Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gewoontes en gebruike kan goed of sleg aangewend word. Moenie dat jou gewoontes en tradisies vir ander 'n struikelblok wees nie maar eerder dien as aanmoediging tot eer van die HERE se heilige Naam.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (16)
083 444 7672)
Die meeste vierwieldryf-voertuie staan bekend as “sportnutsvoertuie”. Oor die algemeen is die goed gebou om ‘n meerdoelige funksie te hê; dis ‘n sedanmotor, ‘n stasiewa en ‘n vier by vier (wat selde gebruik word). Daarby is die suspensies sagter as byvoorbeeld ‘n 1970 Land Rover, Land Cruiser of Chev K20 en natuurlik die 1970’s Nissan Patrol’s wat nie veel meer was as twee baie fris aste, ‘n enjin met enorme wringkrag, ‘n driespoed handratkas en ‘n oordrakas met baie lae laestrekverhoudings, ‘n matlose kajuit en laaibak. Dit het feitlik niks in gemeen met die ou CJ-klas Jeeps van weleer nie, behalwe dat albei vier wiele het. Dis luukses en die nuutstes word verkoop as gevolg van die grootte van die skerm op die paneelbord, of dit Bluetooth, selfoonlaaiers, tru-kameras en Zenon ligte het.
Die bande is breed en sterk genoeg om die vlakker slaggate, wat nou meer algemeen voorkom, te hanteer en het baie beter padhouvermoë as die baie ou kruislaag bande, waarmee die vierwieldrywe van vroeër uitgekom het. Daar is klimaatreguleerders, duur en sterk klankstelsels, en allerlei elektroniese speelgoed om verveelde passasiers mee besig te hou.
Van hefbome om vierwieldryf of vier-laestrek te skakel, vryloopnawe wat meganies ingedraai moet word, is weggedoen en die voertuig besluit self wanneer om die sentrale ewenaar te sluit, watter wiel die meeste traksie het en briek die voertuig teen steil afdraandes. Die beweging van die wiele en die aste word beperk ter wille van padhouvermoë op hoë snelhede. Al hierdie goed beteken weinig in werklike veldry-situasies en absoluut niks in die terrein waarin Paul en sy metgeselle hulle nou begeef nie. Wat nou tel is groot, raserige bande, lae ewenaarverhoudings, wringkrag, lae oordraagkas-verhoudings en skermplate aan die onderkant om dinge soos die enjin, ratkas, brandstoftenks en uitlate te beskerm. En natuurlik bestuursvermoë.
Dis bitterlik koud. Hoe hoër hulle klim, word dit uiteraard nog kouer. Die wolke is swaar en hang dreigend, terwyl die wind deur elke skeur en kloof huil. Net na tienuur begin dit sneeu. Baie van die mense in die konvooi het nog nooit sneeu of kapok, soos dit ook genoem word, beleef nie. Net ‘n paar mense het handskoene saamgebring, want die ander kon nie die sin daarin sien nie. Hoe kon hulle hierdie omstandighede in elk geval voorsien? Van die manne het lang wolkouse oor hulle hande getrek en Paul, Joe en nog ‘n paar het sommer twee paar aan. Alles waaraan jy raak is so koud, dit maak seer. As ‘n mens nog in die kajuit van die voertuig kan bly, waar dit snoesig warm is, is dit gangbaar, maar die roete vereis dat hulle min tyd in die karre kan spandeer. Die Land Cruiser waarin Paul en Hannie ry, het nie eens ‘n dak op nie, en al sou haar pa met die ombouing nog daaraan sou dink om die verwarmer te koppel, sal dit nou geen verskil maak nie.
Die sig is ook beperk, want die wolke hang laag en die sneeu, met hier en daar ‘n mislagie wat oorspoel, maak dat hulle soms minder as vyftig meter ver kan sien. Die Mercedes van Joe se remligte kom aan, hy klim uit en hy loop tot langs Paul en Hannie.
“Ek dink jy moet kom kyk, Paul.”
Hy loop saam met Joe verby die Mercedes.
“Stadig nou dat jy nie val nie!”
Sewe meter voor die voertuig is ‘n steil afgrond. Die harde, granietklippe is bleek en blouering in die slegte lig, maar ver ondertoe, as die mis wegskuif vir ‘n paar sekondes, kan Paul die vloei van ‘n stroompie water sien.
“En dis waar die pad ophou?”
“Ja, tensy ons hier uitklim.”
Joe wys na die skuinste aan hulle linkerkant. Dis nat en glibberig, met ‘n helling van meer as veertig grade.
“Jy is gek, Joe. Ek kan nie eens hande viervoet hier uitklim nie.”
“Het jy ‘n ander voorstel?”
“Ja. Ons kamp hier uit, totdat die mis lig en dit ophou sneeu.”
“Dit kon dalk werk, Paul, maar het jy agter jou gekyk?”
“Wat bedoel jy?”
Joe wys met ‘n uitgestrekte arm in die rigting vanwaar hulle gekom het.
“Kyk mooi, as daardie wolkie wegskuif, wat sien jy?”
Na ‘n kwart minuut kan Paul ver teen die vallei vanwaar hulle gekom het, afkyk. Dis moeilik om die afstand te skat, maar aan die grootte van die mense kan hy dink dis so twee en ‘n half kilometer van hulle af.
“Magtag! Waar kom hulle vandaan?”
“Ons het hulle iewers langs die pad opgetel. Jy moet onthou ons het stadig gery en dis soms vinniger om te loop as om te ry in hierdie terrein.”
Die bende is groot, ongeveer sewentig manne en aan die manier waarop hulle beweeg, lyk dit asof hulle gedissiplineerd en fiks is.
“Kamp is uit. Ons kan hulle inwag en probeer afmaai soos hulle nader kom, maar dis riskant. Sien jy hoe hulle in ‘n stywe groep beweeg? Ek wed jou dis nie net ‘n losserige bende loslopers nie, maar van hulle het definitief weermagopleiding gehad. Jy kan maar weet hulle is gewapen en hulle gaan hulle nie maklik laat afskrik nie. As ons hier bly en dit word donker, wat dink jy sal gebeur?”
“Jy weet baie vir ‘n garage-eienaar van Jakobsput.”
“Ja. Voor ek daar gaan aftree het, was ek ‘n luitenant-kolonel by 7 SAI. Glo my, as ek vir jou sê ons sal moet vlug of veg, of albei.”
Hulle loop na die Mercedes. Joe skakel aan, draai regs, beweeg agteruit, tot teen die Land Cruiser en draai dan skuins op teen die rotse. Die voorwiele se groot BF Goodrich Mud-Terrain bande fluit teen die gladde nattigheid, en dan klim die neus van die voertuig teen die rotse op en dit is sò skuins dat die agterste trekstang se karavaanknop teen die grond druk.
Die voorwiele draai heen en weer soos die bande vastrapplek soek en rook kom onder hulle uit, ten spyte van die nattigheid. Uiteindelik begin die voertuig opklim teen die steilte. Sowat ses meter na boontoe, begin die voorwiele gly teen die nattigheid en die neus begin kant toe gly. Joe draai vervaard links om die gly teen te werk en vir ‘n paar sekondes is dit letterlik ‘n geval van lewe of dood. As hy hier gly, en begin rol, sal hy nie tot stilstand kom voordat hy in die stoompie, meer as ‘n honderd en vyftig meter laer, die water tref nie. Hannie gee onwillekeurig ‘n kort gilletjie en hou dan haar hand voor haar mond, soos sy skrik.
Die voertuig kom weer half reguit, maar dan gaan die remligte aan en Joe klim versigtig uit. Die skuinste maak dat die onderkant van die deur ver bokant die rotse is en hy gly as hy uit is. Sy hande, steeds in die kouse, gryp betyds ‘n skeur in die rotse raak en hy beur met moeite homself half regop, terwyl sy voete op en af gly, soos hy ook vastrap soek.
Versigtig klim hy tot voor die kar, beweeg na die middel van die buffer en maak die koppelaar van die fris Warn 8274 wenas los. Hy is bang om teen die kar te stamp met sy lyf, want enige harde hou kan die voertuig weer aan die gly sit. Met een hand om die kabel en die ander wat soek vir vashouplek, klim hy stadig boontoe en na sy linkerkant, waar hy die kabel om ‘n lae, dik boom vasmaak.
Hy gly op sy boude terug na die voertuig toe en prop die afstandbeheer in. Hy klim met ewe veel moeite terug tot teen die kar, in die bestuurdersitplek, maar sukkel met die deur omdat die helling dit wil toedruk en skakel uiteindelik die enjin aan. Na ‘n paar sekondes, waarin hy wag vir die kabel om styf te trek gee hy effens petrol en terselfdertyd druk hy die afstandbeheer sodat die wen-as die kar teen die skuinste kan uitsleep. Na wat ‘n ewigheid voel, is hy bo, dankbaar dat die wen-as nie oorverhit het nie. Met die kabel losgemaak, draai hy die voertuig om en maak gereed om die Land Cruiser uit te sleep. Die stukkie plato waarop hy staan is nie baie groot nie, maar sal sy doel dien.
“Waar is Paul, Hannie?”
Die volgende oomblik knal ‘n skoot, wat eggo teen die kante van die berg. Paul het die Poena gevat, op ‘n rots geklim waar hy goed kan sien en op die groep manne begin skiet, wat nou minder as vyf honderd meter van hulle af is.
Die manne duik vir die veiligheid wat die rotse en gebroke grond hulle bied, en begin terugskiet, maar Paul het hoëgrond, ‘n behoorlike gaatjiesvisier en helder oë. Sy eerste skoot het die man aan die voorpunt getref en hy hoop dis die leier.
“Hannie, kan jy die Cruiser bestuur?”
Hannie klim sonder om te antwoord agter die stuurwiel in, skakel die enjin aan en draai die neus tot teenaan die skuinste, terwyl Joe die wen-as aan die bosbreker haak.
Paul merk weereens op dat die Land Cruiser baie swaar is.
Terwyl Paul dekvuur verleen, word die Land Cruiser en die Isuzu Frontier teen die skuinste uitgesleep. Die wen-as begin warm word en skakel vir ‘n paar sekondes af.
Paul hoop hy het genoeg ammunisie...