STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (33)

                                                                LW Bienedell

Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing

Dr Van Zyl Slabbert was die leier van die mees uitgesproke anti- Afrikanerparty (die Progressive Federal Party) sedert die Progressive Party en die Unionist Party van Leander Star-Jameson. Daarby Aan die hele geskiedenis van Afrikanerstryd is Slabbert nie net vreemd nie, maar ook vyandig. Hy het geen aanspraak op wie namens Afrikaners kan praat nie. Prof Andre P Brink is bekend as die man wat hom lankal geskaam het om ’n Afrikaner te wees, wat bely het dat Parys sy geestelike tuiste is, en wat ’n huldiging gehou het van Abraham Fischer in sy hoedanigheid as aanhanger van die Kommunisme. Hierdie na-buite-gerigte politieke leiers het deur manipulasie en onregmatigheid tydelik die mag gehad en feitlik net afbrekend teen Afrikanerinstellings opgetree. Hulle het die band met die Bittereinders gebreek, hulle rug op hulle voorgangers gedraai en Afrikaners verward, verdeeld en verydeld gelaat . Wie vandag die Afrikaners verteenwoordig, is dié wat die band met hulle volk se geskiedenis en heldedom ongeskonde handhaaf, en daaruit krag en begeestering put; wat nie in nasionale vernedering op hul knieë voor die Tutu- kommissie verskoning vra en skaam is vir hulle geskiedenis en hulleself nie.”

Jaap Marais vat Afrikaanses vas oor aanmatigende houding

2 April 1999

MNR. JAAP MARAIS het die vier Afrikaanses, Frederick van Zyl Slabbert, Andre Brink, Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee in ’n verklaring sterk aangespreek nadat hulle in ’n brief in Die Burger Afrikaners verwyt het dat hulle vir hulself die reg opeis om namens die volle Afrikanerdom te praat. Dit is na aanleiding van gesprekke wat met Thabo Mbeki gevoer is. Mnr. Marais wil van hulle weet watter reg hulle het om namens die Afrikaner beswaar aan te teken, veral in die lig van die rol wat hulle gespeel het. Mnr. Marais het die saak soos volg toegelig:

Die groepie van vier Afrikaansnamiges — Andre P Brink, Breyten Breytenbach, Ampie Coetzee en Van Zyl Slabbert — wat in Die Burger besware gelug het oor Afrikaners wat met Thabo Mbeki gesprek gevoer het oor die posisie van Afrikaners in die huidige staatsbestel, sou meer indruk gemaak het as hulle minder katterig en krapperig hulle saak gestel het. Want die vraag by Afrikaners: Wie is ons? verdien om met erns en waardigheid bespreek te word. Daartoe het die groepie weinig bygedra weens ’n sigbare kleinserigheid wat hulle verlei tot onsaaklikheid en onnodige geniepsigheid.

Verdeeldheid en onderlinge stryd in die Afrikanervolk is ’n natuurlike verskynsel, soos by alle jong, lewenskragtige volke. Stryd om dinge wat stryd werd is, het ’n verhelfende uitwerking op ’n volk. Sulke stryd gaan om watter sentimente en waardes gehandhaaf word in die sentrum van gesag binne ’n volk. En in terugblik is dit onenigheid en onderlinge stryd wat telkens tot nuwe horisonne van die Afrikanervolk gelei het.

Die tersaaklike bespreking kan net sinvol wees as dit in historiese samehang geskied, want die huidige verdeeldheid het ’n lang aanloop, en vir die verdeeldheid is daar parallelle en verwante verskynsels in die verlede. En die geskiedenis is die vaste gegewe, naas en teenoor vooringenomendhede en bespiegelings.

Waar ons die einde van die eeu nader, is dit gepas om aan te knoop by die einde van die vorige eeu. Daar was in die Anglo-Boereoorlog skerp verdeeldheid tussen twee hoofgroepe, met hulle subgroepe. Enersyds, die verraaiers, National Scouts, hendsoppers en vredepraters; andersyds, die Bittereinders, die kampvroue wat verkies het om te verduur, en die krygsgevangenes wat in die gees op die slagveld gebly het.

Wie van hulle het die Boerevolk verteenwoordig? By die vredesonderhandelings was dit die Bittereinders met wie die Engelse vrede moes maak, nie die ander nie. Maar toe reeds was ’n verdeeldheid uitgestippel tussen genl Louis Botha en genl Jan Smuts aan die een kant en genl Hertzog en genl De Wet aan die ander kant. Eersgenoemde twee het ná die formele bespreking agtergebly en kaart gespeel saam met Milner en Kitchener. Hertzog en De Wet het vertrek. Dit was simbolies van wat later werklikheid geword het.

Na die vrede het binne die voormalige Bittereindergeledere die sluimerende verskille tussen die Botha-Smuts- en die Hertzog-De Wet-faksies gou begin flikker, veral na aanleiding van Hertzog se aandrang op taalregte, en aan die ander kant Botha se klem op “konsiliasie” met die vyand.

Dit het binne ’n kort tyd uitgeloop op ’n openlike breuk toe Botha vir Hertzog uit sy “regering van nasionale eenheid” gelaat en Hertzog in 1914 die Nasionale Party (NP) gestig het in opposisie tot die Suid-Afrikaanse Party (SAP). Die Nat-Sap-verhouding was wesenlik die voortgesette verdeling tussen die Bittereinders en die ander— eintlik ’n wil tot versterking van binne teen ’n geneigdheid tot aansluiting na buite.

Genl De Wet se gewapende opstand in 1914 teen die Botha-regering se onderdanigheid aan Brittanje, aan die een kant, en genl Smuts se opname in die Britse oorlogskabinet in 1915 aan die ander kant, het die skeidslyne tussen twee groepe Afrikaners onherroeplik en selfs met bloed getrek — die vredemakers onder die voormalige Bittereinders, Botha en Smuts, het hulle aan die kant van die Britse vyande geskaar, en in gewapende teenstand tot die bittereinder-Bittereinder De Wet getree.

Soos in die Anglo-Boereoorlog die Boere oorweldig, maar nie oorwonne was nie, was die Rebelle ook oorweldig, maar nie oorwonne nie en het die gees van die Bittereinders daarvoor gesorg dat in 1924 — tien jaar na die Rebellie — Smuts verslaan en Hertzog Eerste Minister van Suid-Afrika geword het.

In 1934 by die samesmelting van die NP en die SAP was dit weer die erfgename van die gees van die Bittereinders wat geweier het om politieke vrede te maak en die ark van die Afrikanerdom in bewaring geneem het.

By al die verdeeldheid en onmag van die Afrikaners wat gevolg het op die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 — Herenigde Nasionale Party, Nuwe Orde, Gryshemde, Ossewa-Brandwag, Afrikaner Party — en die gestry oor wie die Afrikaners verteenwoordig, het die skeidslyne tussen die Afrikanergroepe vervaag en het Afrikaners saamgestaan en die Smuts-bewind in 1948 verslaan. Daaruit het die grootste Afrikanereenheid gegroei wat daar ooit was. Dit is beëindig toe dr Verwoerd in 1966 vermoor is en sy opvolger, John Vorster, verdeeldheid in die NP ingedryf het. Uit die geskiedenis is dit duidelik dat die rigtinggewende en gesagdraende Afrikaners die Bittereinders en hulle politieke nakomelinge was. Die ander het byna niks bygedra tot die gang van die Afrikanergeskiedenis en die Afrikanerprestasies in hierdie eeu nie. By die inhuldiging van die Voortrekkermonument was genl Smuts feitlik ’n vreemdeling. Die reuse gehoor het weggeloop terwyl hy sy toespraak gehou het.

Die ander het geen aandeel gehad aan belangrike dinge, soos die ontstaan van Afrikaanse koerante in Transvaal, die FAK-Sangbundel, die Simboliese Ossewatrek van 1938, die hoeksteenlegging van die Voor­trekkermonument, die Reddingsdaadbond, en daarnaas die nywerheidsontwikkeling deur Yskor, Sasol, Foskor, Krygkor, die Atoomkragraad, die groot waterbewaring en besproeiingskemas, die groot ontwikkeling op tersiêre onderwysgebied, die suksesvolle politieke ontplooiing van die beleid van afsonderlike ontwikkeling, die totstandkoming van die Republiek van Suid- Afrika, uittrede uit die Statebond en daarstelling van die mees voortreflikste voorbeeld van suksesvolle staatsbestuur wat daar ooit in Suid-Afrika was.

Natuurlik voel hulle leedvermakerig, indien nie verbitterd, in hulle intellektuele en kulturele gefrusteerdheid. En in die huidige verswaktheid van die Afrikanersentrum voel hulle kordaat genoeg om te maak asof daar niemand is wat namens die Afrikaners kan praat nie en dat by implikasie hulle die reg het (of ook het).

Dr Van Zyl Slabbert was die leier van die mees uitgesproke anti- Afrikanerparty (die Progressive Federal Party) sedert die Progressive Party en die Unionist Party van Leander Star-Jameson. Daarby het hy as politieke deelgenoot dr Alex Boraine, wat bekend is as ’n prototipe van Boerehater. En hulle twee is trustees van ’n politieke skenking van R45 miljoen uit die infame George Soros se besoedelde winste om anti-Afrikanerpolitiek te bevorder, soos ook met die IDASA-komplot van die twee gedoen is. Aan die hele geskiedenis van Afrikanerstryd is Slabbert nie net vreemd nie, maar ook vyandig. Hy het geen aanspraak op wie namens Afrikaners kan praat nie.

Prof Andre P Brink is bekend as die man wat hom lankal geskaam het om ’n Afrikaner te wees, wat bely het dat Parys sy geestelike tuiste is, en wat ’n huldiging gehou het van Abraham Fischer in sy hoedanigheid as aanhanger van die Kommunisme, seker die bespotlikste ideologie, en in sy toepassing die moorddadigste en verwoestendste van alle tye. Die ander laat ek daar. Die groepie is randeiers van die Afrikanervolk, soos daar in elke geslag randeiers was en nog sal wees, soos Piet Koornhof, wie se naam eintlik by die groep moes gewees het.

Die huidige verdeeldheid onder Afrikaners het ontstaan omdat politieke leiers na die moord op dr Verwoerd, soos Botha en Smuts tevore, nie na binne versterking gesoek het nie, maar, soos getipeer deur “die uitwaartse beweging” van die sewentigerjare, aanknoping en aanpassing na buite gesoek het. Die geskiedenis herhaal homself wel, maar nooit letterlik nie. Dog, die uiteinde van “die uitwaartse beweging”, met Beeld se opskrif: “Britte dra De Klerk, hulle held, op die hande”, stem sterk ooreen met genl Smuts se verering as ’n lid van die Britse regering.

Net soos die SAP vroeër as die draer van die Botha-Smuts-politiek, van die toneel verdwyn het en sy opvolger, die VP, ook tot sy einde gekom het nadat hy sy naam verander het tot Nuwe Republiekparty, so is die Nasionale Party in sy navolging van die Botha-Smuts-politiek na sy naamsverandering tot Nuwe (Nie) Nasionale Party ook besig met selfvernietiging. In die Afrikanerpolitiek is dit doodlooppaadjies.

Hierdie na-buite-gerigte politieke leiers het deur manipulasie en onregmatigheid tydelik die mag gehad en feitlik net afbrekend teen Afrikanerinstellings opgetree. Hulle het die band met die Bittereinders gebreek, hulle rug op hulle voorgangers gedraai en Afrikaners verward, verdeeld en verydeld gelaat.

In die omstandighede word nou gevra: Wie is die Afrikaners? Of soos die betrokke groepie in Die Burger sê: “Ons weet nie wat hierdie groepsdier, ‘die Afrikaner’ is nie”. Die rede hiervoor is dat hulle vervreem is van die essensiële Afrikanerskap, soos hierbo geskets.

Dat daar bedenkings kan wees of liggame soos die AB, die FAK en die ATKV namens die Afrikaners kan praat, is so. Die organisasies het in hulle navolging van die Nasionale Party hulleself vervreem van Afrikaner- nasionalisme en van die leiers van wat nou “die apartheidsjare” heet — dr Verwoerd, adv Strijdom, dr Malan. Maar verbreking van die band met die leiers beteken ook verbreking van die band met die Afrikaans nasionale leiers wat voor hulle was. Want dr Verwoerd het niks verteenwoordig wat nie verteenwoordig was deur pres Kruger, pres Steyn, genl Hertzog, genl De Wet en ander nie, naamlik vryheid van oorheersing deur Brittanje, vryheid van oorheersing deur finansieële imperialiste en vryheid van oorheersing deur Swart getalle.

’n Partyleier soos Van Schalkwyk wat sê apartheid was boos en ongeregtig en Constand Viljoen wat sê apartheid was die grootste fout van hierdie eeu en wat meegedoen het om die land aan die ANC-SAKP oor te gee, kan in die parlementêre debat nie met die egte, manmoedige stem praat van ’n genl De Wet of pres Kruger of dr Verwoerd nie. Wie namens die Afrikaners wil praat, “must be made of sterner stuff’.

Wie vandag die Afrikaners verteenwoordig, is dié wat die band met hulle volk se geskiedenis en heldedom ongeskonde handhaaf, en daaruit krag en begeestering put; wat nie in nasionale vernedering op hul knieë voor die Tutu- kommissie verskoning vra en skaam is vir hulle geskiedenis en hulleself nie.

Afrikaners wat trou is aan hulle volk se eer, hoef nie met die ANC- SAKP-regime gesprek te voer nie. Uit wat hulle in die openbaar sê en doen, kan kennis geneem word van hulle standpunte en oogmerke.

Onder al die dinge wat ter sprake gebring word deur die groepie, is daar egter een saak wat die groepie randeiers aanroer wat nog ietwat bespreek moet word. Dit is dat die definisie van “Afrikaner” gebaseer word op “uitsluiting”, waarteen hulle beswaar het. As demokratiese integrasioniste verwar hulle kultuur en demokrasie. Kultuur integreer kwalitatief, demokrasie integreer kwantitatief. Hulle wil hul Afrikanerskap minderwaardig maak teen hul burgerskap, wat per slot van sake die mins beduidende van ’n persoon se hoedanigheid is, gemeet teen sy rasse-identiteit, sy godsdiens, sy taal en sy volk se verband.

Kultuur en volkskap is uiteraard uitsluitend. Om sy identiteit te behou, moet dit diskrimineer teen wat vreemd en ontwrigtend is, en moet dit voorkeur uitoefen vir wat eie is en versterkend kan wees. Daar kan nie iets soos ’n insluitende volk wees wat geen begrensing aan sy identiteit daarstel en handhaaf in ’n gedeelde burgerskap met ander rasse en gelowe en kulture, soos in Suid-Afrika nie. Juis in die kunsmatigheid van so ’n “demokrasie ” is die eise van uitsluitendheid des te strenger en meer gebiedend.

Wanneer die na-binne-gerigte blik en die wil om die vreemde en anderse te weerstaan, verdof en vervaag, volg verbrokkeling. Wat ’n geheel was, besef nie meer die rede vir sy bestaan as ’n geheel nie, en die dele kan ’n verwringing ondergaan, omdat daar nie meer ’n saambindende idee is nie. Dele wil dan die plek oorneem wat die gesagsentrum vorm, soos na die Engelse Oorlog in die Boerevolk gebeur het, en weer die geval was in die omstandighede van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, toe ontwrigtende magte van buite die Afrikanervolk verdeel en verwar het.

Die beswaar van hierdie groepie teen “uitsluiting” is eintlik ook ’n taktiese oorweging. Deur die insluiting van vreemdes en anderes kan die volk tot ’n minderheid en politiese magteloosheid gereduseer word. Dit is hulle hoop om Afrikanernasionalisme só te uitoorlê en te oorheers.

Wat te verwelkom is, is dat die groepie nou nie net hulle vyandigheid teen Afrikanernasionalisme geadverteer het nie, maar dit gedoen het op ’n wyse wat getuig van swak oordeel, kleinlike bitsigheid en aanmatigende selfoorskatting.