SA TERRORISTE- BEWEGINGS (3)

DIE SAKP, EN UMKHONTO WE SIZWE

Lees reeks by Suid-Afrikaanse Terroristebewegings

Jeanette Koekemoer

Op 'n kongres wat vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 1921 in Kaapstad gehou is, is die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party gestig.

Die doelwit van die SAKP, en dus hul aktiwiteite en bedrywighede, was daarop toegespits om internasionale kommunisme se ideale en doelwitte te bevorder.

'n Omskrywing van kommunisme, soos vervat in die destydse SAP 3.4 lui en verlei soos volg: "Kommunisme is 'n klaslose stelsel wat enige privaatbesit verbied en absolute gelykheid vir die hele gemeenskap daarstel – onder 'n kommunistiese stelsel sal die algemene menslike ontwikkeling gepaard gaan met 'n toename in produktiwiteit weens voortdurende vooruitgang op die gebied van die wetenskap en tegnologie; openbare welvaart sal aan die orde van die dag wees, en die edel beginsel van 'elkeen volgens sy vermoë, aan elkeen volgens sy behoeftes', sal toegepas word. Kommunisme is 'n uiters georganiseerde samelewing waarin die primêre en belangrikste eis wat aan elkeen gestel word, arbeid ter wille van gemeenskaplike welsyn is, 'n noodsaaklikheid wat ook deur almal erken word en waarin die persoonlike vermoëns van elkeen tot die bewerkstelliging van die grootste moontlike mate van volkswelsyn benut sal word."

Volgens verdere beriggewing van die destydse Suid-Afrikaanse Polisie is dit duidelik dat die doelstellings soos uiteengesit 'n hemel op aarde aandui, terwyl die werklikheid inderdaad heeltemal anders daar uitsien. Wat nie in sulke geskrifte genoem is nie, is dat kommuniste leuenaars met valse beloftes is wat slegs tot hul eie voordeel werk en die res van die bevolking in armoede dompel wat onder andere erge misdaad en volksmoord tot gevolg het. In Suid-Afrika het ons na 16 jaar van kommunistiese bewind darem seker al begryp watter ellende kommunisme vir ons land in praktyk beteken het.

'n Feit wat uit die kommunistiese stellinge duidelik word is dat openbare selfregering toegepas word. Rusland, asook elke ander kommunistiese staat, kon nie openbare selfregering toepas nie, juis as gevolg van die feit dat hulle eenpartystate was. Die bevolking kon dus nie hulle voorkeure laat geld nie.

Edgar Hoover, eertydse direkteur van die Federal Bureau of Investigation (FBI) van die VSA, het aangedui dat kommunisme (Marxisme-Leninisme) 'n rewolusionêre, marxistiese ideologie is wat deur die USSR gebruik is in hulle poging om mag te verkry en te verdedig, en sodoende met geweld 'n wêreldwye totalitêre orde daar te stel. Dit is duidelik dat kommunisme nie toegepas word soos dit aan die wêreld voorgehou word nie. Soos reeds genoem wil die kommunisme 'n wêreldwye totalitêre orde skep – die weg om dit te bereik is ook duidelik in hulle suksesvolle poging om al die suidelike Afrikastate onder hul beheer te bring.

Die stryd in Suid-Afrika is uitsluitlik as 'n Swart/Wit-stryd voorgestel om so hulle motiewe te kamoefleer. Hier het die SAKP 'n verenigde front saam met die ANC gevorm in sy poging om die Blanke regering van Suid-Afrika omver te werp, met die uiteinde van 'n baie maklike oorname in 1994 toe FW de Klerk en sy geldmagbende deur leuens en verraad teenoor die Blankes in Suid-Afrika, die land aan die kommuniste persent gegee het onder die voorwendsel dat dit die enigste uitweg was.

Die verbintenis tussen die SAKP en die ANC het destyds baie duidelik geblyk uit 'n toespraak wat op 31 Julie 1981 deur een van die lede van SAKP gemaak is. Selfs die destydse SAP het berig dat die SAKP en die ANC saam hulle eerste eenhede gestig het en gedurende Desember 1961 sabotasie-aanvalle op staatsinstallasies begin uitvoer het.

As gevolg van die opstande van mynwerkers en die opsweping van die arbeidersmag deur veral die SAKP, is die SAKP deur Wet 44 van 1950 verbode verklaar.

Umkhonto We Sizwe (Spies van die Nasie)

Die militêre vleuel van die ANC en SAKP, Umkhonto We Sizwe (UWS), is op 16 Desember 1961 gestig. Hierdie datum is gekies vanweë die historiese belang daarvan vir die Blanke Suid-Afrikaner mbt die Slag van Bloedrivier.

Die Spies van die Nasie, het sy stigting aangekondig met sabotasie-aanslae op verskeie plekke in die Republiek. Die UWS was ook nie net die militêre vleuel van die ANC nie, die SAKP het dit inderdaad beheer.

Die stigting van die UWS was 'n nuwe maneuver en die SAKP het na 'n aanvanklike stilswye oor sy aandeel daarin, in 1971 eers laat blyk dat hy trots is op die rol wat hy gespeel het in die totstandkoming van die UWS.

Die polisie het destyds die take wat die UWS hom ten doel gestel het soos volg uitgelig:

  • om direkte aanvalle, byvoorbeeld sabotasie, op staatsgeboue en strategiese nywerhede te loods;
  • om die swart massa politiekbewus te maak sodat 'n massa-opstand teen die regering kon plaasvind;
  • om militêre en sabotasie-opleiding te verskaf;
  • om deur hierdie optrede die regering te noop om aan die Congress Alliance se eise toe te gee; en
  • indien hierdie aanslae nie suksesvol is nie, sou daar tot volkskaalse guerrilla-oorlog oorgegaan word.

Op die Morogore-konferensie wat in 1969 in Tanzanië gehou is, was toonaangewende ampsdraers van die ANC teenwoordig en wat belangrik is van die Morogore-konferensie is dat daar twee rade (councils) benoem is en die ondergenoemde lede het gedien op beide die rade:

'Revolutionary Council' – OR Tambo – voorsitter; kommunis Joe Matthews – sekretaris; kommunis dr YM Dadoo – ondervoorsitter.

'Presidential Council'  -  dieselfde lede.

Op dié konferensie is besluit dat die interne stryd in intensiteit moet toeneem, dat die eenheid in die organisasie versterk moet word en dat die rol van die eksterne sending versterk moet word. Volgens Oliver Tambo was laasgenoemde funksie uiters belangrik sodat die regte agtergrond vir die ANC se interne werk geskep kon word.

Kommunisme het nog nooit enige plek in die wêreld vryheid gebring nie. Die ANC is egter nie internasionaal as 'n kommunistiese organisasie gesien nie. Dit was, volgens die VVO, sedert 1974 as die "ware verteenwoordiger van die oorweldigende meerderheid mense in Suid-Afrika" beskou en as die "vrymaking van die meerderheid" gepropageer. Dit was, wanneer na die topstruktuur van die ANC gekyk is, as 'n kommunistiese verteenwoordiger vir die ideaal van vryheid vir die sogenaamde onderdruktes en 'agtergeblewenes' voorgehou.

Die lede en leiers van die organisasie was deur die bank uitgewekenes vanuit die Republiek van Suid-Afrika. Hulle opleiding om die ANC-terroriste se vaardighede te verbeter is gedurig deur Joe Slovo en sy meelopers verskerp en verbeter. Hulle het ook opleiding van die PBO ontvang.

Die ANC sowel as die SAKP het gekies om die Republiek deur middel van insurgensie aan te val.  Insurgensie kan onder andere beskryf word as die insypeling van hoogs opgeleide persone in die tegniek van oorlogvoering, sabotasie, sluipmoord en terrorisme, asook in die hantering van plofstowwe, plasing van myne, bomme en ontstekermeganismes, alles met die doel om stedelike terrorisme te pleeg.

Na die 1976-onluste het etlike voorvalle van sabotasie plaasgevind en is wapenopslagplekke in Noord-Natal en Soweto gevind.

Die ANC het die totale opset van ons land, dws, die politieke, ekonomiese en maatskaplike, as teiken gestel. Die hele stelsel is toe uiteindelik in 1994 met kommunisme vervang.

Volgens die rewolusionêre teorie moes daar nie regstreeks 'n kommunistiese rewolusie bewerkstellig word nie (hierdie een se laaste fase wag nog vir ons in die nabye toekoms), maar daar moes eers 'n fase van 'nasionale bevryding' deurgegaan word waarin 'n breë nasionale front geskep word bestaande uit "progressive elements" – waarin liberale persone, die kerklui, studente en werkers, die aanvoorwerk doen. En het dit nie uitstekend geslaag nie!

In Suid-Afrika is daar deurentyd volgens die tweefase-teorie van kommunistiese rewolusie gewerk. As die HERE nie 'n wonderwerk doen om die Blankes in hierdie land te beskerm nie, sal daar volgens die voorbeelde van Viëtnam, Nicaragua en Kuba, ná die laaste fase, die oorblywende, nie-kommunistiese elemente tereggestel, verban of in die gevangenis gegooi word. Selfs die liberaliste wat glo dat hulle 'n plekkie in die laaste kommunistiese vesting gaan kry, sal sonder omhaal geëlimineer word.

Victor Frankl het nadat hy as van die min oorlewendes in die Russiese tronke ná die laaste fase van kommunisme, uitgevra is, gesê dat hy een groot spyt dra wat die verskil sou maak in die lyding en sterwe van sy mense: dat sy volk nie geveg het toe daar nog iets oor was om voor te veg nie, selfs sou dit met stokke en harke wees. Maar hulle het, net soos die Afrikanervolk, oorgegee toe daar nog baie was om voor te baklei.