BRITSE KONNEKSIE, MANDELA EN RAMAPHOSA

Meinhard Peters

                  Lees meer by OORSIG EN REPLIEK                          

Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die Britse konneksie, Mandela en Cyril Ramaphosa

Een aspek van die onlangse verandering van die ANC se leierskapstruktuur is die interessante vraag tot welke mate daar buitelandse invloed deurgewerk het. In Amerika kom die Demokrate en Trump se vyande nog nie tot rus oor die vraag of Rusland die presi-dentsverkiesing beïnvloed het nie. In Suid-Afrika is die aanduidings veel sterker dat daar invloed van buite was in die hele drama rondom die vernietiging van Jacob Zuma, die seepgladde infasering van ’n nuwe leier vir die ANC en kort daarna die inswering van ’n nuwe staatspresident, komende kort op die hakke van ’n “seepgladde” leiersverandering in Zimbabwe. Dit laat ’n sterk indruk dat iets meer aan die gang is as wat die man op straat besef. Lees gerus ons opmerkings in Oorsig & Repliek Nommer 3 (21 Februarie 2018), waarin aspekte belig word in verband met die intensiewe mediaveldtog wat daar gevoer is om van Jacob Zuma ontslae te raak.

Daar is talle aanduidings dat Brittanje (en meer bepaald die Anglo-Amerikaanse geldbelange in Londen) aktief betrokke is by die politieke veranderinge in Suid-Afrika. Dit gaan oor wie presies beheer uitoefen oor ekonomiese sake in die RSA.

Kom ons sit ’n paar dinge bymekaar: (1) Zuma en genote het die afgelope twee jaar gekla oor “Westerse inmenging en ondermyning” in Suid-Afrika. Het hulle verwys na aksies teen Zuma?

(2) Cyril Ramaphosa is sedert 1994 in die hoogste mynboukringe van Suid-Afrika ingetrek, en hy het direkteur geword van Lonmin, die maatskappy wat by uitstek deur Brittanje gebruik word om Britse belange in Afrika te bevorder.

(3) Na die Marikana-slagting in 2012, waarin AMCU se stakende werkers deur die polisie geskiet is, het dit aan die lig gekom dat Cyril Rama-phosa agter die skerms invloed uitgeoefen het dat die polisie beslissend teen die stakers moes optree. Platinumbelange was uiteraard in gedrang, en Ramaphosa tree op as direkteur om die staking met geweld te onderdruk. Ramaphosa word nooit voor enige kommissie of hof gedaag om rekenskap te gee nie. Julius Malema noem Ramaphosa in die parlement kaalkop ’n moordenaar, oor laasgenoemde se aandeel aan die gebeure by Marikana; maar, nadat Malema in Londen onthaal is ontpop hy as ’n ondersteuner van Ramaphosa se grondonteieningsplan. In werklikheid doen Ramaphosa nou oor grondsake presies wat die EFF van hom eis.

(4) Na Ramaphosa se verkiesing as leier is hy saam met Jacob Zuma na die vergadering van die World Economic Forum in Davos, waar die media hom op die hande gedra het. Hy kry die spesiale geleentheid om te verskyn op Hard Talk, ’n BBC-program waarin politici bevorder word wat die spel volgens Londen se reëls speel.

(5) In dieselfde week van Cyril Ramaphosa se inhuldiging as president kondig Old Mutual hulle terugkeer na die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) aan, beslis nie ’n geringe gebaar van goedkeuring nie.

(6) Dit is geen geheim dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sterk historiese bande met Brittanje het nie; die ANC se hoofkantoor was in Londen oor baie dekades gevestig en die Britse regering het nooit teen hulle opgetree nie. In persberigte rondom 2000 is daar beweer dat Nelson Mandela inderdaad ’n agent van MI6 (die Britse geheime diens) was.

Nog meer: (7) Die Nelson Mandela-Rhodes Foundation word in 2003 gestig, wat die noue bande tussen Mandela en die bankiers van Londen in rooi ink bevestig. Jacob Zuma raak die afgelope jare ontslae van invloedryke kommuniste in sy kabinet, veral van Blade Nzimande en Pravin Gordan. Jacob Zuma het die afgelope tyd dikwels met die kommunis Gwede Mantashe gebots. Mantashe het al hoe meer uitgesproke teen Zuma geraak, veral nadat Gordhan as minister afgedank is. In Ramaphosa se onlangse kabinetskommeling word die status van prominente kommuniste soos Pravin Gordhan en Blade Nzimande herstel, en word Gwede Mantashe in die kabinet opgeneem as minister van energiesake.

(8) Zuma se samespanning met die BRICS-lande, sy kontak met Indië en sy bande met die Guptas het ’n duidelik bedreiging ingehou vir Anglo-Amerikaanse geldbelange in Suid-Afrika; veral die feit dat Sjina toegelaat is tot die sogenaamde Ocean Economy, die Guptas se verkryging van steenkoolbelange, die Guptas se greep op Eskom, en die moontlike betrokkenheid van die Russe in kernkragprojekte in die RSA. Dat die Britte die vernietiging van BRICS en die Guptas se invloed in die oog het, kan met sekerheid aanvaar word. Met Ramaphosa kan hulle dit gedoen kry, en die pad oopmaak vir Anglo-Amerikaanse maatskappye.

(9) Ramaphosa stoot die beeld van Nelson Mandela weer sterk op die voorgrond; terwyl die indruk bestaan dat Thabo Mbeki (die swart Engelse Lord) die nuwe ontwikkelinge verwelkom. Met Mandela as boegbeeld kan die skepe van Engeland weer op die oop see vaar, vry van seerowers soos die Zumas en die Guptas. Onthou waarvoor die naam Rhodes in werklikheid staan; een akademikus het dit in 2015 in ’n internetgesprek soos volg uitgespel: “…the operation of force, violence, and ideology as a means to power. Because that is precisely what the name, Cecil John Rhodes stands for.” Beter kan dit seker nie uitgedruk word nie as mens die rol van Brittanje in die rewolusie van 1990-1994 in gedagte hou, of in die Jameson Raid van 100 jaar tevore (1896). Let ook op dat Brittanje die bemiddelaars was wat Ian Smith se Rhodesië gedruk het om met die terroristemagte ooreen te kom en swart meerderheidsregering te aanvaar (1980). Die Mandela Rhodes-beurse word toegeken deur die Rhodes Universiteit in Grahamstad, maar word in werklikheid geadministreer deur die Mandela Rhodes Foundation gevestig in Kaapstad en by Oxford Universiteit in Engeland. In die foto hieronder word beurshouers van die stigting in vrolike luim uitgebeeld; let op die betekenisvolle leuse: “building exceptional leadership in Africa”. Op hierdie manier word die invloed van Rhodes in Suider-Afrika oor die lantermyn verseker.

Dit is ook van besondere betekenis dat die Mandela Rhodes Foundation finansieel uit Amerika ondersteun word deur die organisasie American Friends of the Mandela Rhodes Foundation. Skenkings deur Amerikaners mag van belasting afgetrek word. Nog ’n betekenisvolle skakel in die Amerikaanse kring van vriende is die betrokkenheid van Georgetown University wat met die Mandela Rhodes Foundation (MRF) saamwerk. Georgetown University speel ’n belangrike rol in die Amerikaanse regering se diplomatieke aksies, kulturele uitruilskemas en programme vir politieke beïnvloeding.

Die uitvoerende direkteur van die Mandela Rhodes Foundation is Shaun Johnson, voormalige senior politieke redakteur by The Star in die negentigerjare, en self ’n Rhodes beurshouer wat by Oxford studeer het. Hy was ook betrokke by die Sunday Independent en die Cape Argus. Johnson is onder andere bekend vir sy boek, Strange Days Indeed wat in 1993 verskyn het. Die greep van die oorspronklike Rhodes Foundation (Oxford) is dus onmiskenbaar.

Deur uitgesoekte trusteeskappe is die Mandela Rhodes Foundation (MRF) agter die skerms vervleg met De Beers (die Oppenheimer-familie), Minorco, die Ford Foundation, en Anglo-American Corporation. Hierdie organisasies het internasionale bande waardeur hulle politieke en finansiële besluite kan beïnvloed en die geldmag se belange kan bevorder. Die ANC se beplande feesvieringe rondom Mandela vanjaar roer al die snare in ’n orkes wat sedert 1990 begin saamspeel het — terwyl hulle eintlik sedert die 1950’s dieselfde doelwitte nagestreef het. In twee opsigte is hulle dit hartlik eens: apartheid (dws die blanke regering in Suid-Afrika) moes vernietig word, en die nuwe Suid-Afrika moet ’n oop jagveld bly vir die groot kapitaliste in die land, alles onder die dekmantel van “demokrasie”, “gelykheid” en “ekonomiese transformasie”. In sy nuwe rol pas Cyril Ramaphosa die Rhodes-Mandela-kartel uitstekend.

Om nog iets meer oor die Britte te sê: (10) Peter Hain (die bekende anti-apartheid betoger) het verlede jaar skielik in Londen ontpop as ’n moreel-verontwaardigde voorvegter teen korrupsie, en hy het net soos Cyril Ramaphosa as eregas op BBC se program, Hard Talk, verskyn. Sy agitasie teen Zuma se praktyke was fel. Natuurlik is hy toe soos ’n held deur die media in Suid-Afrika toegejuig en op die hande gedra. As daar een persoon is wat sonder twyfel ’n betaalde rol gespeel het om sportboikotte vanaf 1970 teen Suid-Afrika te bevorder, dan was dit “Lord” Peter Hain. Dit lyk of hy steeds dieselfde meesters dien, en daarom Ramaphosa se greep na die mag moes ondersteun. Ons sal nie verbaas wees om te hoor dat hy (net soos vermoedelik ook Nelson Mandela) vir MI6 gewerk het nie, of nog steeds vir hulle werk.

Die tien punte hierbo bied ’n kykie (weliswaar net fragmente) van ’n politieke orde wat uiteraard nie so sigbaar is of enigsins in die openbaar bespreek word nie. Dit is egter nie minder werklik omdat mense nie daaroor praat nie. In die Ramphosa-era wat voorlê sal ons beslis meer daarvan te wete kom en sal ons moontlik sien hoe die magspel van die nuwe bewindhebbers op die politieke- en ekonomiese toneel uitspeel. Ons sal veral die rol van sekere Britse surrogaat-agente wil dophou, daardie indiwidue wat namens die geldmagte optree, magte wat die ingrypende rewolusie van 1990-1994 deurgevoer het.