ALLE AFRIKANERSTANDBEELDE NOU GETEIKEN

Standbeeld van pres MT Steyn word geteiken

Meinhard Peters

Lees meer by OORSIG EN REPLIEK  

Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Uit die bloute is daar by die Universiteit van die Vrystaat (UV) skielik betogings gereël om te eis dat die standbeeld van president MT Steyn (wat tans voor die hoofgebou staan) verwyder moet word. In stede van sterk optrede teen hierdie sinlose aandrang het die universiteit se bestuur ’n ruggraatlose houding ingeneem. Hulle het vorendag gekom met ‘n sogenaamde “besluitproses” wat drie moontlikhede voorhou:

(a) die beeld sal bly waar dit is; of

(b) die beeld sal na ’n plek elders op die kampus verskuif word; of

(c) die beeld sal heeltemal van die kampus verwyder. Daarmee word die besware teen die beeld reeds in beginsel as geldig aanvaar.

Deur al hierdie moontlikhede oop te stel het die UV se bestuur olie op die vuur gegooi, en dit sal uiteraard die aandrang versterk om die beeld van sy huidige staanplek te verwyder. Verlede jaar is die beeld van adv CR Swart deur die EFF beskadig, afgebreek en in ’n waterfontein gegooi. Hierdie aksies is alles gerig daarop om die Afrikaners se historiese erefenis direk aan te val en is bedoel om die Afrikanervolk te verneder. Verskeie soortgelyke aksies is op ander kampusse van die voormalige universiteite aan die gang. By die universiteit van Stellenbosch word daar nou oorgegaan om die leerplanne van die verskillende vakrigtings te “dekoloniseer”. Dit beteken in kort dat alle vakinhoud gesuiwer word van die blankes se perspektief. Die blankes se Westerse en Christelike perspektief op wetenskaplike sake moet vervang word met ’n Afrika-perspektief. Dit verg nie baie verbeelding om te besef wat dit in die praktyk gaan beteken nie, onder andere sal voorgeskrewe werke gekeur word, en die nuwe beskouings oor Suid-Afrika se geskiedenis sal moet ooreenstem met die “struggle-geskiedenis”.

Die nuus oor die aanslag op die standbeeld van pres MT Steyn was skaars koud of die EFF eis andermaal dat die standbeeld van president Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria “verwyder en vernietig” moet word. Dit is die soveelste maal dat die standbeeld van pres Kruger gebrandmerk word.

Die volgehoue aanslag op die Afrikanervolk se simbole sluit reeds die volgende gevalle in: Die ver-wydering van die Verwoerd-standbeeld in Bloemfontein; die verwydering van die Verwoerdborsbeeld by die destydse HF Verwoerd-hospitaal; die afbreek van president CR Swart se standbeeld by die Universiteit van die Vrystaat; die verwydering van die Totius-standbeeld van die kampus van die destydse Potchefstroomse Universiteit; eise dat die standbeeld van Jan van Riebeeck in Kaapstad afgebreek moet word; en die oprigting van ANC-gedenktekens by die Voortrekkermonument te Winburg. Daarmee gepaard kom skendings van heldegrafte wyd en algemeen voor en word name van strate, geboue en dorpe voortdurend verander.

Op hierdie wyse wil die revolusionêre bewind die Afrikaners se historiese geheue vir alle tye uitwis. Die nageslag in Suid-Afrika moet van die Afrikaners uiteindelik niks weet nie, behalwe een ding: dat hulle die sogenaamde verskriklike sonde van apartheid gepleeg het.