moeilikhede begin, want die Boere is nie ‘n nasie op wie se kop jy kan sit nie.

Die Engelse het met Adam Kok van die Griekwas, wat in die westelike deel van die gebied gewoon het, ook ‘n verdrag gesluit.  Hy moes die orde daar handhaaf.

Daar was gou moeilikheid in die hele gebied tussen Mocke, die Boere se leier in Winburg, en ‘n sekere Oberholzer, wat gedink het hy self is ‘n Engelsman.  Toe kom ons Basoeto’s en die Griekwas ook nog by en almal maak onderling met mekaar rusie.  Die Engelse het toe al gedink dat hulle baas oor die hele gebied is.  Die Kaapse goewerneur het in 1846 ‘n majoor Warden met ‘n troepemag hier na ons toe gestuur en hom op ‘n plekkie wat hulle Bloemfontein genoem het, gestasioneer.

Ons Basoeto’s se getal het maar aldeur aangegroei en ons kon nie op Thaba Bosigo gekluister sit nie.  Ons moes veral weswaarts na die Rietrivier se kant toe, weiveld soek en tuine maak.  Dit het ons in botsing gebring met die ander stamme en met die Boere op die plase en dan probeer Warden om ons met sy troepemag weer na Thaba Bosigo terug te dryf.

Toe ons almal wat in die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier gewoon het met mekaar rusie maak, was dit een te veel vir die Engelse.  Die Britse regering het die hele gebied in 1846 geannekseer en dit die Oranjerivier-Soewereiniteit genoem. Die Engelse wat daar gewoon het, was hoogs in hulle skik, maar die Boere en ons Basoeto’s was erg ontevrede. Ons het gou met Warden in Bloemfontein moeilikheid gekry. Toe trek hy met sy hele troepemag teen ons op, maar ons het hom by Viervoet ‘n lekker pak slae gegee. Toe goewerneur Cathcart van die Kaap dit hoor, kom hy met ‘n sterk mag noordwaarts om ons ‘n les te kom leer,  maar hy het ook lelik op sy neus gekyk. Ons het hom by Bereaberg ‘n goeie loesing gegee en op die vlug gedryf, maar toe besef koning Mosjes dat hy met sterk magte kon terugkom en ons verpletter.  Hy stuur toe agter hom aan en laat weet dat hy ons platgeslaan het en nou soebat ons asseblief tog om vrede.  Dit het gewerk, want hy het ons toe met rus gelaat.

Maar dit het nie die moeilikhede in hierdie Orange River Sovereignty opgelos nie, want die Boere in die Winburggebied wou nie onder die Engelse staan nie.  Hulle vra toe vir Andries Pretorius om vir hulle te kom help.  Hy het met 750 man gekom, maar sir Harry Smith van die Kaap het hom met ‘n sterk troepemag en kanonne by Boomplaas gestuit.  Pretorius het sy manne huis toe gestuur en na sy plaas in Transvaal teruggegaan.

Die Engelse was só bang dat hy dalk weer kon terugkom om die Winburg-Boere te kom help, dat hulle toe vir hom in 1852 die onafhanklikheid van Transvaal gegee het, om hom daar te hou. Maar hier in die Soewereiniteit was die Winburgse Boere en ons Basoeto’s sommer twee groot klippe in die Engelse se skoen.  Toe gee hulle maar in 1854 vir die hele Vrystaat ook onafhanklikheid, net om van die Boere ontslae te raak.  Daar sit die nuwe Boere-Vrystaat toe opgeskeep met koning Mosjes en al ons Basoeto’s van Thaba Bosigo.  Daar is ‘n grenslyn vasgestel en ons het beloof om nie aan die Vrystaat se kant te gaan woon nie.

Koning Mosjes het die Boere se eerste president, Josias Hoffman, goed geken.  Hy het vir Mosjes hier in die berge ‘n paleis gebou en toe as beloning daarvoor ‘n mooi plaas aan die Caledonrivier gekry.  Ons het ook vir hom ‘n mooi huis hier op die berg gebou, waarin hy kon tuisgaan wanneer hy ons Koning hier op Thaba Bosigo besoek.

So ’n besoek het in Augustus 1854 plaasgevind.  Ons het hom met vreugdeskote verwelkom.  Die Engelse het mos vir ons gewere en ammunisie gegee en ons mooi geleer om dit te gebruik.

Die middag toe die President klaarmaak om weer te ry, stuur Mosjes ‘n boodskapper agterna en vra vir hom asseblief tog ‘n geskenk van buskruit, want ons het daardie môre al ons kruit weggeskiet toe ons hom verwelkom het.  Hy het belowe om dit te gee en ‘n rukkie later het ons ‘n vaatjie kruit in Bloemfontein laat haal.   Hoffman se volksraad was baie ontevrede en het hom gevra om te bedank.

Jacobus  Boshof, hulle volgende president, het ons Basoeto’s ‘n klomp rowerbendes genoem, want Mosjes het ons toegelaat om anderkant die grens, in die Vrystaatse gebied, vir ons te gaan vee haal wat ons nodig gehad het.  Boshof het ‘n kommando teen ons uitgestuur en al ons Basoeto’s wat in Vrystaatse gebied gewoon het, teruggedryf tot binne-in Thabo Bosigo.

Maar kort daarna het Mosjes ons maar weer toegelaat om ons hutte aan die Vrystaatse kant te gaan bou en daar lekker tuin te maak.  Mosjes het vir Boshof laat weet dat ons nie weet waar die grens loop nie.  Hy moet ‘n onpartydige persoon kry om dit te kom aanwys.  Hy kry toe vir sir George Grey van die Kaap en dié goeie Engelsman stel hom toe só vas dat ons Basoeto’s 30 goeie plase van die Vrystaat bygekry het!

Maar in 1864 het goewerneur Wodehouse van die Kaap op versoek van president Jan Brand, weer die grenslyn waaroor ons so rusiemaak, kom aanwys.  Hy trek toe die lyn so dat ons Basoeto’s 60 plase, wat elkeen 3 000 morge groot is, verloor.

Daarna het Mosjes ons oor die grens gestuur om te gaan vat wat ons in die hande kon kry.  Jan Brand het dit nie verdra nie.  Hy het aan die spits van ‘n kommando teen ons uitgetrek en al die Basoeto’s oor die grens teruggedryf na Thaba Bosigo. Toe vra koning Mosjes vrede. Brand het toegestem, maar ons moes weer ‘n groot stuk grond wat noordwes van die Caledonrivier lê, aan die Vrystaat afgee.

Koning Mosjes wou met hierdie “vrede” net tyd wen.  Hy het ons uitgestuur om ons groot graansorghumlande op die vlaktes te gaan afoes.  Toe alles veilig op die berg in spelonke weggebêre is en al die beeste ook op die kruin gebring is, was ons gereed om ‘n beleg te trotseer.  Ons het genoeg gewere gehad en drie ingevoerde kanonne en ons het toe al ons eie buskruit gemaak.

Toe stuur koning Mosjes ons weer in groot getalle die Vrystaat in om te roof en te plunder en te moor.  Maar Jan Brand het nie op hom laat wag nie.  Hy het ons weer met ‘n sterk kommando teruggedryf en daarna begin om Thaba Bosigo te beleër.

Ons slim koning Mosjes het ‘n ruk vantevore in ‘n brief hulp gevra van die Kaapse goewerneur Wodehouse.  Hy het dadelik ‘n troepe-afdeling gestuur wat met Brand kom onderhandel het, sodat hy die beleg opgegee het en ons ongeskonde gelaat het.  Maar kort daarna het koning Mosjes en ons Basoeto’s ontdek dat ons van Engelse kant nie ongeskonde was nie.

Ons het toe al meer as een keer die ondervinding gesmaak dat as die Engelse jou help, dan doen hulle dit met ‘n doel.  Hulle kry gewoonlik baie meer daaruit as wat jy gekry het toe hulle jou gehelp het.  Ons Basoeto’s het vir Wodehouse se “hulp” ‘n baie duur prys betaal.  Hy het ons hele Basoetoland in 1868 vir Engeland geannekseer en dit met ons en al in 1871 by die Kaapkolonie ingelyf. Daarvandaan was ons toe volslae Britse onderdane.  In die jare wat daarna gevolg het, het ons genoeg van die Engelse gehad.

Ons Basoeto’s sal nie graag wil deel word van ‘n “reënboognasie” waar die Engelse tog maar weer alleen baas sou wil speel nie.  En al sou hulle ook weer soos in 1994 met behulp van ‘n klompie Afrikaner-verraaiers,   weer een van ons Swart stamme in die stoel plaas soos wat hulle met die Kôsas gedoen het, sou dié onkundiges nie die regeringsmag besit nie, maar sou die Engelse en hulle internasionale trawante nog steeds dikteer wat in Suid-Afrika moet gebeur.

Tom Makobela en die Tswanas...vervolg