VOLKSREGERING (56)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

VOLKEREVERMENGING  VEROORSAAK  ONRUS

Daar was al soveel pogings in die geskiedenis waar onderskeie volke gedwing is om saam een owerheid te vorm en saam besluite te neem dat niemand onkundig daaroor kan wees nie. Alle pogings het misluk omdat besluitneming op 'n spits van een volk uitloop. Waar twee of meer volke gesamentlik besluite moet neem, verskil hulle dikwels van mekaar en wie se stem gee dan die deurslag?

Selfs na meer as 24 jaar se gedwonge meerderheidregering en gepoogde gedwonge integrasie verskil die onderskeie volke in Suid-Afrika ingrypend van mekaar. Een volk blameer die ander van verkeerde denke en verskil oor politiek en taal en kultuur.  

Daar word ongeregverdig en sonder helder denke na die apartheidbeleid se sogenaamde nadele verwys, terwyl dit in die praktyk groter vrede teweeggebring het. Daar was minder gevangenes in die tronke, universiteite was nie verrinneweer nie, studente kon rustig in hulle eie tale onderrig ontvang, ons huise was nie met ekstra sterk veiligheidhekke toegerus nie, paaie was nie versper nie, en so meer. Groter vrede het geheers.

Mense wat kreolisering (vermenging) voorstaan, is uiters kortsigtig; vrydenkers wat in alles vryheid wil sien, daarom kyk hulle die fyner punte verby. Waar daar in die verlede 'n kennisgewing op 'n openbare gerief aangebring was wat  "Slegs Blankes"  aandui, sien hulle nie die kennisgewing reg langsaan of daar naby waarop  "Slegs Nie-Blankes"  pryk nie. Eensydige foto's is dan geneem en versprei. Onkundiges en jonger mense glo dit vandag omdat hulle daarmee gebreinspoel word.

Daar word talle onwaarhede aan die wêreld en aan ons eie mense opgedis oor hoe  "agtergeblewenes"  kwansuis benadeel was. Hulle wat dit glo, gaan nie die geskiedenis na om hulle van die waarheid te vergewis nie. Hulle glo die leuens en verloën hulle volk op hierdie wyse. Hierdie tegnieke word so dikwels herhaal dat dit later as die waarheid deurgaan. Voorstanders van kreolisering probeer nie hulle saak stel nie en vermy of weier om oor die klomp nadele te praat wat aan hulle denke verbonde is. Hulle volhard met ongegronde bewerings om regdenkendes op die verdediging te probeer hou.

Dit is maklik om raak te sien omdat hulle gewoonlik 'n spreker nie geleentheid gee om sy standpunt volledig te stel nie, maar val hom in die rede met 'n vraag wat nie ter sprake is nie. Sodoende gee hulle voor dat die regdenker sy kant van die saak onvolledig en swak stel.

Deurmekaarboerdery veroorsaak deurentyd botsing. Daar word nie vertel nie:  Sogenaamde gelykmaking in een grondgebied maak van die minderheid slawe van die meerderheid. Die Israeliete was aanvanklik as vriende en die gelyke van die Egiptenare behandel, maar het hulle slawe geword.

Stelselmatig word ons Afrikaners afgetakel met bewerings van geen aanspraak op enige grondgebied. Brittanje het konvensies aangegaan om die Vrystaat en Transvaal se onafhanklikheid te erken. Brittanje het ons grondgebied en selfregering in 1910 erken en ook toe ons in 1961 'n Republiek geword het. Algou het hulle hul eie skriftelike beloftes verbreek en skielik tot die insig gekom dat die Afrikaners nie hulself mag regeer nie. Maar die VVO (later die VN) het die apartheidregering se lidmaatskap en grondgebied sedert 1948 erken.

Met gedwonge onderworpenheid aan vermenging van meer volke se lewensbeskouings en eensydige besluitnemings na die geite van 'n volkvreemde regering, is die tronke oorvol en geweld, moord, diefstal en ander vergrype het die hoogte ingeskiet. Volkvryheid is onteenseglik oorboord gegooi, maar die volkvreemdes hou vol met die leuen van geregtigheid en gelykheid. Hoe kan dit enigsins met die voordele van apartheid vergelyk word?

Ongegronde bewerings word die lug in gestrooi met die doel dat ook ons Afrikanerjongmense daaraan gewoond moet raak. Moedertjie regering sorg dan nou so goed vir die mense wat voorheen kamma benadeel was. Het die Afrikanerregering ander volke gedwing om hulle skole vir blankes oop te stel?  Is ander volke se kinders gedwing om na blanke skole toe te gaan?  Het die blanke studente en andervolkige studente gratis universiteitopleiding geëis en as hulle dit nie gekry het nie, die universiteite beskadig en tot stilstand gedwing?  Was die munisipaliteite so wanbestuur soos tans?

Daar is darem ligpunte van erkenning deur die swartes. Alles wat Afrikaners gedoen het, was darem nie sleg nie. Die leuse  "Eendrag maak Mag"  is oorgeneem met  "Together we can do more". Ook word die onafhanklike Republiek van Suid-Afrika wat dr Verwoerd bewerkstellig het met genoegdoening erken en daardeur dr Verwoerd vereer met wat hy bereik het. Erken die regering dusdanig die redenasies van dr Verwoerd wat hy vir onafhanklikheid voorgehou het, onder meer apartheid?

Die presidentskap word as 'n groot voordeel geag. As president beweeg die leier in die regering nou op gelyke vlak met ander staatshoofde. Of wil hy die voordele van dr Verwoerd se republiek teruggee? Die voorheen  "veragtelike"  Uniegebou is met groot graagte as regeringkwartier oorgeneem. Ook die vorige regering se presidensiële en ander huise wat hulle voortdurend kritiseer het, bewoon anti-Afrikaners met blydskap. Hulle het 'n vers van  "DIE STEM"  oorgeneem, al is dit onvanpas en net tydelik totdat hulle dit gaan verwyder.

Net jammer DIE STEM is met die mooi bewoorde maar verskuilde betekenis van 'n betogerslied bederf. Weet ons mense wat die werklike geestelike betekenis van hierdie mooi woorde is?  Die landlied en die landvlag van deurmekaar volke kan gelukkig nie die volkslied en die volksvlag van die Afrikanervolk vervang nie. Die sogenaamde nuwe vlag is aanvaar sonder raadpleging met die Afrikanervolk.