Meinhard Peters
Lees meer by OORSIG EN REPLIEK
Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Waar staan die banke presies met private eiendomsreg?
Die reaksie van die groot korporasies, banke, myne en versekeringsmaatskappye oor die dreigende wysiging van die RSA-grondwet om grondonteienings te versnel, was maar baie effens en gedemp. Mens sou van die “groot kapitaliste” (die voorstaanders van die vrye ekonomie, vrye handel en die reg op private eiendom) ’n baie sterk en volgehoue optrede verwag het. Dit gebeur egter nie. Ons moet goed onthou dat dit die sektor van die Suid-Afrikaanse samelewing was wat die hardste gewerk het vir die JA-stem in 1992, dié sektor wat hulle dag en nag beywer het vir “versoening” met die ANC-SAKP en sy vakbond-vennote. Hulle het nie toe nie, en ook nie daarna, vreeslik bekommerd geraak oor die kruipende sosialisme in die land nie. Manne soos Anton Rupert en Harry Oppenheimer het graag saam met Nelson Mandela vir gesprekke en foto-sessies opgedaag. Hier en daar het wel kritiek gekom uit die sakewêreld oor grondonteiening, maar dit raak kant nog wal. Mens sou groot advertensieborde langs die pad kon sien wat gerig is teen die nuwe plan, berade waar die regering veroordeel word, en buitelandse besoekers wat die nuwe beleid skerp veroordeel; selfs druk vir sanksies teen Suid-Afrika. Dit het nog nie gebeur nie, en ons verwag ook nie dat die sakesektor baie sterk gaan mobiliseer nie.
In ’n radiogesprek het ’n senior verteenwoordiger van die bankiers van Suid-Afrika iets laat blyk hoe die geldmanne die saak benader. Hy het tydens die onderhoud verklaar: ”Ons is nie op die oomblik so bekommerd nie. Daar het nog niks gebeur nie. Ons banke is in gereelde gsprek met die regering, en ons sal die saak op daardie vlak hanteer. Ons moet onthou dit is ’n proses; en ons kyk na alternatiewe finansieringsmodelle vir die oordrag van grond aan swart eienaars in die landbou. Ons sal verskillende modelle met die regering bespreek.”.
In hierdie paar woorde lê geweldig baie opgesluit. Mens lui af dat die banksektor goed ingelig is oor die regering se planne en dat dit hulle min ontstel. Waarom? Eenvoudig omdat hulle die geldkant van die saak so sal manipuleer dat hulle eie finansiële sekuriteit nie geraak word nie — en dit is wat banke altyd doen. Een van die moontlikhede is dat die regering waarborge aan die banke kan verskaf vir skuld of sal dien as laaste sekuriteit vir eiendomme. Die banke se risiko word dus gedek deur die staat; en dit sal neerkom op ’n volledige koalisie tussen die geldmag en die heersende bewind. So sal die banke in groot gemak kan toekyk, terwyl grond sonder vergoeding gekonfiskeer word. Dat ’n senior woordvoerder van die bankwese in hierdie terme dink behoort vir almal baie ontstellend te wees, want in werklikheid word die risiko van grond-konfiskering oorgedra aan die belastingbetalers van die land.
’n Verdere aanduiding van hoe die wind waai in geldmagkringe is die lou reaksie uit die buiteland op Ramaphosa se belofte dat grond sonder vergoeding gekonfiskeer sal word. Brittanje wat in die 1960’s en 1970’s histeries kon raak oor apartheid, wat hulself beywer het vir die vernietiging van die blanke regering in Suid-Afrika, staan nou soos verlamde skape en toekyk hoe die plan van die kommuniste in Suid-Afrika ontplooi word.