Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat dit makliker is probeer ons om te vergeet sonder om te vergewe. As jy geestelik volwasse wil wees, bid dat God jou eers sal help om jouself en diegene wat jou te na gekom het, te vergewe. Dan eers sal jy heeltemal kan vergeet.
REGSE VERRAAD (Deel 5)
Opsommend
In die voorafgaande gedeeltes het ons na ‘n breë omskrywing gekyk van die verraad wat in die aanloop tot die onwettige oorgawe van mag in 1994 deur regse leiers gepleeg is. Dit staan bekend as die IDASA-komplot omdat dit deur die Conservative Dialogue Program vanuit IDASA beplan en georkestreer is. Die suksesvolle operasies wat hulle van stapel sou stuur het bewerkstellig dat die leiers van die Volksfront betrek is by geheime samesprekings met die ANC (wat ná die 1994-verkiesing politieke beheer oor ons land sou kry). Daarmee is die Volksfront-ondersteuners verraai deurdat hul leiers die doel waarvoor die Volksfront in die lewe geroep is, versaak het.
Afrikaners gereed om ons land met hul lewe te verdedig
Aan die begin van 1994, met die “eerste demokratiese verkiesing” wat oor net 4 maande sou plaasvind was die lede van die Volksfront gereed om tot gewapende verset oor te gaan ten einde die oordrag van mag te verhoed. Die dreigende geweld wat deur ontstoke volksgenote as laaste uitweg sou uitbreek was inderdaad goed beplan en ingeoefen. Dit is ook in ‘n gesprek tussen genl. Viljoen en die hoof van die Weermag, generaal George Meiring, bevestig – dat op daardie tydstip ‘n geslaagde militêre staatsgreep uitgevoer sou kon word, maar wou Meiring by Viljoen weet: wat doen jy dan die volgende dag? Dit laat mens onwillekeurig dink aan die einste Constand Viljoen se woorde aan mnr. Jaap Marais nadat saamgestem is dat die De Klerk-regering in ‘n algemene verkiesing verslaan sou kon word: maar wat doen jy dan?
Staatsgreep moontlik
Dit sou dus moontlik wees om ‘n staatsgreep uit te voer en daar is ook besef dat die grootse deel van die Suid-Afrikaanse Weermag hulle by die regse magte sou skaar in die uitvoering daarvan – die sukses daarvan was dus gewaarborg. Daar is allerweë besef dat daar op daardie laat stadium geen ander uitweg meer oor was om die kapitulasie van die NP-regering voor ‘n onkapabele ANC-bende te keer nie. Daarvoor is gulde geleenthede tot die omverwerping van die NP-regering deur die demokratiese proses by meer as een geleentheid deur hierdie verraaier-leiers met voorbedagte rade deur hul vingers laat glip.
Nogeens deur die leiers verraai
Ten einde laaste sou hulle die ondersteuners ook in hierdie finale loopvlak, die een van gewapende weerstand, in die steek laat. Die vernuftig-oordenkde planne in diep linkse hole soos IDASA-NP-Nasionale Inligting-Afrikanerbond-kringe was reeds op die tafel geplaas. ‘n Onsinnige, onsuksesvolle militêre ekskursie Bophuthatswana in was die laaste skuif in hul skaakspel om hul volgelinge uit die gewapende opstandsplan te bedrieg.
Die omgekoopte leiers van die Afrikanervolksfront was dus van meet af aan téén die omverwerping van die NP-regering – hetsy deur die demokratiese proses òf deur geweld. Dié leiers moes bloot ‘n soomvrye oorgang van Blank Suid-Afrika na kommunisties-beheerde Swart meerderheid fasiliteer. Hulle was bloot lakeie van die NP-regering.
Met die heengaan van generaal Viljoen berig die Citizen van 3 April 2020 die volgende woorde deur Ramaphosa as huldeblyk aan Viljoen:
“...he would be remembered for influencing conservative movements into abandoning plans for military resistance to the democratic transition.
“General Viljoen’s principal contribution was his success in demobilising conservative resistance to the transition in our country at a critical point in our history.”
Dié huldeblyk is ‘n skreiende erkentenis deur een van die destydse onderhandelaars van die ANC dat hulle die onderhandelaars van die Vryheidsfront ore aangesit het. Die uitkoms wat deur Viljoen se verraderlike optrede verkry is het die ANC se wildste verwagtings oortref.
Dan berig die Britse Intelligensiediens se overte publikasie oor Afrika as volg oor dié verraderlike generaals:
“Significantly, the Freedom Front’s Gen. Constand Viljoen and General Tienie Groenewald, a former intelligence chief have become allies of the new government and are feeding intelligence on the far right to the ‘reconstructed’ DMI [Departement MilitêreInligting]. Africa Confidential has learned it was Gen. Viljoen who passed key intelligence to DMI which led to the arrest of the first two of 33 farrigt-wingers, including key officials of the Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB), in connection with a series of bomb blasts before the election.” Eie nadruk.
Africa Confidential 3 Junie 1994
Die einste mense wat deur hulle gelei en voorberei is vir gewapende optrede in verset tot die weggee en oorgee aan die Swart meerderheid word nie net in die steek gelaat deur hulle te versaaknie, maar word ná die oorname ook deur hulle verraai en aan die vyandige magte uitgelewer!
Valse Selfbeskikking Beloftes
Maar om ‘n verskoning te kon hê om nou skielik te gaan deelneem aan hierdie veelrassige verkiesing –terwyl die volgelinge deurentyd onder die indruk gebring is dat so ‘n verkiesing nooit sou plaasvind nie – selfs as dit dan militêr omvergewerp moes word, was die uitdaging. Maar daarvoor is ook reeds ‘n slinkse plan bekook en nou gereed om onthul te word.
Die regse Afrikaner moes nou oortuig word dat sy heil en enigste oorblywende kans op “Selfbeskikking” in ‘n eie grondgebied gesetel is in ‘n haastig saamgeflansde plan waaraan die Volksfrontleiers onverpoosd gewerk het. Dié plan is in die geheim bekonkel van reeds kort na hul stigting terwyl die ondersteuners deurentyd wysgemaak is dat die AVF die oorgawe-proses sou stuit, selfs al moet daar oorgegaan word tot geweld.
Ware doel van AVF
Moet nie vergeet nie dat, in teenstelling met die leiers se beloftes en ondernemings aan die lede van die Volksfront, die skepping van die Afrikaner Volksfront ‘n breinkind van IDASA was, en dat hulle uitgesproke geheime doel met die Volksfront om soos F van Zyl Slabbert dit in ‘n brief van 14 September 1993 gestel het:
“Top romote and sustain dialogue between the centre right, i.e. Die Afrikaner Volksfront and the ANC. To reduce the potential for violent confrontation;
“To reach some constitutional compromise between the Afrikaner Volksfront and the ANC;
To promote Die Afrikaner Voksfront to support and participate in the forth coming elections”.
(Nadruk toegevoeg)
In die lig van hierdie vooropgestelde (ware) doelstellings is daar toe in geheime sameprekings tussen Volksfrontleiers en ANC-amptenare gewerk aan ‘n constiutional compromise wat die Afrikaner Volksfront sou bring to support and participate in the forth coming elections. Hierdie vergaderings het reeds op gereelde basis plaasgevind vanaf Augustus 1993, in groot geheimhouding.
Memorandum van Ooreenkoms
Reeds in Desember 1993 is toe ‘n memorandum van ooreenkoms bereik. Hierdie Desember-ooreenkoms is uiteindelik, nadat die Vryheidsfront vroeg Maart 1994 deur generaal Viljoen in die lewe geroep is, in ‘n dokument bekend as die Afrikaner-Akkoord opgeneem, en vorm die hoofdeel daarvan. Die geheime samesprekings wat dus al in 1993 deur die generaals, die Landbouleiers (Gous en Bruwer) asook verskeie senior leiers van die KP (Ferdi Hartzenberg, die Mulder-boeties, Tom Langley en ander) met die ANC saamgevat is in die Desember-ooreenkoms, die “Memorandum of Agreement”, het uiteindelik net so as aanhangsel sy neerslag gevind in hierdie dokument, die Afrikaner-Akkoord.
IDASA die triomfantelike wenner!
Die ondertekening van hierdie dokument wat uit verraad teen ons volk ontvang en gebore is, het baie gepas plaasgevind in die kantore van IDASA. Dit was immers die hoogtepunt en groot oorwinningsmoment van die IDASA-komplot en daarom ook heel gepas dat dit daar moes geskied. Om groter smaling aan hul oorwinning toe te voeg is die samesteller van die dokument niemand anders nie as Frederick van Zyl Slabbert – IDASA-stigter wat ook ten nouste gemoeid was met die werksaamhede van die Conservative Dailogue Program wat vanuit IDASA bekonkel is.
Selfde ou verraad nou weer, selfde ou resep word gebruik
Die hartseer en uiterste ironie is dat hierdie selfde dokument nou, 30 jaar ná die grootste verraad teen ons volk, opnuut weer aangebied word as ons volk se enigste hoop op SELFBESKIKKING. Nogeens word “leiers” vanuit die “centre right” aangewend om hierdie foefie opnuut op te dis aan ons volksgenote. En belangstelling daarvoor word deurentyd gewek deur blootstelling daarvan deur Boermedia. Ons volk is destyds platgeslaan deur hierdie mense se lae en gemene vuilspel wat ons ons seggenskap oor ons Godgegewe erfenis ontneem het. Die verslaentheid waartoe dit gelei het was die aanleiding daarvoor dat ons mense selfs dekades lank nie Geloftefeeste bygewoon het nie. As volk was ons in ons eer gekrenk deur die eerlose prysgawe van mag – asof ons ons voorgeslagte se durf en moed verraai het. Maar daardie verraad moet vierkantig op die skouers van die leiers van die NP en hul Volksfront/KP helpers gelê word. Húlle was die rede dat ons politieke mag van ons weggesteel is sonder slag of stoot. Die Afrikaner was bereid om ten bloede toe te veg vir die behoud daarvan. Daarvoor was hy aan die voorberei en sou hy op bevel van sy leiers selfs die hoogste offer bring.
Ons weier om die status quo te aanvaar
Jong Afrikaners vra met reg waarom ons vandag in hierdie toestand verkeer. Hoe is dit moontlik dat ‘n land wat deur ons voorgeslagte uit die woesteny ontworstel is en deur offers van bloed en sweet ontwikkel is tot een van die voorste lande in die wêreld wat nou deur barbare regeer word. Hulle vra na die roem en eer van voorgeslagte wat kaalvoet oor die berge getrek en vir geen gevaar teruggedeins het nie – wat hierdie land getem het en as erfenis ontvang het vir die Afrikanervolk in sy geslagte. Hoe kon ons die politieke beheer oor ons land verloor, dit as’t ware net prysgee in 1994? Daarom is dit noodsaaklik om die gebeure wat hiertoe aanleiding gegee het deeglik te ondersoek en bekend te stel.
Opwellende nasionalisme moet bestuur word
Maar hierdie nuwe opbruising van volksnasionalisme noodsaak opnuut die smee van nuwe verraadsplanne. Hierdie golf van nasionalisme moet weer bestuur word, en moet soos in 1994 só gekanaliseer word dat dit weereens op niks sal uitloop nie.
Kan ons toelaat dat dieselfde verraad vanuit dieselfde kringe en boonop deur middel van dieselfde verraaiersdokument – die Afrikaner-Akoord, weer teen ons volk gepleeg word? Die eindresultaat sal wees om die volk net nog langer onder Nie-Blanke dwingelandy te hou. Hierdie dokument hou vir ons volk geen heil in nie. Om daardie rede kon dit self met “grondwetlike beskerming”, met die instel van ‘n “Volkstaatraad” en met die allerheilige “artikel 235” nie ‘n dooie duit vorder om daardie beloofde Volkstaat tot sover te laat realiseer nie.
In die volgende deel gaan ons die Afrkaner-Akoord breedvoering ontleed. Dis haas tyd dat ons volksgenote weet wat presies daarin staan. Vir enige laerskoolkind wat dit ondersoek sal die onwerkbaarheid daarvan glashelder te siene wees. Ná deeglike ontleding daarvan sal u saamstem dat ons na die Afrikaner-Akkoord meer gepas kan verwys as die Akkoord tot Voortgesette Knegskap van die Afrikaner.
Dít alleen, is wat deur dié nuwe verraad bereik sal word!