GEMAALDE VLEIS LIG WENKBROUE

Lucille Botha

Bykans ‘n derde van maalvleis wat ontleed is, is met vark- of hoendervleis gemeng of daarmee besmet, het ‘n voorlopige studie bevind. Dit sal oor die volgende paar maande deeglik ondersoek word.

Volgens prof. Louw Hoffman, professor in vleiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch, is die US ná die halaal-skandaal vroeër vanjaar genader om DNA-analises van maalvleis en wors te doen. “Byna 30% van die produkte het varkvleis bevat,” het hy by die Rooivleis en Abattoirvereniging se konferensie op Stellenbosch gesê. Dit is nie op die etikette aangetoon nie.

Donna Cawthorne, ‘n PhD-student, het ‘n loodsstudie onderneem om vas te stel of dit werklik ‘n probleem is. Sy het ‘n klein steekproef by ‘n paar winkels geneem. Sy is huiwerig om ‘n syfer te noem, maar sê “daar was ‘n hoë teenwoordigheid van vark- of hoendervleis” in die maalvleis en wors. Dit het haar aangevuur om ‘n deeglike studie te doen.

Verskillende provinsies
“Daar is beslis ‘n probleem,” het sy aan Landbouweekblad gesê. Cawthorne sal oor die volgende twee maande meer as 100 monsters van verskillende provinsies toets.

“Dit is moeilik om te sê of die vark- en hoendervleis bygevoeg is en of die maalvleis daarmee in aanraking gekom het deur slaghuise en verwerkingsaanlegte se toerusting wat nie skoongemaak word nie,” het sy gesê.

“Streng gesproke is dit vanuit ‘n geloofs- en gesondheidsoogpunt nie reg nie. Die vleisbedryf sal met my argumenteer, maar as daar spore van hoender of vark in die produk voorkom, moet dit op die etiket verklaar word.”

Volgens mnr. John Durr, voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die RPO, is hulle nie tans bekommerd oor dié  praktyke nie. Hy sê dit kan wel vir seker geloofsgroepe ‘n probleem skep, maar supermarkte is veronderstel om halaal-vleis afsonderlik te hanteer.