OORLOG - ONS WEIER DAT HUL ONS PLASE STEEL !

Persverklaring uitgereik deur TLU-SA Oos-Kaap
13 Augustus 2018
Vir onmiddelike vrystelling


Boere sal nie toelaat dat hulle plase gesteel word nie.


Boere in die Oos-Kaap is dit eens dat geen plase deur die regering se self-gewettigde diefstal sal plaasvind nie en berei hulle voor om met alles tot hulle beskikking hulle wetlike eiendom te beskerm.
Johan Steyn, TLU-SA Oos-Kaap voorsitter, het die stelling gemaak na afloop van ’n e-konferensie vir TLU-SA Oos-Kaap lede dié naweek.
“Die TLU-SA se doelwit is om landbouers volhoubaar en ekonomies winsgewend tot voordeel van almal in Suid-Afrika, op hulle plase te hou. Deur die bekendstelling van ’n lys waarop 195 plase vir gewettigde diefstal deur die ANC, laat die regering boere geen ander uitweg nie as om hulle wettige eiendom te beskerm.”

 Steyn sê dat boere nie gaan toelaat dat hulle deur Kommunistiese werkswyse van hulle plase verwyder sal word nie. Hy wys daarop dat die aannames waarop die regering se besluit berus, uit leuens en verdraaiings bestaan.
“Geen grond is deur blanke boere gesteel nie. Dit is ons eiendom waarvoor betaal is en waarop rente, belasting, hereregte en oordragkostes betaal is. Landbouers behoort as gevolg van hulle bydrae tot almal se welstand in dié land, as nasionale bate geag te word. In werklikheid beeld die regering ons as die vyand uit. Ons beskou die regering se doelwit om ons eiendom - van enige aard ookal - te steel, as ’n oorlogsverklaring teen ons en sal ons daarvolgens optree.”
Hy het voort gegaan om te sê dat boere slegs toegelaat wil word om dít te doen waarvoor hulle geroepe is, om bekostigbare voedsel vir elke inwoner van Suid-Afrika te verskaf. Steyn het uitgewys dat boere hulle uitstekend van hul taak kwyt en boonop aansienlike buitelandse valuta vir die land verdien.
“Die ANC het telkemale bewys dat hulle geensins in feite, redelikheid, gesprekvoering en ekonomiese werklikhede belangstel nie. Hulle gaan voort om die belange van blankes in die algemeen en boere spesifiek - almal burgers van dié land - te verontagsaam en vyandig teen ons op te tree. Ons bid vir vrede en voorspoed vir ons land maar ons sal met alles tot ons beskikking ons regmatige eiendom beskerm. Die ANC druk dit op ons af.”
Steyn het ’n versoek aan die regering gerig om tot hulle sinne te kom en ’n tragedie van onmeetbare omvang te verhoed.