KOMMUNISME EIS SY 'TOL'

BERIGTE VAN AKTUELE BELANG

Ons weet reeds dat die duur nuwe tolstelsel tussen Pretoria en Johannesburg aan die Oostenrykse firma, Kapsch TrafficCom AG behoort, wat bereken het dat die onkoste van die stelsel binne agt jaar klaar betaal moet wees. Daarna is dit lag-lag al die pad bank toe met miljarde rande wins in hulle sakke terwyl die Suid-Afrikaner krepeer om die belastings te betaal – want by sy werk móét hy kom! – hierdie saak is fyn bereken...  Die omstrede Suid-Afrikaanse firma, GijimaAST, is ook deel van hierdie konsortium. Dis duidelik dat die tolhekstelsel ontwerp is om die publiek te melk en die belange van die internasionale geldmag en Suid-Afrika se kommunistiese regime en sekere korporatiewe onder SEB te dien.

Terwyl padverbruikers reeds nagenoeg R2,47 per liter vir petrol betaal  - en volgende week 'n baie groter skok met die prysverhoging gaan kry - vir verskeie vorm van belasting, is R1,67 per liter petrol – wat tans R8,84 per liter vir 93 oktaan kos – aan die brandstofheffing afgestaan. Hierdie heffing is oorspronklik bedoel om onder meer die paaie en netwerke in stand te hou. Maar duidelik is dit nie waarvoor die geld gebruik word nie. Nou gaan dit 'n gewone motoris wat daagliks tussen Johannesburg en Pretoria pendel minstens R800, dalk meer, eksta kos, wat beteken dat hy op vervoer dubbel en dwars belas word. Maar was ons nie jare gelede reeds gewaarsku dat dit presies is wat kommunisme meebring nie, dubbele belasting op alles wat ons besit? Is ons nie toe reeds vertel dat indien jy 'n tweede toilet in jou huis het, jy daarop ekstra belas sal word nie? Of die tweede motor, en as jy so luuks wil leef om 'n woonwa of 'n boot of selfs 'n tweede huis te besit sal jy daarop ekstra belas word tot baie meer as jou oë traan.

Dié tolgelde gaan ook ‘n enorme impak hê op boere wat hulle produkte na die varsproduktemarkte vervoer. Dit gaan boere se vervoerkostes met baie miljoene per jaar verhoog. Of dit die boer is wat self sy produkte vervoer, en of hy ‘n vervoerkontrakteur betaal, die boer gaan deur sy nek betaal sodat die vet katte in die Swart regering en die buitelandse geldmag nog dikker om die nek kan word. Alles wat in en uit of deur Transvaal geneem moet word gaan betrokke wees, en daar gaan betaal word want daar is nie werklik ander of beter roetes nie. En wie gaan die gelag betaal op die landbouprodukte-pryse wat ten hemele gaan styg? Die boer én die verbruiker natuurlik. En elkeen wat asemhaal in hierdie land moet eet.

Leef ons reeds in die tyd van Openbaring waar daar aan "hulle" die mag gegee is om "ons" dood te maak deur ook die swaard en hongersnood? Dan moet ons maar weet dat die groot dag van die toorn van die Lam ook nie meer ver is nie, en wie kan dan bestaan?