HOE WIL TLU-SA DIE SAPD STAMP?

MEDIAVERKLARING - TLU SA

Polisie by Openbare Klagtedirektoraat en Openbare Beskermer aangegee

“Gebreekte beloftes, gebrekkige of geen terugvoer en oënskynlike voeteslepery om Ministers te beskerm, laat TLU SA nou geen ander uitweg as om so hard moontlik op te tree teen die SA Polisiediens nie.”

So sê mnr. Louis Meintjes, Adjunk-President van TLU SA en ook voorsitter van die Nasionale Waterforum (NWF) oor die feit dat daar nog hoegenaamd geen tasbare vordering gemaak is met die strafregtelike klagtes wat in Mei verlede jaar teen drie Ministers gemaak is oor hulle versuim om op te tree ten einde te verhoed dat skoon water besoedel word en sodoende onbruikbaar word vir onder andere landbou-doeleindes.

“Dit bly net ’n gedurige stryd om net basiese en ordentlike terugvoer te kry van die SAPD oor waar die ondersoek staan en wat die vordering is,” sê mnr. Meintjes.

  “Op  7 Mei 2010 is die klagtes gelê by Brooklyn-polisiekantoor.  Na veel moeite is ’n gesprek gevoer op 25 Augustus met genl. maj. Taioe en kol. Louis Bester van die SAPD.  Daar is toe onderneem dat kol. Bester die hele ondersoek sal ko-ordineer, aangesien die klagtes oor ’n wye geografiese gebied strek.  Eers op 7 Oktober is die eerste terugvoer van kol. Bester ontvang. Op 29 Oktober rapporteer hy dat die dossier verwys is na die Direkteur van openbare Vervolging.  Verskeie versoeke is gerig en uiteindelik het ’n vergadering op 10 Desember plaasgevind tussen die TLU SA/NWF, die SAPD en Dept. Waterwese.

“By dié vergadering is besluit dat ’n brief van DOV afgewag word oor stand van vervolging, dat Dept. Waterwese bepaalde riglyne beskikbaar sal stel teen 10 Januarie 2011, dat Dept. Waterwese ander instansies, soos die Beplanningskommissie, Dept. Landbou, Dept. Minerale en Energie, Dept. Koöperatiewe Samewerking en Tradisionele Sake, Dept. Justisie, Dept. Omgewingsake, Dept. Menslike Hervestiging, Agri SA en NAFU sal betrek.

“So het 10 Januarie aangebreek sonder dat ’n enkele saak skynbaar aangespreek is, want ons het nie die beloofde terugvoer van kol. Louis Bester of van me Govender van Waterwese ontvang nie.  Navrae is gestuur op 14 Januarie en weer op 9 Februarie, en in laasgenoemde gevalle word nie eens erkenning van ontvangs ontvang nie,” sê mnr. Meintjes.

“Ons het geen ander keuse as om hierdie toonbeeld van onbetroubaarheid verder te neem nie, en ’n volledige verslag met versoek tot verdere optrede, word nou deurgestuur aan die Openbare Beskermer, sowel as die Onafhanklike Klagte Direktoraat,” sê mnr. Meintjes.

“Intussen gaan die waterbesoedeling in baie gevalle voort.  Dit word hoog tyd dat hierdie saak dringend aangespreek word, en ons glo dat as daar ’n goeie voorbeeld  gestel word deur ’n verantwoordelike persoon of persone te vervolg, en die swaarste moontlike strawwe te laat oplê, daar dalk iets sal begin gebeur,” sê mnr. Meintjes.