VOLKSREGERING (74)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

KRAG  VAN  DENKE

Die krag van menslike denke lê in die daad. Om diepsinnig te dink en niks te doen nie, is om koersloos te wees. Die krag van die siel laat ons voortgaan om op elke terrein van die lewe te ontwikkel. Die belangrikste voordeel is dat besielingskrag staatkundige vryheid meebring  –  groei tot volkeenheid  –  en dit is onuitputlik.

'n Volk wat koersloos is, wat slegs van dag tot dag lewe, kom nêrens. Daar is nie 'n begeerte om op ander terreine soos landbou, nywerhede, onderwys, geneeskunde en wetenskap te ontwikkel en skeppend te wees nie. Hoe sal ons nageslag ons oor 50 of 60 jaar beoordeel as hulle soos Israel as slawe van Egipte behandel word?  Dit is besig om te gebeur.

 

Hoe sal hulle ons beoordeel as ons soos in Moses se tyd nou, al is dit vir 40 jaar alleen in die woestyn, vir ons nageslag veg sodat hulle in vrede, voorspoedig en onafhanklik in hulle eie land woon?  Sal hulle op ons roem soos ons vandag die Voortrekkers roem, asook ons later voorouers wat 'n vrye republiek aan ons besorg het?

Volkeenheid beteken veel meer as bloot die erkenning van elkander se regte. Dit veronderstel ook die bestaan van bande met 'n bindende krag sterker as die skeidende wat daar mag wees. Gehegtheid en getrouheid lê ongedwonge beslag op ons. Dit vorm dan ook vanself die grondslag van iets groters en diepers, 'n innerlike vergeesteliking, wat ons koersvas hou.

Twee beginsels staan soos twee torings uit: Iemand wat in die Bybel glo as Godswoord, moet noodwendig apartheid onderskryf. Hierdie twee geloofsbeginsels is onlosmaaklik van mekaar na die voorbeeld van Christus oor die grootste gebod in die wet en gelykstaande hiermee naasteliefde wat onlosmaaklik is. (Mat 22:36 – 39). Iemand wat apartheid misken, verloën sonder twyfel God se woord wat apartheid betref soos in die Bybel uiteengesit.  

Wat ons nou moet doen is 'n hewige stryd vir selfregering. Ons het sprekers, skrywers, digters en sangers nodig wat ons eie en ons volk se dade kan besing om ons trots op ons eie dade te beklemtoon. Om die mooie in ons volk se hedendaagse lewe en vaderlandliefde te huldig. Ook gerig op ons oogmerke wat ons Afrikanerharte wil bereik.

Ons mense strewe aldeur na vrede, veiligheid, selfbeskikking, ontwikkeling en verkondiging van die evangelie. Die staat word gesien as 'n lewende werktuig waardeur regverdige uiting aan die staatkundige behoeftes en die wil van 'n volk gegee kan word.

Op die oomblik is daar 'n groot groep volkgenote wat onopsigtelik agter die gordyn stewig bou aan die fondament van ons volk. Ons is bouers, nie afbrekers of hensoppers of oorlopers nie. Daarom is dit verraad om na die anderkant oor te loop en steun en stem aan hulle te gee. Hulle is nie ons mense nie. Hierdie werklikheid wil ons hoor en lees. Ons kan van ons volk, klein in getalle, 'n groot volk maak.

Kom sprekers, skrywers, digters en sangers, help asseblief bou.

                                           TROU

                    Ek hou van 'n man wat sy man kan staan,

                    ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan,

                    'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk

                    en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan!

                    Jan  F  E  Cilliers