VOLKSBESINNING – TE LAAT? (2)

Lees reeks by Volksbesinning - Te laat?

Koos Bester

WANTROUE EN VERRAAD

Seker een van dié sake wat in die pad staan van eendragtige optrede deur behoudende Afrikaners, is die wantroue wat heers.

Hierdie wantroue se oorsprong is allermins spontaan, daarvoor het die inligtingsdienste, nie net van die ou en die nuwe Suid-Afrika nie maar ook dié van die buiteland, gesorg. Wat die buiteland betref moet Brittanje (M16) en Amerika (CIA) as die voorste bedrywers van veiligheidsinligting teen die behoudende Afrikaner uitgesonder word.

Opsienbarende  bewegings wat die rondte doen is dat Nelson Mandela al die jare 'n agent van die Britse inligtingsdienste was. Die bewering is deur 'n Britse spioen, Stephan Dorril, in sy boek, M16: Fifty Years Of Special Operations, gemaak.  Nog 'n Britse spioen, Richard Tomlinson, het op die bewerings voortgebou in sy boek, The Big Breach, From Top Secret To Maximum Security.

Daar is ook bewerings wat kort-kort in die ANC en ook by die Tutu-kommissie opgeduik het dat die moord  op die SA Kommuniste Party-hoofsekretaris, Chris Hani, waarvoor mnre Clive Derby Lewis en Janus Walus die doodvonnis opgelê is, deel was van 'n groter internasionale sameswering. Dit is deur die Tutu-kommissie se amnestiekomitee as een van die redes waarom die twee nie amnestie kry nie, aangevoer.

Behoudende Afrikaners se verklaarbare reaksie is dat dié bewerings pure disinformasie is. Maar hoe gemaak om hierdie netelige sake in die reine te bring?

'n Bekende en medewerker aan die studiestuk, 'n Land Vir Die Boerevolk, dr PJ Kotzé, het aan die hand gedoen dat daar 'n soort Neurenburgverhoor sal moet kom om Afrikaner-verraaiers aan die kaak te stel. Hierdie reaksie is tekenend van die diep en verwoestende sweer wat aan die Afrikaner-liggaam sit.

Tot ongeveer met die 1992-referendum was daar 'n mate van voorwaardelike samewerking tussen die KP en die HNP. Daar was selfs belowende tekens dat die twee partye mekaar in verkiesings sou vind.

Toe word die Afrikanervolksfront gestig...

Mnr Jaap Marais het aangevoer dat die gedagte van 'n volksfront by die HNP gekaap is. Dit sou as 'n populêre Afrikanerfront teen die NP en die ANC-alliansie dien. In 1993 is 'n HNP-petisielys rondgestuur waarin aangevoer is dat FW de Kerk geen mandaat het om met die ANC vir 'n nuwe regering te onderhandel nie. Mnr Jaap Marais skryf in sy ontleding van gebeure agter die vorming van die Volksfront getiteld, The Emergence  Of The Generals On The South African Political Front (15 Maart 1994):

Dit was klaarblyk dat die kwessie van eendrag in 'n volksfront om De Klerk te stuit, groot aanklank gevind het en mense tot optrede beweeg het.

Toe dié veldtog teen April 1993 in volle gang was is die eerste vergadering om die Afrikanervolksfront te vorm... deur die VEKOM-groep belê, duidelik daarop bereken om die HNP-veldtog te omseil. Die HNP is genooi na die vergaderingvan 20 April... Maar die HNP het slegs 'n telefoniese kennisgewing ontvang minder as 24 uur voor die vergadering.

Die belangrikheid hiervan het duidelik geword toe  genl Tienie Groenewald 'n onderhoud gehad het met die Johannesburg Sunday Times op 2 Mei. Hy het die kat uit die sak gelaat deur te verklaar die vergadering was die "kulminasie van maandelange opvordering agter die skerms".

Volgens die HNP-leier kon die feit dat genls Groenewald en Viljoen agter die ander "volksfront" gesit het, nie oorbeklemtoon word  nie. Hulle wou die Afrikaners volstrek by onderhandelinge met die ANC betrek.
"Hulle wou 'n sambreel-organisasie vir die totale beheer van die regses hê sodat hulle hul agenda vir die regses kon laat geld," het hy verklaar.

By die vergadering het net die HNP geweier om hom by die Afrikanervolksfront te laat inbind. Die HNP se oogmerk was immers om De Klerk deur Blanke verkiesings te stuit. Genl Viljoen het in 'n brief aan die HNP geskryf Blanke verkiesings is nie gerade nie "omdat dit beteken dat die hele politieke spektrum gedek sou moes word".

Volgens mnr Marais was dit duidelik dat hulle slegs betrokke wou raak by sake soos grondwet-skryf, "wat beteken dat hulle slegs daarin belang gestel het om hulle by die Regering en die ANC/SAKP se onderhandelingstafel aan te sluit."

In 'n bevestiging... van die feit dat hulle De Klerk nie wou beveg en die proses van oorgawe van mag aan die ANC-SAKP nie wou stuit nie, het Groenewald aan die Sunday Times van 2 Mei 1993 verklaar: 'Die generaals is deur die Konserwatiewe Party-politici gevra om 'n alliansie te vorm tussen die strydende regse splintergroepe om 'n toekomstige ANC-regering teen te staan.'

Daaruit lei mnr Marais af dat dit duidelik is dat die generaals (of militêre pensioenarisse soos hy hulle ook genoem het) slegs 'n toekomstige ANC-regering wou teenstaan in plaas van voor die oorgawe van mag, vir De Klerk te stuit.

Vir mnr Marais was dit ook totaal vreemd dat die generaals, in die ligvan die ANC se welslae met massaprotes deur middel van die vakverbond Cosatu, nie wou hê dat Afrikaners ook daarvan gebruik maak nie. Hy maak gewag van die bedanking van prof Johan Schabort uit die AVF weens "volgehoue getuienis dat die AVF/KP-onderhandelaars geheime, linkse en verraderlike toegewings aan die kommuniste maak".

Mnr Marais gaan voort:
Na die onlangse onthulling van die AVF se 'vredesplan' wat in die geheim vir onderhandelings ter tagel gelê is en die grense van die voorgestelde 'volkstaat' toon, het leidende figure in Kaapland uit die AVF bedank omdat die hele Kaapland uit die voorgestelde 'volkstaat' weggelaat is en daar (in die vredesplan) voorgestel word dat Kaapland deel moet wees van die 86 persent van Suid-
Afrika wat die AVF bereid is om aan die ANC af te staan...

Volgens hom het genl Viljoen se plek in die AVF onhoudbaar geraak na genl Viljoen se 'agteraf' registrasie van 'n party (die Vryheidsfront) vir deelname aan die 1994-verkiesing.

Dit was om die oorsteek van die Rubikon voor te spring. Maar anders as keiser Julius is hy ernstig deur die gesaghebbende liggaam (Uitvoerende Raad) berispe. Sy optrede is met 'n oorweldigende 73 teen 20 stemme veroordeel. Nadat hy reeds kort tevore deur 'n AVF-vergadering onhoorbaar gemaak is, was hierdie mosie van wantroue 'n vernietigende terugslag, Dit is duidelik dat hy uiteindelik verwerp is deur diegene wat hy veronderstel was om te lei, ondanks groot pogings deur regeringsgesteunde en linkse media om steun vir hom te verseker ... Viljoen het geweet dat deur binne die AVF voort te gaan, hy op 'n syspoor gestuur sou word... Dit moes hom laat besef het hy moet die AVF verlaat...

Volgens mnr Marais het sekere KP-LV's hul hoop gestel op voortgesette parlementêre salarisse. Ook die Bophuthatswana-inval deur die ANC en kommuniste en die mislukte optrede van die AVF-leiers in 'n gepoogde militêre teenoptrede, het bygedra tot genl Viljoen se bedanking.

Mnr Marias se gevolgtrekking:

Die som van genl Viljoen se betrokkenheid by regse politiek is daarom verwarring, teleurstelling en verdeeldheid – 'n verwikkeling wat die ANC/SAKP besonder goed pas.

Mnr Marais wend hom dan tot gebeure in Portugal en Rhodesië, toe die plotselinge betrokkenheid van generaals op 'n kritieke tydstip, ook gelei het tot kommunistiese oorname. Hy skryf genl Antonio de Spinola was 'n sleutelfiguur in die val van die Portugese bewind en die oorname van Mosambiek en Angola deur die kommuniste.

En in die voormalige Rhodesië was genl Peter Walls die mens waarop Wit Rhodesiërs hul hoop gestel het om die kommuniste van 'n politieke oorname te weerhou. Toe die oomblik van waarheid egter aanbreek het genl Walls stilgesit.