Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebed is nie ’n towerformule wat jou hemeltoe vat nie. Jy word nie gered omdat jy bid nie, maar omdat jy bewustelik van sonde weggedraai het en lewenslank aanhou wegdraai. Ons moet onophoudelik bly glo en gedurig tot “bekering” kom. Dis wat heiligmaking is - een saligmakende bekering en daarna daaglikse bekering.
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (31)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Julle is heeltemal reg, hoor. Maar julle weet nie die helfte nie.”
Na Maya se skoot is dit doodstil in die berg. Die sonbesies en selfs die voëls is tjoepstil.
Sonder om haar kop weg te trek, of haar oë van die omgewing onder die berg, praat sy. Sag, maar hoorbaar, sonder enige emosie, hoogdrawendheid of drama.
“Die grootkoppe dink ons junior offisiere en onderoffisiere is dom, dat ons nie vir onsself kan dink nie, dat alles maar ongesiens verbygaan by ons, maar al is ons gehoorsaam, is ons nie heeltemal onnosel nie. Ja, ons het onsself verbind tot die beskerming van alle vyande, buitelands en plaaslik, maar soms is die vyand in ons geledere.”
Maya bly lank stil en laat haar gedagtes sweef oor die gebeure die afgelope jare. Sy het haarself uitgeleef om die beste te wees, nie net as soldaat en spesmagtelid nie, maar as skut, veldkundige en operateur. Sy besef dat sy al lankal geweet het dat alles nie kosher is by die eenheid en selfs dwarsoor die hele weermag nie, maar het dikwels haar oë toegemaak daarvoor. Niemand wil weet dat hulle hele wese en ‘n groot stuk van die lewe, deel van ‘n leuen is nie. Veral nie as jy uiteindelik ervaar dat jy ‘n baie spesifieke talent het nie.
“Ek weet van die private leër wat hulle mee besig is. Sowat sestien kilometer van die Krugerhek af, waar die heuwels ‘n vlakte vorm, is daar ‘n opleidingsgebied geskep, waar sowat vier honderd manne opgelei word in overte, maar meerendeels koverte operasies. Ek was al self daar, al was dit bloot toevallig.”
Sy brei nie uit oor die rede of omstandighede van die toevalligheid nie en bly vir ‘n lang minuut stil, waarin sy opnuut die hele omgewing fynkam deur die teleskoop. Tevrede dat daar nie dringende gevaar is nie, gaan sy voort, asof sy bloot asem geskep het.
“Ek was meer as een maal die lyfwag van ons bevelvoerder as hy met van die regering se grootkoppe vergadering hou. Ek kon nie altyd die gesprekke volg nie, want hulle het dikwels in Zulu, Xhosa of Tshivenda gepraat. Ek kan egter ‘n klein bietjie Zulu verstaan en kon in daardie dele van die gesprekke agterkom dat hulle erg bekommerd was oor wat gaan gebeur as hulle die verkiesing verloor, of selfs in koalisie moet gaan. Waar sulke vergaderings altyd in ‘n gepartytjiery na die tyd ontaard, was hierdie nogal somber, met water op die tafels en nie whisky nie. Na sulke vergaderings was daar gewoonlik baie aktiwiteit in die basis self. Van my makkers het net ewe skielik verdwyn en as ek daarna uitgevra het, was daar twee reaksies; òf hulle het bedank, òf is verplaas na ‘n ander eenheid, maar ek het besef dis nie altyd waar nie.”
Skeer kyk op van sy geweer af na haar en sy kan sien hy wil meer weet.
“Toe ek toevallig by die opleidingsgebied gekom het – dit was gedurende ‘n verkenning, toe ons skote ver in die Ooste gehoor en van ons opsgebied daarheen beweeg en die plek gesien het. Ek het vir Jack Mouton daar gesien. Majoor Mouton. Hy is’n spesialis in TEIN-Stedelik. Weet jy wat dit is?”
“Ja, in die polisie het ons van TIN gepraat. Teeninsurgensie, stedelik?”
“Netso. Wag… daar is beweging daar onder na die linkerkant.”
Skeer beweeg sy geweer se loop in daardie rigting, dat hy ook deur die teleskoop kan sien waarvan sy praat. Hy druk die veiligheidsknip van die dikloop Heym vorentoe en trek sy asem in om sy borsbeweging te stabiliseer. ‘n Groot bobbejaanmannetjie kom uitgeloop, gaan sit op ‘n hoërige rots en kyk die omgewing uit, terwyl hy onder sy arms krap. Na ‘n halfminuut verskyn die wyfies en kleintjies. Skeer blaas sy asem uit.
“Nou-ja, ek het nooit van Jack Mouton gehou nie. Hy was ‘n groot, aantreklike man, met ‘n welige snor, swart hare en fris gebou. Lank en groot, maar met ‘n spesiale, harde manier van loop, asof hy oral die main-hond is. Ek het gehoor hy het bedank, omdat hy en die baas nie kon klaarkom nie. As dit nie vir sy manier van loop was nie, sou ek hom nie herken het nie. Groot ding egter, hy het ‘n lang, breë, staal en sink saal, amper soos ‘n vliegtuig-hanger, oopgemaak. Terwyl hy en ander dopgehou het, het hulle ‘n klomp mense in groepe van vyftig of so laat uitkom, om vir ‘n halfuur in die son te sit en eet en dan weer ingejaag en die deur gesluit as die laaste groep terug is.”
“Nuwe rekrute?”
“Natuurlik nie! Elke man of vrou, soos ek, moes eers deur ander opleiding kom, voordat jy kon kwalifiseer om eers behoorlik naby die eenheid te kom. Nee, net voordat ons wou afstaan, het daar ses busse gekom, met tralies voor die ruite. Hulle het buitelandse nommerplate gehad, miskien Mosambiek of Malawi, ek weet nie. Hulle het die siwwies van die hanger in die busse gelaai en teruggegaan vanwaar hulle gekom het. Nou hoor hierdie: net voor die laaste bus gery het, het ‘n Mercedes vier-by-vier aangkom en ‘n Arabier, met kleed en kopdoek en al, het by die HK ingegaan. Toe hy uitkom, het hy nie meer sy aktetas by hom gehad nie.”
Die bobbejaanmannetjie gee ‘n benoude “boggem!” en skarrel van die klip af, waar hy gesit het, met die res van die trop wat rasend en lawaaierig padgee, asof daar ‘n luiperd in die omgewing is. Drie gekamoefleerde manne verskyn in die oopte en loop versigtig, wapens gereed. Skeer se wapen knal ‘n oomblik voor Maya s’n en dan ‘n dowwe, veraf een, wat eggo tussen die klowe.
“Mooi skoot, Skeer.”
“En die ander een?”
“Arno, julle pel. Kom ons hoop hulle weet nie waar hy lê nie.”
*
Generaal Petros Mbejane het geen lojaliteite nie, behalwe teenoor homself en sy loopbaan, wat natuurlik onlosmaaklik aan sy persoon gekoppel is. Hy besef ook dat die mense wat hom aangestel het, ook geen simpatie vir hom het nie, nie simpatie, lojaliteit of enigiets in dervoege nie.
Hoe hoër jy beweeg, hoe meer is jy op jou eie en net soos hy ter enige tyd enigeen van sy juniors onder die bus sal gooi ter wille van sy eie loopbaan, so sal dit met hom ook gebeur. Hy het lankal besef dat ‘n lid net met een hand kan werk want met die ander een moet jy besig wees om jou agterent te cover. Daarom het hy twee van sy direkte juniors al opgestel om enige verantwoordelikheid te neem, vir enige skeefloop van enige operasie of situasie.
Wanneer die berig deurkom dat etlike van sy operateurs in die berg deur vyandelike vuur omgekom het, is hy klaar besig om ontslagbriewe te dikteer van kolonel Joep Joubert en luitenant-kolonel Raj Ajoob. Hulle is mos in elk geval in bevel van die operasie.
*
Ten spyte van die eggo’s van die weerklanke van die berg, die bosse wat die knal demp, die klowe wat gehoor van die spoor af gooi, het een van die spesmagtelede wel gesien waar die loop van Arno se geweer vir ‘n paar sekondes bokant die rots verskyn en die effense blits teen die donker van die agtergrond.
Met die baie dekking wat die bosse en klippe, rotse en bome bied, sluip vier van die manne in ‘n wye links-om beweging na waar hulle nou weet hy moet wees, tensy hy van skuiling versit, wat hulle nie glo gebeur het nie. Vinnig, rats en terreinvaardig beweeg die manne, sonder om gesien te word. Hulle gebruik harde oppervlaktes waar moontlik, vermy droë takke en bros blare, oop stukke grond en hoë plekke waar een van hulle ’n silhoeët kan vorm.
Tog weet Arno hulle kom. Miskien instink, of ‘n geluid, dalk ‘n beweging in sy onderbewuste geregistreer, dit maak nie werklik saak nie. Sy enkel is baie seer en geswel, sodanig dat hy sy stewel al uitgetrek het en hy weet hy sal dit nie weer binnekort kan aantrek nie.
Vanuit ‘n lêposisie draai hy om, totdat hy vanaf waar hy op sy rug lê, op sy boude kom en al sittend beweeg hy met skuiwe daarop en sy heel voet, totdat hy met sy rug teen die effense holte van die stuk krans sit. Hier is hy effens in die skaduwee en die kante van die holte beskerm hom ‘n bietjie van die kante af. Hy het die Mauser op die grond gelos, en sit nou met sy Glock .45 en wag.
Niemand beweeg oor gebroke terrein absoluut geruisloos nie, al is jy hoe goed opgelei en dis eenvoudig waar dat vier manne meer geneig sal wees om ‘n los klip raak te trap, ’n stewel effens teen ‘n skuins rots sal laat gly of om ‘n geweer se metaalgedeeltes of kolf teen ‘n voorwerp te skuur.
So vinnig op mekaar storm die manne die laaste meter vanaf die hoek waar die rots effens uitstulp, dat die agterste man huiwer om sy lang wapen vorentoe te rig. Mens bly mens, al is jy ookal hoe streng en goed opgelei. Elkeen van die vier verwag dat hulle slagoffer nog op sy maag lê en skiet daarheen die oomblik as hulle die outomatiese wapens daarheen kan rig.
Die eerste man het nooit die Winchester Silvertip rondte gesien of gevoel nie. Dit het eenvoudig die boodskappe na sy brein afgeknip as die dik koeël sy medulla oblongata verwoes. Die tweede man kry twee skote na die bors en een na die kop en die derde drie in sy abdomen, onder sy geweer in, wat nou duidelik op Arno gerig is. Hy is nie dood nie, maar instinktief gee hy ‘n tree agtertoe en na die kant, tuimel oor die rots se kant en tref die grond, meters verder, in ‘n dowwe blaps. Die skoot gaan af as hy sy vinger steeds op die sneller hou.
Die laaste een om die rots is gewapen met ‘n Dragunov SVD skerpskuttersgeweer en dit neem hom te lank om die lang loop te swaai. Arno het nou heeltemal platgeval en lê op sy rug, met sy wapen in albei hande voor hom uitgehou en die makker trek sy skoot waar hy gedink het Arno moet wees. Ook hy sterf met die laastes van die veertien rondtes uit die Glock.
Arno ruil vinnig magasyne, beweeg effens kant toe en wag met die wapen op die hoek van die rots gerig. Een van die eerste manne se linkerbeen beweeg effens as hy nog ‘n stuiptrekking ervaar en Arno skiet amper weer na hom, voordat hy sy reaksies onder beheer bring. Hy blaas sy ingehoue asem hoorbaar uit.
Een van die AK-rondtes het die Mauser se kolf verwoes.