WIE IS DIE AFRIKANER- BROEDERBOND? (7)

Lees reeks by  Wie is die Afrikaner-Broederbond?

B Schoeman

Die skeuring van 1969

"Daar is net een verklaring: Vorster het daarin geslaag om die Broederbond volledig in te palm as "stutorganisasie" vir sy Party en hy het in die UR 'n gewillige instrument gevind om die grondwetlike en reglementêre bepalings van die Broederbond oorboord te gooi."

Die jaar 1969 het begin, swanger van onheil vir die Afrikaner. Op die kultuurfront het die vlamme oral uitgeslaan, maar dit was veral op gebeure in die Nasionale Party wat alle oë gerig was. 'n Skeuring is immers elke dag verwag. Dat politici pogings sou aanwend om dit te verhoed, was vanselfsprekend en telkens is die kwade dag vorentoe geskuif nadat nuwe beloftes gemaak is dat daar nie van tradisionele beleid afgewyk sou word nie. Binne die AB het dit al duideliker geword dat die UR in hierdie proses na twee kante probeer speel het, maar baie harder na die een kant toe. Hy wou graag 'n skeuring in die AB self voorkom, maar hy wou ook tot elke prys Vorster ter wille wees.

Hoe dit ook al sy, dit was duidelik dat die UR geen plan gehad het om op te tree teen afwykings binne die AB waar dit Vorster geraak het of persone wat sy beskerming geniet het nie. Terselfdertyd moes dit nie openlik gesê word dat die UR hierdie mense steun nie. Daarom is van die kant van Meyer en Naude Botha die vertragingstaktiek gevolg waarna reeds verwys is, byvoorbeeld ten opsigte van die stuk van die Pretoriase Sentrale Komitee en die klagte teen Cillië en Pienaar en die goedpratery van Rupert en Van der Merwe. Vir elke saak het Meyer telkens 'n kitsoplossing gehad waaraan hy allerlei beloftes gekoppel het.

Presies in hierdie patroon van na twee kante speel, verbly die UR horn daarin as die skeuring weer eens uitgestel word, maar kan dan nie nalaat om Vorster te prys vir sy broederlikheid nie! In die omsendbrief van Junie 1969 staan daar: "Die UR het met dank kennis geneem van die mededelinge wat gedurende die afgelope maand gedoen is in verband met die oplossing van probleme in Afrikanergeledere, veral binne die Nasionale Party. Daar bestaan hoë waardering vir die broederlike wyse waarop die Partyleiding teen ander vriende opgetree het..."

Intussen is die omsendbriewe van die AB al sterker ingespan om propaganda vir die Regeringsparty te maak, nieteenstaande die verbod van die grondwet en reglement op partypolitiek binne die organisasie. Reeds in Mei 1969 word die volgende in 'n omsendbrief berig: "Waar daar in die jongste tyd op onverantwoordelike wyse sprake is van 'n nuwe Party wat dan 'n tuiste vir ontevrede Nasionaliste sou bied, wil die UR langs hierdie weg weer eens op elke broer se hart druk: ons organisasie sal nie regstreeks of onregstreeks enige poging om ons volk polities te verdeel, steun nie, aangesien nie alleen byna al ons politieke leiers lede van ons organisasie is en ons steeds welwillende en openhartige toegang in alle sake tot hulle het nie, maar ook omdat die Nasionale Party talryke kanale in en deur sy eie organisasie bied vir gemotiveerde kommentaar, opbouende kritiek en moontlike wysigings ten opsigte van politieke beleid en die implementering daarvan, selfs tot in die kleinste besonderheid. Die UR wil van sy kant beklemtoon dat, op grond van sy gereelde samesprekings met ons Eerste Minister en lede van sy Kabinet, daar geen regverdiging hoegenaamd vir die stigting van 'n nuwe Party bestaan nie."

Die UR kom tot hierdie gevolgtrekking na eensydige samesprekings met die Eerste Minister en lede van die Kabinet.

Sou enigiemand kon verwag dat van daardie kant enige ander indruk geskep sou word? Die vraag kan ook gestel word waarom nie ook samesprekings met die AB-lede onder die "ontevrede Nasionaliste" gevoer is nie? Maar as van hierdie "ontevrede Nasionaliste" uit die NP geskop word, onthou Meyer skielik die bepalings van die grondwet. In die omsendbrief van 7 Oktober 1969 word verslag gedoen van '"n informele besoek" wat die UR op 25 September 1969 by Vorster in Libertas afgelê het. Dit lui onder meer: "Ten opsigte van dissiplinêre optrede teen lede van die Party wat nie hul weg oopsien om hulle by kongresbesluite neer te lê nie, het die UR-voorsitter beklemtoon dat die AB hom nie in die huishoudelike sake van die Party inmeng nie." Dan word voortgegaan: "Hy (die UR) sal egter graag soos in die verlede wil voortgaan om ons broers in die leiding van die Nasionale Party oor landsake in te lig waaromtrent getroue lede en ondersteuners van die Party bekommerd mag voel of graag deur die Regering bevorder wil sien."

Twee sake is hier interessant. Eerstens die feit dat die UR nie die AB se standpunt aan die Regering gaan oordra nie, maar die van "getroue lede en ondersteuners van die Party". Die UR tree dus by die Party op namens lede van die Party. Wat het dan geword van die "talryke kanale" wat die Party "in en deur sy organisasie bied vir gemotiveerde kommentaar"? Of het die AB dan nou deel van die Party-organisasie geword?

Tweedens wil die UR optree namens bekommerde "getroue lede" van die Party, maar as daardie getroue lede uit die Party geskop word omdat hulle by tradisionele Afrikanerbeleid bly staan, dan sê Meyer "dat die AB hom nie in die huishoudelike sake van die Party inmeng nie".

Terselfdertyd is die UR bereid om alles te aanvaar wat van regeringskant kom. Die verslag lui voorts: "Die UR aanvaar ook die versekering van die Regering dat in die toepassing van die neergelegde sportbeleid streng gewaak sal word teen enige optrede of gebeure wat tot ondermyning van ons tradisionele apartheidsbeleid mag lei."

Geen wonder dat hierdie verslag met die volgende sin afsluit nie: "Broer Vorster het hierop geantwoord dat hy die UR se medewerking steeds opreg verwelkom en waardeer!" Oor die UR se medewerking om 'n partybeleid te bedryf wanneer dit in Vorster se guns was en dan skielik "nie in die huishoudelike sake van die Party in te meng" wanneer dinge teen sy politieke belange was nie, kon Vorster bepaald nie ontevrede gelaat het nie! Trouens, reeds op die Bondsraad van 1968 het Vorster gese: "Dit is waar wat u in u verslag ge­sê het, dat met omsendbriewe wat u die afgelope tyd uitgestuur het, u eintlik afgewyk het van ‘n ou gebruik om nie direk na die politiek te verwys of dit in omsendbriewe te berde te bring nie. Dit is goed dat u dit gedoen het. Want die omstandighede waarin ons ons vandag bevind, dui onteenseglik daarop, en uit die ervaring wat ek in die afgelope jare (en by uitstek die afgelope twee jaar) opgedoen het, het dit vir my meer as duidelik geword, dat veral in die twee jaar wat voorlê daar niks deur iemand of iets gedoen moet word wat die Party waarvan ek die leier is, sal seermaak nie."

Die omstandighede waaronder die politieke skeuring in September 1969 geskied het, is welbekend en hoef nie hier herhaal te word nie. Die onmiddellike aanleidende oorsaak vir die uitdrywing van sekere Afrikaners uit die NP was Vorster se sportbeleid wat aanvanklik om die enkele kwessie van Maori's in 'n besoekende All Blackspan gewentel het. In 1968 het die AB-komitee oor sport nog aanbeveel dat "die beleid van afsonderlike ontwikkeling ook op sportgebied toegepas moet word en dat geen mededinging tussen Blank en Nie-Blank binnelands plaasvind nie." 'n Jaar later word mense uit die NP geskop omdat hulle geweier het om van daardie be­leid af te wyk.

Op 24 Oktober 1969, die eerste dag van die stigtingskongres van die HNP, stuur Meyer 'n buitengewone omsendbrief namens die UR uit oor "Die AB en die huidige politieke toestand." Daarin word onder meer verklaar: "Met ons instelling word beklemtoon dat, hoewel nie van ons verwag word om altyd eenders te dink en te doen nie, ons deur Broerskap saamgebind word om ons volk op alle lewensterreine te dien sonder om eie eer en voordeel te soek. Waar broers van mekaar verskil en ook tussen broers tans 'n po­litieke stryd gevoer word, moet dit as broers, Christenbelyders, geskied. Hoe ons van mekaar verskil, is vir die AB belangriker as die feit dat ons van mekaar verskil. Dit was die beproefde weg toe daar voorheen gedurende die veertigerjare 'n soortgelyke toestand geheers het. Nieteenstaande die verwydering wat toe tussen Afrikaners gekom het, het ons tog weer later bymekaar gekom."

Pragtige woorde, maar net in die volgende paragraaf laat Meyer geen twyfel waar die AB in die komende politieke stryd sou staan nie. Hy skryf: "Waar sekere interpretasies van byvoorbeeld die Regering se sportbeleid strydpunte onder broers geword het, aanvaar die UR die versekering van die Eerste Minister dat in die toepassing daarvan streng gewaak sal word teen enige optrede of gebeure wat tot die ondermyning van ons tradisionele apartheidsbeleid mag lei." En dan word die vrome kwalifikasie weer bygevoeg: "Ons organisasie meng ook nie in die huishoudelike sake van die Party in nie."

Watter bespotting Meyer van "die beproefde weg" gemaak het, blyk uit sy verslag op die Bondsraad van 1970. Hierin ruk Meyer self die masker van partypolitieke onpartydigheid af en erken hy openlik dat die UR hom van die begin af by die NP en teen die HNP geskaar het. Waar oor die "werksaamhede van die UR" gerapporteer word, word dadelik gesê dat dit "teen die agtergrond van politieke en ander gebeu­re in Suid-Afrika beoordeel (moet) word." En onmiddellik word die ou valse propaganda herhaal "dat daar binne die geledere van die Nasionale Party as politieke tuiste van die Afri­kaner sodanige onmin ontstaan het dat 'n aantal LV's en andere weggebreek het om 'n eie Party te stig." Die feit dat hierdie LV's uitgedryf en uitgeskop is omdat hulle by Afrikanerbeginsels en AB-ideale bly staan het, word sorgvuldig verswyg. Van die feit dat die uitskoppery geïnisieer is onder leiding van AB-lede wat die AB-ideale verloën het, word natuurlik net so sorgvuldig verswyg.

Die verslag meld voorts dat die indruk posgevat het dat die skeuring groter was as wat werklik geblyk het. En dan verbly Meyer hom daarin dat die pasgebore Herstigte Nasionale Party (HNP) nie beter gevaar het nie as hy verder rapporteer: '"n Ingebore sin vir verantwoordelikheid en realisme en die wete dat grootskaalse Afrikaner-verdeeldheid onherroeplike skade kan veroorsaak, het op die ou end die deurslag gegee soos uit die uitslae van die algemene verkiesing van 1970 blyk."

Waar in 'n enkele paragraaf daarna verwys word "dat die optrede van die perswese in die algemeen die gramskap van Afrikaners en ons lede veroorsaak het", word slegs die naam DIE AFRIKANER, amptelike blad van die HNP, genoem: "Die toetrede aan die begin van 1970 van 'n nuwe Afrikaanse koerant, Die Afrikaner, tot die persterrein het die situasie verder vertroebel." Meyer het klaarblyklik nie kans gesien om in ‘n enkele afkeurende sin die name te noem van die Afrikaanse koerante wat, onder leiding van AB-lede, alles in hulle vermoë gedoen het om die skeuring te forseer nie. Hy kry dit net reg om die naam te noem van die koerant wat as gevolg van die skeuring ontstaan het.

Met groot vroomheid vertel hy hoe ernstig die UR probeer het om die politieke skeuring te voorkom. "Beroeringe in Afrikanergeledere," sê hy, "moes noodwendig 'n groot deel van die UR se aandag in beslag neem. Samesprekings met individuele vriende en groepe vriende om 'n skeuring te voorkom en eensgesindheid te bevorder, onderlinge gesprekke, langdurige samesprekings op UR-vergaderings self, ens., het in die tyd plaasgevind."

Enige normale mens sal hieruit aflei dat hierdie samesprekings met leidende figure in albei partye gevoer is. Die ware toedrag van sake is dat nog Meyer, nog enigiemand van sy Uitvoerende Raad soveel as een gesprek met 'n leier van die HNP of 'n dagbestuurslid of enigiemand anders in 'n leidinggewende posisie in die HNP gevoer het. Vir wie probeer Mey­er hier 'n rat voor die oë draai? Net so min as wat enige waarde aan hierdie stelling geheg kan word, net so min waarde kan geheg word aan enige ander uitlating oor pogings om die eenheid te bewaar.

Maar Meyer se jaarverslag is op hierdie punt van die UR se partypolitieke partydigheid nog nie klaar nie. Dit lui voorts: "Die feit dat daar in sommige afdelings lede is wat aan verskillende politieke partye verbonde is, veroorsaak spanning en die saak sal in toenemende mate die aandag van die UR vereis as vriende nie met verantwoordelikheid optree nie." Meyer sê nie van watter vriende uit watter politieke par­tye hierdie verantwoordelike optrede verwag word nie. Met hoeveel verantwoordelikheid hy en sy UR self hierdie "span­ning" hanteer, blyk uit die daaropvolgende sin van die verslag: "Die UR het uit sy pad gegaan om ondersteuning van die Nasionale Party aan te moedig en is daarvan oortuig dat die Party die beste is om ons staatkundige ideale te bevor­der."

Daarmee was die groot woord uit. In duideliker taal kon dit nie gesê word nie. In die stryd tussen die twee politieke partye waaraan sy lede behoort — die HNP en die NP — het Meyer en die UR ten duidelikste die kant van die NP gekies. Agttien maande later, op die Bondsraad van April 1972, sou 'n toekomstaak in die volgende woorde aan die AB gestel word: "Ons moet die volgende verkiesing nie alleen nou reeds op positiewe wyse aanpak nie, maar dit onder die banier van ons eendragtige Afrikanerskap tot 'n grootse Nasionale oorwinning deurvoer." Dit is as toekomstaak vir die AB gestel, maar in sy jaarverslag van 1970 verklaar Meyer onomwonde dat hy dit ook reeds in die voorafgaande verkiesing van 1970 gedoen het.

Dat die AB-voorsitter op die Bondsraad van 1972 nie skroom om teen die oorspronklike aard van die Broederbond in die ergste vorm te velde te trek nie, kon nie misgekyk word nie. Daarby is die bedoeling klaarblyklik om alle kritiek teen die NP te besweer. Hoe erg hierdie onderworpenheid van lede moet wees, blyk uit 'n ander deel van Meyer se voorlesing. "Ons lede," lui dit, "is en behoort immers tegelyk aktiewe lidmate van hul Afrikaanse kerke en van hul eie Nasionaal-politieke Party te wees."

Dit is opvallend hoe in die meervoud van kerke gepraat word, maar in die enkelvoud van party. Broederbondlede kan dus aan een van meer kerke behoort, maar aan net een politieke party. Dit beteken dat 'n AB-lid verplig is om lid van die NP te wees en om die NP te help om verkiesings te wen deur agter die skerms byvoorbeeld volksfeeste met dié doel te help reël.

Die verwysing na die Afrikaanse kerke het 'n betekenisvolle kinkel. Net na die aangehaalde deel waarin die Afri­kaanse kerke genoem word, volg dan die woorde: "En (ons) moet steeds in hierdie verband leiding van ons organisasie ontvang — dit geld ook vir ons kerke en ons party — ten opsigte van die kultuurterrein." Dat Meyer hier te kenne gee dat Afrikaanse kerke voorskrifte van die Broederbond ontvang ten opsigte van die kultuurterrein, is onteenseglik.

Watter skrille kontras vorm hierdie standpuntstellings van Meyer namens die UR nie met sy uitspraak oor die versoenende taak van die AB in sy rede van 1 Oktober 1968 nie. Toe het hy gesê: "Dit was die situasie met samesmelting toe sogenaamde Gesuiwerdes en Smelters ook in ons eie kringe 'n onderlinge stryd gevoer het en toe ons lede in die oorlogsjare tegelyk lede van die HNP, die Afrikanerparty, die Nuwe Orde en die Ossewabrandwag was. Wanneer politieke verskille, soos ook in die jongste tyd, binne nasionale kringe dreig om tot ernstige verdeeldhede te lei, het ons Broerskap steeds gereageer om Afrikaner-nasionaliste saam te bind en bymekaar te hou en het die AB hom daarom nooit met die een kant van die verskil vereenselwig nie."

Tussen hierdie "onpartydigheid" van Oktober 1968 en die "uit sy pad gegaan" om kant te kies in 1970, moes iets gebeur het. Daar is net een verklaring: Vorster het daarin geslaag om die Broederbond volledig in te palm as "stutorganisasie" vir sy Party en hy het in die UR 'n gewillige instrument gevind om die grondwetlike en reglementêre bepalings van die Broederbond oorboord te gooi.

Dit verbaas dus nie dat tien jaar later liberaliste buite die AB saam met hulle liberale geesgenote binne daardie organisasie begin het met 'n berekende veldtog om die Broederbond te vernietig nie – wat weer later verrys het onder 'n nuwe naam. Hoe anders kon die toestand nie gewees het as die UR, onder leiding van Meyer, tien jaar gelede nie dienstigheid aan 'n politieke leier en 'n vervormde politieke party bo handhawing van beginsels en ideale gestel het nie.