Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
Dirk Denker
Die waarheid is kosbaar
Kennis en kundigheid ewe so
Beleefdheid is 'n gesogte geskenk
Verdraagsaamheid grens aan lafhartigheid
VOORREDE
Hierdie pennevrug het nie 'n voorrede nodig nie omdat by die wêreldwye ontstaan van volke begin word totdat dit op volke in Suid-Afrika van toepassing word en tot op hede. Daar is op die ontstaan, ontwikkeling en praktiese betekenis van volksregering ingegaan. 'n Beredeneerde samevoeging van bewese werklikhede is bereik. Eers word 'n gepaste samevatting kort en kragtig gegee en later duidelik uiteengesit en bespreek. Die meer omvattende bespreking moet nie as herhalend van die samevatting gesien word nie, maar as ‘n verduideliking daarvan.
ONGEPUBLISEERDE BOEK
Die reeks wat volg, is aaneenlopende gedeeltes uit 'n boek wat pas geskryf is, maar wat nog nie gepubliseer is nie. Daar is op hierdie werkswyse besluit omdat die boek soveel werklikhede en beredeneerde verduidelikings bevat dat dit moeilik is om al die feite op een tydstip in te neem. Nadat hierdie reeks volledig geplaas is, sal die boek waardevol wees vir naslaandoeleindes.
In hierdie reeks word soms na 'n bron verwys, maar aan die einde sal al die bronne in 'n lys aangedui word. Nietemin, by verre na is die meeste denke wat in die boek/reeks vervat is, die verstandswerking van die skrywer omdat dit op vaste wetenskaplike beginsels en ervaring gegrond is wat op geen manier wegberedeneer kan word nie. Dit is soos die dae van die week wat op mekaar volg sonder dat iemand dit in twyfel kan trek.
Indien die skrywer se naam vreemd lyk, ja, dit is 'n skuilnaam.
WAAROM 'N SKUILNAAM?
'n Skuilnaam is 'n uitgedinkte beskermingsnaam wat 'n skrywer gebruik om sy insigte en werk bekend te stel.
'n Skrywersnaam word gebruik om ongewenste aandag van die skrywer af weg te hou en 'n duidelike skeiding tussen die werk en sy persoon te bewerkstellig. Die wesenlike is immers die werklikheid in die skryfwerk of samevoeging. Sodoende word 'n bepaalde skrywer se identiteit verbloem sodat die leser die besonderhede regverdig en onbevange kan beoordeel.
Daarbenewens word die skrywer teen onredelike aanvalle en bitterheid beveilig. Om hierdie boek te laat druk, is vier uitgewers genader wat geweier het om dit uit te gee. Twee het geen rede verstrek nie en twee het mondeling beweer dat hulle met die inhoud en feite saamstem, maar bang is vir veronregting deur ? ? ? Hulle het my ook aangeraai om liewer van 'n skrywersnaam gebruik te maak.
Deur alles heen het kundige vriende my op die hart gedruk dat enige aanprysing van apartheid, selfs een lofwoord teenoor twintig ongunstige woorde, van owerheidskant as amper 'n oorlogsverklaring beskou sal word.
'n Moontlikheid, meer 'n waarskynlikheid wat te voorsien is, is dat 'n vyandiggesinde sy bes gaan probeer om die samesteller se eie naam vas te stel, openbaar te maak en hom persoonlik te beswadder. Beskaafde en welopgevoede mense stel altyd hulle eie denke op 'n opbouende manier sonder om afbrekend te wees. 'n Baba kan die pragtigste fyn blommetjie wat die tuinier weke lank met groot sorg vertroetel het, binne 'n oogwenk vernietig. Behalwe vir die onetiese, is dit ook oorskryding van vryheid van spraak.
Vervolgens gaan ek met die wese van volkregering afskop.