Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense doop graag hulle kindertjies maar verstaan nie altyd waarom die doop gaan nie. Jesus het sy dissipels opdrag gegee om bekeerlinge in die Naam van van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop. Ouers wat nie in die Drie-Eenheid van God glo nie maar hulle kinders ten doop bring maak 'n bespotting van hierdie verbondsteken van Christus.
ALLE GESAG KOM VAN GOD
In Mark.12:17 beveel Christus ons om aan die keiser te gee wat hom toekom. En as hy sy perk oorskrei? Dan moet jy hom teenstaan! Sulke teenstand staan in die teken van gehoorsaamheid aan God! ... ‘n Regering wat wetsgehoorsames benadeel en boosdoeners bevoordeel, het geen bestaansreg en verdien derhalwe ook geen agting nie.
Ons is burgers van aardse state. As landsburgers eis God sekere gedrag van ons. Hy eis dat ons aan die staat gehoorsaam sal wees omdat dit in beginsel sy gesag van God verkry. Hoe weet ons dit? Omdat daar geen ander mag in die heelal behalwe dié van God is en derhalwe geen magsbeoefening buite God kan wees nie. Staatsgesag kom dus van God self.
Die vraag is: Moet ‘n Christen hom onder alle omstandighede aan die gesag van die regering van die dag onderwerp? Moet die Boerevolk bv.die ANC-regering sondermeer as komende van God aanvaar en blindelings gehoorsaam? Sal dit in die oë van God verkeerd wees indien ek die regering teenstaan en veroordeel? Wat sê die Woord van God - mag ek of mag ek nie?
Hieroor is daar geen duideliker Skrifwoord as Rom.13:1-7 nie. Hierdie Skrifgedeelte is nie net vir die gelowiges in Rome nie, maar ook vir dié van alle tye en onder alle omstandighede geskryf. Die gelowiges in Rome het bv onder ‘n ondraaglike tirannie geleef waar jy jou lewe nie elke dag seker was nie. Rom.13:1-7 het deur die eeue ‘n beslissende rol in gelowiges se besinning oor die gesag van die owerheid gespeel. Kom luister daarna.
“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want julle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom”.
Tydens die Hervorming van die 16de eeu het Martin Luther die gelowiges van sy tyd telkens gewaarsku om nie teen die staatsgesag in opstand te kom nie. Hy het dit destyds veral teen die rewolusionêre neigings en onverantwoordelike optrede van die Wederdopers gehad. Dit was ‘n sekte wat geen aardse owerheid erken en hulle gevolglik nie verplig gevoel het om enige staatswette te gehoorsaam nie. Hulle het hulself as God se ambassadeurs op aarde geag wat aan geen aardse wet gebind was nie. Terwyl hulle voorgegee het om die Bybelse wette te gehoorsaam, het hulle eintlik ‘n groot verleentheid vir die Christelike kerk van destyds geword.
Die Wederdopers het skynbaar (of moet ‘n mens sê gerieflikheidshalwe?) nagelaat om Rom.13 te lees en die opdrag van die Here toe te pas. Gelowiges mag nooit vergeet dat ‘n owerheid in beginsel ‘n instelling van God is nie. In 1 Pet.2:13 vermaan die apostel die gelowiges in die verstrooiing met die woorde: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here…”.
Luther skryf in sy verklaring van Rom.13 dat hierdie Skrifgedeelte nie van blindelinge gehoorsaamheid aan ‘n aardse owerheid praat nie, maar van ‘n gehoorsaamheid vir sover so ‘n owerheid met God se Woord ooreenstem. As die hoof van ‘n land onreg bedryf en bose wette uitvaardig, mag die gelowige hom nie daarin volg nie. In hierdie verband spel Hand.5:29 vir gelowiges die goue reël uit waar ons lees: “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”.
In Hand 4 kom twee van Jesus se dissipels tydens ‘n Joodse Raadssitting voor ‘n groot keuse te staan of hulle die plaaslike owerheid of God moet gehoorsaam. Vers 19 lui: “Toe antwoord Petrus en Johannes hulle en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik…”
In Dan.3 lees ons van Daniël se drie vriende wat ‘n soortgelyke keuse moes maak. Kragtens ‘n nuwe bevel in Babilonië moes almal soos afgodsdienaars voor Nebukadneser se groot beeld buig om dit te aanbid. Die drie jong gelowiges het kragtens die verbod in die Wet van God en ter wille van hulle vaste geloof in die ware God geweier om die regering van hulle dag gehoorsaam te wees. Dit het hulle in die brandende vuuroond laat beland waaruit die Here hulle wonderbaarlik ongeskonde verlos het.
In Dan.6 beland Daniël selfs in ‘n leeukuil omdat hy geweier het om aan die regering van die dag gehoorsaam te wees. Strydig met die koningsbevel, het Daniël nog steeds tot God bly bid. Ook hy kom ongeskonde daarvan af omdat hy aan God meer gehoorsaam as aan sy regering was. Die verdere kerkgeskiedenis getuig van duisende gelowiges wat ter wille van God die regering van hul dag teengestaan het. Sommige het dit oorleef; ander nie.
Luther verwerp alle vorms van aktiewe weerstand teen owerhede en sê dat God al die nodige middele het om tiranne op sy bepaalde tyd neer te werp. Waar die Here boosdoeners aan die stuur van landsake toelaat, is hulle ‘n instrument in God se hand. God gebruik hulle as ‘n tugroede om sy kinders mee te straf. God straf dus ‘n volk met swak leiers. Daarvan kon oud-Israel getuig! As hulle verkeerd gedoen het, het God ‘n goddelose koning oor hulle laat heers. Agab en Menasse was twee sulke konings.
Aan die ander kant is dit heerlik indien altaar en troon, soos in die dae van koning Dawid en Hiskia aan mekaar verbind is. Waar dit nie gebeur nie, ervaar gelowiges altyd bose teenstand. Vra maar vir die arme Elia wat ter wille van sy lewe selfs die woestyn moes invlug!
In Efes.6 sê Paulus dat gelowiges se stryd teen owerhede en wêreldheersers is. Dis wanneer altaar en troon nie met mekaar verbind is nie en ‘n heerser as ‘n werktuig van Satan optree. Dis dan dat gelowiges groot probleme met owerhede ondervind. Gaan kyk maar net hoe naby Opb.13 nie aan Rom.13 lê nie! Menige staat het al die vyand van God en die onderdrukker van die ware kerk geword!
Rom.13:1 sluit by Rom.12:19 aan wat lui: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here”. Rom.13 verwag nie van my as gelowige om die regering van die dag goedsmoeds te aanvaar nie. Ek durf my egter nie soos die Wederdopers in beginsel daarteen verset nie, maar staatsgesag as komende van God aanvaar en my in beginsel daaraan onderwerp.
Staatsgesag is ‘n goddelike verordening. Dit moet ons weet. Alhoewel dit geen volstrekte gesag het nie, het dit wel afgeleide gesag. God het van sy gesag na die staat afgewentel. Staatsgesag het egter nie onbeperkte gesag nie. Indien ‘n staat onreg pleeg, oorskrei dit sy gesagsperk wat God vir hom gestel het. Hy eis m.a.w meer as waarop hy geregtig is. Dan durf gelowiges so ‘n staat nie gehoorsaam wees nie!
In so ‘n geval word weerstand nie ‘n keuse nie, maar eerder gelowiges se Christelike plig! In Mark.12:17 beveel Christus ons om aan die keiser te gee wat hom toekom. En as hy sy perk oorskrei? Dan moet jy hom teenstaan! Sulke teenstand staan in die teken van gehoorsaamheid aan God!
Die beginsel van staatsgesag kom van God en ‘n verantwoordelike regering tree altyd in oorleg met God se Woord op. Baie staatsoptredes strook glad nie met God se Woord nie, veral nie in Afrika nie. Ons moet egter nooit vergeet dat by God niks onmoontlik is nie. Hy het dan ‘n goddelose staat soos dié van die Romeine onder Konstantyn die Grote in ‘n werktuig in sy hand omgekeer. Hy maak van Saulusse Paulusse! ‘n Regering wat aan die hand van God goeie wet en orde handhaaf, is egter ‘n wonderlike dienskneg van die Here!
In die Bybelse tyd het Jode binne en buite Palestina hulle toenemend teen die plaaslike Romeinse owerheid verset. Dit het tot geweld gelei wat baie lewens gekos het. In Rom.13:1 sê Paulus dat “elke mens” hom aan die owerheid moet onderwerp. Hy praat nie net met Christene nie, maar met almal, Jode inkluis. Dis uiteraard ‘n goue reël vir vreedsame bestaan. Gelowiges moet weet dat God self met slegte regerings sal afreken. Hulle het hul heerskappy van Hom ontvang en Hy sal dit op sy tyd en op sy manier weer van hulle wegneem. Hiervan getuig die ganse geskiedenis van die mensdom!
Rom.13:1 eis geen blindelinge onderwerping aan die owerheid van die dag soos wat baie mense glo nie. Let op die werkwoord onderwerp. Dis dieselfde woord wat in 1 Kor.16:16 gebruik word waar gelowiges versoek word om hulle aan hul geestelike voorgangers te onderwerp – nie blindelings nie, maar uit eerbied vir die Here. Daarom onderwerp ons as Gereformeerdes ons aan die kerklike opsig en tug soos ons tydens belydenisaflegging beloof.
Rom 13:2 waarsku Paulus dat wie staatsgesag minag, aan die pen ry. Let op hoe verskil gelowiges en heidene se siening van wetsgehoorsaamheid. Heidene gehoorsaam staatswette slegs uit vrees. Hulle is bang vir die straf wat op oortreding volg. Gelowiges gehoorsaam staatswette weer uit innerlike oortuiging dat God dit daar gestel het. Rom.1: 5 bevestig dit met die woorde: “…nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete”. Die taak van die owerheid is om die goeie te bevorder en die kwade te straf. Paulus skryf in Rom.12:9: “…verafsku wat sleg is; hang die goeie aan…”
Rom.13:4 sê iets baie belangriks van staatsgesag: “…want Hy dra die swaard nie verniet nie…’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf”. God gee die staat die reg op lewe en dood. Die staat mag die doodstraf op ergerlikes toepas. Swaard beteken in Rom.13 doodmaak. Dit teken die staat se volmag van God om straffend regspraak te beoefen en selfs die uiterste middel tot regshandhawing, nl die doodstraf, toe te pas.
Vers 7 sê dat gelowiges nie net belastings maar ook eerbied aan die staat verskuldig is. Is dit ongekwalifiseerd op alle owerhede van toepassing? Wat van bose owerhede wat die goeie straf en die bose bevorder? Dink maar aan die Romeinse owerhede wat gelowiges ondergronds gedwing, vervolg en selfs wreed om die lewe gebring het. Die vroeë kerkvader, Origenes, skryf dat Rom.13:1-7 in so ‘n geval nie geld nie, maar eerder Hand.5:29.
Die punt wat Paulus in Rom.13 maak, is dat gelowiges staatsgesag onder alle normale omstandighede moet gehoorsaam. Om dit goedsmoeds te verag, is om God teen te gaan. Staatsgesag setel in die eerste plek nie in mense nie, maar in God. Deur doeltreffende staatsgesag bewerk God die goeie vir die mens. Geen staat ontvang van God ‘n groenlig om te maak en te breek soos wat hy wil nie. Sou ‘n regering wette maak wat strydig met God se Woord is, mag gelowiges dit nie gehoorsaam nie. ‘n Afgewentelde gesagsliggaam wat buite sy perke optree, is vir God, die Hoogse Gesagsgewer, ‘n gruwel!
In die vierde deel van sy Institusie skryf Johannes Calvyn dat ‘n owerheid wat weens onwaardige houding, skandalige optrede en gruwelbedrywe nie meer die beeld van dienaar van God vertoon nie, nie langer deur gelowiges as ‘n owerheid erken of geëer durf word nie.
Geen mens wil met vrees vir die owerheid deur die lewe gaan nie. Daarom tree die meeste mense ordelik op. God het in sy algemene genade regerings daargestel om die bose teen te staan en die goeie te beloon. Gaan kyk maar – oral waar mense in vrees vir ‘n betrokke regering leef, het daardie regering sy perk en goddelike magtiging oorskrei. Kommunistiese lande is ‘n goeie voorbeeld hiervan!
Staatsgesag is ‘n gawe van God. Dis vir gelowiges se eie beswil. God seën ‘n regering wat hom vir die beste vir sy burgers beywer. Waar so ‘n regering vir boosdoeners ‘n verskrikking is, is dit vir wetsgehoorsames ‘n vreugde want dit vervul sy goddelike roeping. ‘n Regering wat wetsgehoorsames benadeel en boosdoeners bevoordeel, het geen bestaansreg en verdien derhalwe ook geen agting nie.
Baie regerings is al so vergif met die gif van humanisme dat hulle eerder simpatie vir misdadigers i.p.v vir die slagoffers opwek. Hoe ken mens hulle uit? Baie maklik – dis almal regerings wat met die doodstraf weggedoen het. Die Bybel het vir die staat een baie duidelike voorskrif: Beloon jou wetsgehoorsames en straf jou misdadigers. Die pasifisme wat die teenstanders van die doodstraf voorstaan, kan nooit uit die Woord van God geregverdig word nie!